Erfenisjuwele 10 – Die Nasionale Vrouemonument

13/09/2024
| Deur Alana Bailey
Erfenisjuwele 10 – Die Nasionale Vrouemonument

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Van al die monumente in die land, is die een wat my persoonlik die meeste aangryp, die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein.

Vandag gesels ons met die voorsitter en ondervoorsitter van die Kommissie van die Nasionale Vrouemonument, onderskeidelik proff. Piet Strauss en Andries Raath. Hulle reageer só op ons vrae:

Alana:   Proff. Piet en Andries, baie dankie vir u deelname aan Erfenisjuwele! Vertel ons asseblief kortliks hoe die monument tot stand gekom het?

Proff:     Die laaste president van die Vrystaatse Republiek, president M.T. Steyn, was die dryfveer agter die Vrouemonument in Bloemfontein. Steyn het na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) met die idee van ’n monument gekom as ’n bewys van Afrikaners se hulde en respek vir die duisende Afrikanervroue en -kinders wat tydens die oorlog in Britse konsentrasiekampe en elders gely en gesterf het. Wat Steyn betref het, wys die monument op die Godgegewe menswees, waardigheid en bydrae van hierdie vroue en kinders – eienskappe wat by ander vroue en kinders ook kan voorkom. Van hom kom die sensitiewe uitdrukking op die monument “aan onze heldinnen en lieve kinderen”. Hierdie woorde het hy ook elders vir dieselfde vroue en kinders gebruik. Die monument met sy naald van 36 meter, het by die onthulling daarvan op 16 Desember 1913 van 26 370 gestorwe vroue en kinders gepraat. Onlangse studies dui egter daarop dat die getal tot soveel as 34 051 was – ’n syfer wat die gemiddelde jaarlikse sterftesyfer van Boervroue en -kinders in die Vrystaat en Transvaal in die jare voor en na die oorlog drasties oorskry.

Die kern van die geloof in die voorsienige God – “Uw wil geschiede” – as die boodskap van die Vrouemonument staan as opskrif van die monument bo die getal sterftes. Die monument probeer nie om die lyding van vrou en kind te verklaar nie, maar dra die belydenis: U wil is goed. God weet beter.

By die onthulling daarvan in 1913 is ’n siek Steyn se toespraak voorgelees. Volgens hom is die Vrouemonument nie opgerig om iemand te pynig of ’n ewige verwyt te wees nie. Dit het gespruit uit die armoede van baie behoeftiges na afloop van die oorlog. Dit is ’n volk se hulde aan sy dierbares … Immers het hierdie vroue en kinders volhard in lyding: ’n Triomferende volharding waardeur hulle geeskrag in ’n oorlogsituasie uitgestraal het.

Alana:   Aan wie behoort die monument tans?

Proff:     Die Vrouemonument is opgerig deur die bydraes van onder meer baie arm Afrikaners. Afrikanervriende uit ander groepe het ook bydraes gelewer. Die projek is geloods deur ’n werkskomitee waarvan president Steyn die voorsitter was. Hierdie komitee het later die Kommissie van die Vrouemonument geword, met die president as die eerste voorsitter. Hierdie kommissie is steeds in beheer van die monument. Die statute daarvan bepaal dat dit met die “behoorlike” bewaring, versorging en beheer van die monument en ander “volksmonumente” op die terrein “belas” word.

Alana:   Vertel ons van die besondere atmosfeer by die monument?

Proff:     By die onthulling daarvan het president Steyn gesê dat die meer as 20 000 aanwesiges “als het ware” by die begrafnis van duisende vroue en kinders staan. Dit is ’n gebruik onder Afrikaners dat jy jou by ’n graf plegtig gedra. Daaruit het die gebruik gegroei dat die binnehof binne die ringmuur van die monument vir geleenthede van ’n plegtige, gewyde aard gereserveer word. Tydens ’n besoek aan hierdie herdenkingsterrein van die dood van duisende vroue en kinders, raak jy vanself ernstig en plegtig, en word jy vervul met eerbied en hulde vir hulle wat herdenk word.

Alana:   Die Vrouemonument en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke is bure, maar met verskillende besture. Verduidelik dit asseblief vir ons lesers?

Proff:     Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke het in 1931 op inisiatief van die Kommissie van die Vrouemonument tot stand gekom. Anders as die monument, val dit egter onder staatsbeheer en is dit afhanklik van staatsbefondsing. Die samewerking is hartlik en die museum is ’n voorbeeld van ’n uitstaande museum in moderne tye.

Alana:   Wat verras mense gewoonlik as hulle die Vrouemonument die eerste keer besoek?

Proff:     Verskillende mense reageer natuurlik verskillend daarop, maar die sprekende sandsteennaald wat teen ’n Vrystaatse agtergrond uitstaan, word bevorder deur die eenvoud en duidelike simboliek van die ontwerp. Om dié rede waak die Kommissie van die Vrouemonument dat niks anders besoekers se totaalblik op die monument benadeel as hulle daar kom nie. Die ontwerp van die terrein kommunikeer die hulde aan die duisende gestorwenes.

Alana:   Bied die kommissie enige spesiale toere of besoeke aan die monument aan?

Proff:     Nee, die kommissie organiseer nie toere na die Vrouemonument nie, maar ontvang graag besoekers. Daarvan is daar baie, ook uit die buiteland.

Alana:   Watter uitdagings beleef die kommissie?

Proff:     Die taak van kommissie soos omskryf in sy statute bly ’n uitdaging. Tog stel die omgee van moderne Afrikaners die kommissie nie teleur nie. Die koste verbonde aan die instandhouding word deur Afrikaners gedra, terwyl dit ’n gewilde besoekpunt vir diegene is wat met die monument en sy boodskap assosieer. Tydens die eeufees in 2013 is meer as die benodigde bedrag van meer as ’n halfmiljoen rand binne enkele weke ingesamel.

Alana:   Hoe kan mense by die monument betrokke raak?

Proff:     Hulle kan vriende van die monument word. ’n Voltooide aansoekvorm kan gestuur word aan die sekretaris van die Nasionale Vrouemonumentkommissie, mnr. Willie Engelbrecht, by willie@habakuk.co.za, of kontak hom by 082 728 1489.

Alana:   Ons wens die kommissie seën met u belangrike taak toe en bedank u vir alles wat u doen om hierdie belangrike baken in ons geskiedenis vir die nageslag te bewaar!

           

 Facebook

www.vrouemonument.org.za

Lees ook: Erfenisjuwele 9 – Afrikaanse Hoër Seunskool

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels