Erfenisjuwele 9 – Afrikaanse Hoër Seunskool

03/09/2024
| Deur Alana Bailey
Erfenisjuwele 9 – Afrikaanse Hoër Seunskool

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Een van die belangrikste tye in elke mens se lewe, is ons skooljare. Elke skool het ’n unieke kultuur en met elke jaar se akademiese, kulturele en sportaktiwiteite word die skool, gemeenskap en leerders se geskiedenis aangevul. By vele skole heers ’n oorlewingstryd, met finansiële uitdagings en gebrekkige infrastruktuur. Tog kan elke instelling iets doen om hulle geskiedenis te bewaar en leerders oor generasies heen daarmee te inspireer.

Vandag gesels ons met Dirk Taljard van Afrikaanse Hoër Seunskool (ook bekend as Affies of AHS) in Pretoria oor hoe dié skool hulle lang en roemryke geskiedenis hanteer.

Dirk is ’n voormalige Afrikaansonderwyser, kultuurhoof en skakelbeampte van Affies. Hy is ook ’n medeskrywer van die skool se eeufeespublikasie. Ná sy aftrede aan die einde van 2023 is hy op ’n deeltydse basis betrokke by projekte wat die erfenis van die skool dokumenteer en ten toon stel. Hy vertel meer oor die geskiedenis van dié erfenisbaken en hoe die skool se argitektoniese nalatenskap ’n medeverteller van die verhaal van Afrikaansmediumonderrig in Pretoria is. Ons stel Dirk aan die woord:


Die verhaal van Afrikaanse Hoër Seunskool is ook die verhaal van die versterking van Afrikaneridentiteit, waarin Afrikaans diep ingebed is, van onderwys in die ou Transvaal en van soortgelyke Afrikaansmediumskole waarvan die geskiedenis teen dieselfde agtergrond gegroei het.

Pretoria se eerste Afrikaansmediumhoërskool, Die Afrikaanse Hoërskool, het sy deure op 28 Januarie 1920 met 44 leerlinge in die voormalige woonhuis van genl. Piet Joubert, Visagiestraat 218, geopen.

In 1927 kon dié skool sy eerste doelmatige skoolgebou in Bondstraat betrek. Die groei in leerlingtal het egter tot gevolg gehad dat die skool in 1928 na die groter gebou van die Nederlandse hoërskool in Lynnwoodweg verskuif is. In 1930 is die ruimteprobleem opgelos deur die skool in twee enkelgeslagskole te verdeel. Die Afrikaanse Hoër Meisieskool het die Bondstraat-gebou gekry en die Afrikaanse Hoër Seunskool die Lynnwoodweg-gebou.

Dit spreek vanself dat die Joubert-huis ’n prominente plek in die geskiedenis van Affies het en dat die idee om die huis op een of ander wyse op die huidige terrein te laat herleef, gereeld onder bespreking was. Die droom het, ’n eeu na die stigting van Die Afrikaanse Hoërskool, gestalte gekry met die oprigting van ’n klaskamerkompleks waarvoor die argitek, Engela White, haar inspirasie uit die ontwerpstyl van die Joubert-huis geput het.

Op 28 Mei 2022 is die hoeksteen gelê met dieselfde troffel wat Frank le Roux (die skool se eerste hoof van 1920 tot 1946) in 1945 met die kwarteeufees van die skool gebruik het om die hoeksteen van die booghek voor die skool in te messel. Hierdie hek is ’n bekende landmerk in Pretoria.

Die simmetriese aansig van die Joubert-huis met sy kenmerkende gewels en stoep word in die nuwe klaskamerblok herhaal. Die nuwe gebou huisves sewe lokale op grondvlak en sewe op die eerste vloer.

Die gewels van die Joubert-huis word met soortgelyke gewels met ligdeurlaatbare steenwerk in herinnering geroep. Die lig wat die mure deurlaat, sluit aan by die skoolleuse: “Laat daar lig wees”. Die staalletterwerk op die gewels hou verband met die ontwerp van die banier wat by geleentheid van die skool se kwarteeufees gebruik is, terwyl die diep oordekte stoepe van die Joubert-huis en die tydelike klasse wat agter die gebou opgerig is, ook ’n kenmerk van die nuwe gebou is.

Die stoeppale van die destydse tydelike klasse vind verteenwoordiging in die stutpale van die stoepdak van die nuwe gebou. Affies se hoogste sportspanne word oorwegend in wit geklee en die seuns maak hul verskyning by somerbyeenkomste in hul wit hemde – elkeen met sy eie geesstok. Die wit pale stel dus die hoogste sportspanne en die seuns met hul geesstokke voor.

Die dakbalke van die trapskagte is oop gelaat om te herinner aan die boekenhoutbalk uit die dakwerk van die Joubert-huis. Hierdie balk word in die voorportaal van die Potgietersaal by die skool uitgestal.

Die balk – middel bo.

Besoekers, reüniegroepe, opedaggaste en nuwe leerlinge word jaarliks op ’n terreintoer geneem. Tydens hierdie toere word die geskiedenis van die skool aan die hand van landmerke op die terrein vertel.

In 2023 het die Affie-skakelkantoor Affie-vriende met ’n belangstelling in argitektuur die geleentheid gegee om die skool se argitektoniese erfenis eerstehands te ervaar. In 2025 maak die kantoor weer so.

Tydens die 2023-terreintoer het elke gas aantekeninge oor die skool se argitektoniese geskiedenis ontvang. Drie van die argitekte wat by groot projekte op die terrein betrokke was, was teenwoordig om oor hulle inspirasie te gesels en te verduidelik hoe uitdagings oorkom is. Hulle is Jeremie Malan (oud-Affie), dr. Pieter Mathews en Engela White (’n Affie-ma). Ander bekende argitekte, almal oud-Affies, wie se name by die skool verewig is, is onder andere Alvin Roon, Jimmy Burg, Blackie Swart en Hennie van der Merwe. Dr. Pierre Edwards, hoof van 1992 tot 2018, en oud-Affie prof. Fransjohan Pretorius was ook teenwoordig om vrae oor die kultuurhistoriese agtergrond van bepaalde strukture te beantwoord.

Vir ’n leerling bied opvoeding in ’n milieu soos dié van Affies waardevolle blootstelling aan ons ryk erfenis. Hierdie omgewing kweek ’n sterk verbondenheid met die geskiedenis en kulturele tradisies van die skool en die Afrikanergemeenskap waarin dit ingebed is. Die voortdurende deel van die skool se argitektoniese geskiedenis en die bewaring daarvan, bevestig die waarde van kontinuïteit en gemeenskapsgeheue. Deur hierdie omgewing ervaar die leerling die belang van erfenisbewaring en hoe dit bydra tot die vorming van ’n kollektiewe identiteit wat oor generasies strek.


AfriForum bedank Dirk vir hierdie uiters interessante bydrae wat herinner waarom skole ook belangrike bewaarders van ons kultuurerfenis is en selfs met aspekte soos argitektoniese ontwerpe herinneringe aan die verlede lewend kan hou. Ons wens Dirk en Affies alles wat mooi is toe!

Navrae oor die skool, die erfenis daarvan, of 2025 se toer kan gerig word aan affies@affies.co.za vir die aandag van Dirk Taljard.

Lees ook: Erfenisjuwele 8 – Museum van Honde

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels