Stroom op …

11/10/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Stroom op …

Deur Nicolien Louw

Om te immigreer en binne ’n jaar weer terug te wees, is beslis ’n duur lewensles, maar nie een waaroor ons spyt is nie. Ons weet nou meer as ooit wat vir ons belangrik is en waar ons wil wees.

Ek wil graag ons storie deel, maar met dit gesê – hierdie is net ons ervaring. Baie mense voel nie so oor die saak nie en dit is 100% reg. Só is daar ’n plekkie vir ons almal onder die son.

Immigrasie was meer ’n emosionele en persoonlike besluit vir ons, maar die naskok ná 2020 het nie gehelp nie.

In Mei 2023 is ons viertjies met ons nege Pep-sakke in ’n bussie lughawe toe. Dit was die moeilikste dag van my lewe, alles het my daardie dag tussen die oë getref. Ek wou net omdraai, maar het ook geweet dit is iets wat ons nou vir onsself moet doen.

Ons het ná middernag in Nieu-Seeland geland en soos ons in die taxi gery het, het ek om my gekyk en dadelik vir my man gesê: “Hierdie is nie ons nie”. Ek sien ons nie hier nie, maar ek moes oopkop bly, sterk wees vir die kinders en dit ’n kans gee.

Alles was vreemd op die oog. Dit was nie verstommend anders as wat ek myself in my kop wys gemaak het nie en ek het alles heeltyd vergelyk met Suid-Afrika (ek weet ek moes nie, maar nou ja … ons is mens!). Hulle Woolworths is verseker nie ons Woolies nie …). Ek erken 100% dat ek toe nou nie so sterk was soos ander en soos ek gedink het ek is nie. Maar met die onbekende en onsekerheid, het ons die heeltyd die Here se hand gesien. Dalk nie soos ons dit wou hê nie, maar as jy oop is om dit raak te sien besef jy hoe Hy heeltyd “hands-on” is met ons elkeen.

Ek het op Sterling Finance afgekom op Facebook en gesien hulle bied verblyf aan vir Suid-Afrikaners wat inkom. Aniska het vyf nagte vir ons beskikbaar gehad en ons kon betaal toe ons daar was. Hulle sou die sleutels vir ons in die posbus los met ’n bussie om mee rond te ry. Wat? Net so? Sjoe, ons was so dankbaar gewees!

Die eerste week is ’n “blur” so besig was dit. Jy moet gou-gou jou lewe agtermekaar kry met huis, kar, slaapplek, bankrekeninge, belastingnommer en, en …

Die eerste huurplek waarna ons gaan kyk het, was in Beachlands. Almal het gevra hoekom ons Beachlands gekies het en ek weet nou nog nie. Ons kon maklik in ’n verkeerde area op geëindig het. Beachlands het veilig gevoel en rustiger as ander areas nader aan die stad. 

Die plekkie was beskikbaar presies die dag toe ons by Sterling Finance moes uit. Dit was die oulikste Christen-tannie, Tannie Sue, by wie ons gehuur het. Sy was sommer so bietjie van ’n Nieu-Seelandse ouma vir ons. Ons het vir haar al ons Suid-Afrikaanse lekkernye en biltong en beskuit laat proe en sy het weer vir ons koek gebak. En ja, ons het ook op matrasse geslaap op die grond en was baie dankbaar om uiteindelik te kon opgradeer van grondvloer na eerste vloer met ’n bedbasis.

Toe is dit tyd vir skole … Lienka het by ’n skooltjie begin wat na ’n week nie meer gewerk het nie. Die geboue en toerusting by al die skole lyk wonderlik, maar die mense is ’n ander storie. Dis nie warm met omgee soos wat ons in Suid-Afrika gewoond is nie. Lienka was so vreemd en verward. Sy moes Engels leer en vinnig verstaan. Die personeel wat by die skool gewerk het, was net koud, geen gevoel, geen drukkie vir as sy huil nie. My hart het swaar getrek. 

Ek het vir onderhoude gegaan en die een middag toe ek Lienka gaan haal, sien ek haar by die venster snik soos sy huil en niemand troos haar nie. Die ander kulture lyk my is net nie so ingestel nie, ek was stukkend. Ek het haar net daar opgetel en nie weer teruggegaan nie.

Burgert ons seun is ook sy eerste dag in trane skool toe. Dit was regtig nie maklik om jou kind in die vreemde te los nie. Ek het ’n goeie geleentheid by ’n prokureursfirma Buddle Findlay gekry met baie groeipotensiaal (nee, ek het geen ervaring in die lyn nie, maar hulle stel mense aan wat bereid is om te leer en wat kan inpas). Wonderlik, maar ek kon nie begin op die datum wat hulle my daar wou hê nie want Lienka was nog nie reg nie. Dankie tog die maatskappy was bereid om vir my te wag. Ek soek toe verder vir ’n skooltjie waar my hart gemaklik sou wees om haar te los. Ek is moedeloos, niks werk saam met my hart en kop nie.

Die een aand is ons onder by die hawe en Lienka begin speel met ’n maatjie en ek en die ma begin gesels. Sy noem dat sy die volgende week by ’n skooltjie Early Connections begin werk en ek dog dis dalk my laaste opsie om na te gaan kyk. Die oomblik toe ek daar instap, ruik die klassie soos gebakte koekies en dis lekker deurmekaar. Die drie sussies wat die skool besit, druk Lienka en wys haar rond. Dankie Here, ek kan voel die is reg vir Lienka. En dit was, hulle het haar getroos. Dit was ’n moeilike begin veral met die taal verskil, maar na ’n maand het ons aangepas. Realiteit is – dis anders en jy moet dit aanvaar. Dis nie soos Afrikaanse skole nie. Daar is nie dissipline, roetine, struktuur soos by ons nie. Kinders leer deur speel. Weereens dit is ons ervaring en ek sê nie dis vir almal so nie.

Burgert het begin rugby speel by Beachlands Maraetai Rugby Club. Dit was interessant – hulle manier van rugby is anders. Soos Werner sê “hardlooprugby, geen skoppe”. Lekker om te kyk! Met hul eerste wedstryd besef ek en Werner maar hoe nou? Hoe skree ons in Engels? Ons ken geen van die kinders se name soos by die huis nie. Oe nee, dis moeilik en nie lekker nie. Werner het ook in die “die kant, daai kant”-gat getrap teveel keer om te tel want hoe nou, dis hoe ons praat?

Die span het in September deelgeneem aan die New Zealand Junior Rugby Festival – Global Games in Taupo. Al die ouers was baie oulik, maar daar is ’n blok, geselskappe vloei nie, weereens dis net anders …

My en Werner se werksopset het soos dag en nag verskil. Werner was en is buigsaam by sy werk. Hulle was te dankbaar hy is daar en het weggespring en dinge begin uitsorteer. Lekker musiek in die kantoor met ’n klomp mans wat saam werk, maar laster is ’n ding wat hom onder gekry het. Ek het dit weer glad nie by my gehad nie. Jy kon ’n speld hoor val in die mooi kantore, geen musiek, my baas en kollegas sit langs my, maar ons praat nie met mekaar nie. Dis net Teams of e-pos. Ek het wel baie geleer en ’n firma kan papierloos wees – dit was indrukwekkend! Die eerste drie maande het dit vir my gevoel almal praat baie sag, hulle aksent laat my sommer voel ek verstaan nie eers Engels nie, sinne en soveel woorde word afgekort dat ek gereeld moes vra wat dit beteken? Dit was ’n gebrabbel vir my. Almal was wel baie gaaf en het geen druk op my geplaas nie, maar alles bly oppervlakkig. Gesprekke gaan nie sommer verder as een tot twee sinne nie. Hier het ek nog ’n groot les geleer dat jy moet doen waarvoor jy lief is. Ek het al die groeipotensiaal hier gehad en iets heeltemal nuuts gedoen, maar ek het niks daarvan gehou nie. Ek was ongelukkig en ’n 30 minute veerbootrit weg van my kinders. Ek het hard teen my gevoelens baklei, want hoe kan ek so voel? Maar jou hart voel wat jou hart voel.

Ek het asma gekry en ’n draai by Middlemore Ongevalle gemaak. Daar is ’n rede hoekom dit verniet is …  Vir kennisname, Suid-Afrikaanse mediese fondse (al het jy net ’n hospitaalplan) is eersteklas! Ek kla NOOIT weer oor 10 minute se wag by ongevalle in Suid-Afrika nie. Ek het daardie aand sewe ure gewag. Ek het gehuil oor wat ek daar ervaar het. Dit het gebeur na ons vyf maande in Nieu-Seeland was en ek het daar gesit en ’n WhatsApp vir Werner gestuur: “My lief, ek kan nie hierdie doen nie, ek kan NOOIT ons kinders hiernatoe bring nie.” Ongevalle-uitstappies is mos nooit op ’n gemaklike tyd nie. Na sewe ure het Werner my kom haal met die kinders wat slaap in die kar en ek het toe met medikasie van Suid-Afrika myself gedokter.

Ons het gesien Burgert raak al hoe stiller, meer in sy dop gekruip. Hy het een aand op die trappe gesit en begin huil en gesê hy wou niks sê nie want hy’t gesien ons trek swaar, maar hy kan nie meer nie. Hy is baie ongelukkig en “ek behoort nie pappa”. Net daar het ons besluit ons gaan nie hierdie doen nie. Die Here gaan ons help, dis ’n gebedsaak – ons gaan terug. 

Werner is die een wat in vellies in Nieu-Seeland elke dag werk en oor naweke in sy kakiebroeke rondloop. Burgert is ’n Afrikaanse boerseun. Hy soek roetine, struktuur, dissipline, standaarde, waardes, Christenskap, sport – die dinge is nie in al die skole nie. En ons Lienka (wonderwerkdogtertjie) sy verander in ’n Engelse kiwi. Ek het gedink ek sal dit kan hanteer soos alles anders, maar nog ’n les. Ek kon dit nie aanvaar nie. Ek wil nie hê sy moet met my Engels praat nie. Ons wou niesettle” en oorgee wat dit aanbetref nie. Ons het gedink ons bring ons kinders na ’n beter plek toe, maar ons het hulle van ’n baie goeie plek af weggevat.

Ons kultuur en menswees loop toe baie sterker deur ons are. Ek moes dit eers gaan voel op die harde manier.

Ons het nie getrek vir veiligheidsredes nie. Ons is baie dankbaar dat die Here ons tot nou toe beskerm het en dit nie die rede was waarom ons getrek het nie. Ek verstaan en respekteer baie mense se ervaringe is anders.

Ek was wel ’n paar keer banger in Nieu-Seeland as in Suid-Afrika. My eerste week by die werk is ons deur twee brandoefeninge. Daar was ’n skietery in die gebou oorkant myne. Daarna was daar weer ’n insident met twee geestesiek persone op die veerboottoring. In daardie oomblik was ek op pad veerboot toe, toe ’n polisieman my stop en sê ek moet omdraai want daar is iemand bo op die toring en hulle weet nie of hy ’n vuurwapen het of nie. Toe ek opkyk, kyk daai ou af op ons, ek het my yskoud geskrik en was so bang. 

Van die skole naby Beachlands was ingegrendel a.g.v. ’n skieter wat daar rondgeloop het. Net dinge wat ons nie aan gewoond is nie.  

Moontlik as ons jare terug geïmmigreer het voor Burgert skool toe is, sou ons anders aangepas het, maar omdat Burgert weg is in Graad 6 het ons klaar ’n hele laerskoolloopbaan gehad waarmee ons kon vergelyk. Ons het geweet wat hy mis en ons kon nie met ons harte saamleef en dit van hom en Lienka af weghou nie.

Ja, jou finansiële stres is minder daar. Groeipotensiaal is daar veral as jy jou eie ding kan begin, maar elke land het sy uitdagings.

Ek wens wel mens kan in Suid-Afrika op ’n weeklikse basis al jou verantwoordelikhede betaal en salaris ontvang. Dit werk lekker! En ek soek nog ’n plek hier wat koeksisters maak soos Food Culture in Nieu-Seeland.

Maar vir ons Louws – “there’s something missing” – Christenskap wat op ’n daaglikse basis deel is van ons lewe buite die huis, vriendelikheid in winkels, ons son, die weer.

My pa en ma het beplan om Desember te kom kuier. Ons het besluit om hulle in te lig dat ons wil terug sodat hulle vliegkaartjies kon kanselleer as hulle wou, maar hulle het besluit hulle kom en so het ons almal dieselfde dag teruggevlieg. Hulle het gesê hulle kom haal ons en maak seker ons klim op daardie vliegtuig.

Ons het vliegkaartjies bespreek met geen plan vorentoe as net om ons kinders terug te kry waar hul was nie. Twee weke voor ons vlieg, het Werner bedank, sy baas wou dit nie aanvaar nie en het gevra of hulle ’n ander plan kan maak.

Ons was Februarie terug in Suid-Afrika, met dankbare harte, terug by ons mense, familie en die kinders was terug in die skool daardie volgende week.

Nou is dit al September – kan nie glo tyd het so gevlieg nie. Dinge is steeds nie maklik nie, ons begin WEER van voor af en Werner werk steeds vir sy maatskappy in Nieu-Seeland – vier weke hier en vier weke daar. Hy is in konstruksie – projekbestuur/kliëntediens/bestuur van spanne. Dit maak glad nie sin om dit oor ‘n afstand te doen nie, maar hy doen. Ons het wel besluit dis nou die volgende fase om aan te pak. Hy moet terugkom. Hy mis net teveel familietyd.

Nog steeds is ons dankbaar vir die geleenthede en lewenslesse. Al die spesiale mense wat oor ons pad gekom het, die Potgieters wat baie vinnig ’n plek in ons harte gekry het en by wie Werner nog elke keer bly as hy terug is in Nieu-Seeland sodat die alleenheid hom nie vang nie.

Ons is so dankbaar vir die Here se hand deur die hele reis. Dit is ons ervaring wat ek baie vinnig opgesom het.

Ons het nie ’n magdom vriende nie, ons families het ook kleiner geword deur die jare, maar dié wat ons het, loop al ’n lang pad saam met ons. Ons het besef ons wil nie nog kosbare tyd verloor saam met ons mense nie. Ons wil nie die kinders weghou van ouma en oupas wat nog hier is nie. 

Ons het seer en verliese in die tyd ervaar wat jou anders laat dink. Ons het beslis ook nie geld gekies om terug te kom nie. Dit bly ’n gebedsaak – soos die lewe moet wees …

Ons het onsself gekies, maar meer as dit het ons teruggekom Suid-Afrika toe vir ons kinders. 

Deel op

Nuutste artikels