Geloftefees 2026 – beplan betyds

21/04/2026
| Deur Alana Bailey
Geloftefees 2026 – beplan betyds

Deur Alana Bailey

In 2025 is berig dat rekordgetalle mense by Geloftefeeste in die land, maar selfs ook in die buiteland teenwoordig was. Dit dui op ’n groter bewuswording van ons geloof, kultuur en geskiedenis. Hierdie historiese bewussyn moet verwelkom word gesien in die lig van die huidige en nuwe voorgestelde geskiedeniskurrikulums wat nie voorsiening maak daarvoor dat ons kinders veel oor die herkoms van Afrikaners op skool sal leer nie.

AfriForum word gereeld gekontak deur Geloftefeesorganiseerders wat skielik ’n spreker vir die jaar se fees benodig. Soms is dit die gevolg daarvan dat daar eers laat met die beplanning begin is, ander kere is dit omdat die spreker wat sou optree, nie meer beskikbaar is nie. Hoe dit ook al sy, die dilemma van ’n fees sonder spreker kan vir rooi gesigte sorg.

Gewilde sprekers is ongelukkig soms al jare vooruit bespreek, maar selfs wanneer dit die geval is, mag die feeskomitee wat hulle genooi het dalk besluit om nie met die byeenkoms voort te gaan nie en dan raak hulle weer beskikbaar. Ander hou nie daarvan om jare vooruit te beplan nie en verkies om eerder jaarliks gekontak te word.

Johann Dannhauser, die “vader” van die Geloftefeeskalender, het nou met ’n oplossing vorendag gekom om te probeer help dat feeste en sprekers mekaar kan vind.

Sy ouers het in die Heilbron-distrik geboer en Johann het gereeld die Geloftefees by Vegkop saam met hulle bygewoon. Daar het hy diep onder die indruk van die betekenis van die Gelofte van Bloedrivier gekom. In 2009 het hy besluit om ’n lys van Geloftefeeste vir daardie jaar te publiseer. Met navorsing het hy 35 Geloftefeeste met hul basiese besonderhede opgespoor en gelys. Danksy borgskappe van onder meer AfriForum en die FAK het die Geloftefeeskalender die lig gesien – eers op papier, deesdae ook op die webtuiste www.geloftefeeskalender.co.za. Meer as tweehonderd feeste se besonderhede word nou al gelys.

Nadat hy kennis geneem het van die probleem wat organiseerders het om sprekers te vind, het Johann nou met die plan vorendag gekom om ’n opname te doen van diegene wat sukkel om ’n geskikte Geloftefeesspreker vir 2026 te reël. Hy versoek dat die organiseerders wat met hierdie probleem te kampe het, hom voor 31 Mei 2026 per e-pos by gelofte@ditsem.net laat weet daarvan. Hy sal dan probeer om met aanbevelings te help.

Dieselfde geld vir leraars en sprekers wat geroepe voel om ’n boodskap te lewer, maar nog nie genooi is nie. Beide die FAK en DitsemBlits (Johann se nuuskanaal) is besig met die opstel van ’n lys van geskikte en beskikbare Geloftefeessprekers en leraars. Enkele name is reeds hier beskikbaar.

AfriForum doen ’n beroep op feeskomitees en gewillige deelnemers om die projek te ondersteun ten einde te verseker dat Geloftefees 2026 vir soveel mense as moontlik toeganklik en tot seën sal wees.  

Deel op

Nuutste artikels