Ons Afrikaanse taalreis in Tokoroa, Nieu-Seeland

18/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Ons Afrikaanse taalreis in Tokoroa, Nieu-Seeland

Deur Berdene Knepscheld

Ons maak seker dat my seuntjie van agt aanhou Afrikaans praat. Dis vir my ongelooflik belangrik dat Afrikaans bly voortleef. Ek onthou hoe ek as eerstejaar- onderwysstudent in ’n Nederlandse klas gesit het en hulle het ons vertel dat Afrikaans net soos Nederlands in Suid-Afrika gaan uitsterf as ons nie keer nie. Net daar het ek besluit: nie terwyl ek dit kan keer nie!

My man was heeltemal Engels toe ek hom ontmoet het, maar ek het hom mooi laat verstaan ek gaan nie met hom Engels praat nie. Hy kan maar praat, ek sal Afrikaans praat. Wel, toe ek weer sien, praat hy ook Afrikaans. By sy werk is drie uit die agt van hulle wat saamwerk Suid-Afrikaners; op ’n stadium was hulle vier.

Toe ons hier kom, het ons in Putaruru gebly en ek was ongelooflik eensaam. Ek het my beskikbaar gestel en gesê “nuwelinge” kan my kontak as hulle enige vrae het, ek help graag. Toe trek ons na die buurdorp, Tokoroa, en ek sê vir my man ek wil nie hê mense moet so eensaam voel soos wat ek was nie. Ja, ons het vriende gehad, maar almal was te ver om mekaar gereeld te kon sien en kuier.

Toe begin ek Saffas in Tokoroa and Putaruru op Facebook. Al meer vrouens wat op pad was hierheen het my gekontak en ons het die groep 4K gestig met die doel om bymekaar te kom.

Die eerste byeenkoms was ’n bietjie vreemd. Ek het hulle geken, maar hulle het mekaar nog nie geken nie. So sit ons vier in my sitkamer en gesels heerlik en eet melktert wat ek gemaak het. Ons het weekliks bymekaargekom – elke keer by iemand anders se huis – om in ons taal te kan kuier en mekaar te ondersteun. Baie vrouens het begin werk, so ons kom nie meer so gereeld in die week bymekaar nie.

Vir my voel dit asof dit God se plan met my was. Hy het ons hierheen gestuur om Suid-Afrikaners bymekaar te bring en ’n veilige hawe te skep vir mense tussen hul ‟eie mense” sodat hulle hulself kan wees.

In April hierdie jaar (2024) het ek weer daardie brandende gevoel om almal in die dorp bymekaar te kry. Ons vriendinne plaas dit op al die groepe: Ons gaan ’n Saffa-piekniek hou by die meer.

Wat ’n sukses! Veertig Suid-Afrikaners daag op. Die kinders speel saam met die mans krieket en ons almal kuier heerlik. So groei 4K ook met nog vrouens wat aansluit. Wat ’n fees!

Tussen vriende word daar vetkoeke, melktert, koeksisters, beskuit, pannekoek, bobotie, biltong, ensovoorts gemaak. Ons gee dit as geskenke en soms verkoop ons ook.

Sonder mekaar sou ons beslis almal so swaar gekry het. Ek sal almal altyd aanmoedig om ’n Facebook-blad te begin en Afrikaans te praat in die winkels; so spoor jy jou eie mense op.

En as my seuntjie met my Engels praat, sê ek natuurlik: “Wat? Ekskuus?” tot hy Afrikaans praat. Met al die Saffas in ons lewens trou hy hopelik nog eendag met ’n Afrikaanse vrou. Ek spot al en sê vir my een vriendin: ‟Maak jy seker Lané kan Afrikaans praat en ordentlike Suid-Afrikaanse kos kook, dan reël ons sommer eendag ’n troue.”

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan vir ons ’n blog skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels