Erfenisjuwele 12 – Die Ou Presidensie Historiese Vereniging

15/10/2024
| Deur Alana Bailey
Erfenisjuwele 12 – Die Ou Presidensie Historiese Vereniging

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Een van die aktiefste groepe vrywilligers, is die Ou Presidensie Historiese Vereniging in Bloemfontein. Lambertus van Rensburg (LBJV) wat sedert 2010 die voorsitter van die vereniging is, vertel ons meer daaroor.

Alana:   Hoe het die Ou Presidensie Historiese Vereniging tot stand gekom, Lambertus?

LBJV:    In 1986 is die Ou Presidensie in Bloemfontein na ’n omvattende restourasieproses heringewy. In Oktober 2000 het ’n groep belanghebbendes vergader met die doel om ’n organisasie te stig wat voortaan ondersteunend tot die Vrystaatse Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning se Afdeling Museumdienste kon optree. Op 30 Januarie 2001 het die organisasie Vriende van die Ou Presidensie gevolglik amptelik tot stand gekom. In 2014 is die naam daarvan na die Ou Presidensie Historiese Vereniging verander omdat die werksaamhede van die groep toe tot meer erfenisbakens in Bloemfontein en die Vrystaat uitgebrei het. Deur die jare is die vereniging se werk om erfenis in Bloemfontein bekend te stel en te bewaar, met verskeie gemeenskapstoekennings beloon.

Alana:   Wat is die doelstellings van die vereniging?

LBJV:    Dit is ’n organisasie sonder winsbejag wat steeds ondersteunend tot die departement optree, wat met verskeie ander kulturele en gemeenskapsorganisasies in Bloemfontein saamwerk en fondse genereer deur agt tot nege toere of gespreksgeleenthede met historiese temas in die stad en omgewing aanbied. Die vernaamste fokus is die bewaring en instandhouding van die Ou Presidensie en ander erfenisbakens in die omgewing, om die publiek daarvan bewus te maak en daaroor in te lig.

Alana:   Aan wie behoort die Ou Presidensie?

LBJV:    Die gebou en terrein is die eiendom van die Departement van Openbare Werke. Dit word deur die Departement Sport, Kuns en Kultuur (afdeling Museumdienste) in die Vrystaat hanteer, soos nege ander museums en monument in die Vrystaat.

Alana:   Wat kan die publiek te wagte wees wanneer hulle die Ou Presidensie besoek?

LBJV:    Die museum is so ver moontlik gerestoureer om te lyk soos wat dit van 1888 tot 1898 tydens die ampstermyne van die laaste drie presidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, voor die aanvang van die Anglo-Boereoorlog daar uitgesien het. Die presidente was naamlik J.H. Brand, F.W. Reitz en M.T. Steyn. Die museum vergestalt die glorietyd van dié republiek.

Alana:   Wanneer kan die publiek dit besoek?

LBJV:    Toegang op weeksdae is van 08:30 tot 15:30. Toegang is gratis.

Alana:   Waar is die vereniging nog betrokke?

LBJV:    By verskeie ander kultuurorganisasies en historiese gebeure in en om Bloemfontein.

Alana:   Wat is op die vereniging se wenslysie?

LBJV:    Soos menige kultuurorganisasies is ons ook altyd op soek na lede wat betrokke kán en wíl wees, na fondse en ondersteuning van Jan Publiek.

Alana:   As ander gemeenskappe ook by ’n terrein, monument of museum in hulle omgewing betrokke wil raak, wat is julle advies aan hulle?

LBJV:    Ander groepe of enkelinge kan ons enige tyd raadpleeg vir advies oor hoe om by geskiedkundige terreine, monumente of enige gedenkwaardighede betrokke te raak. Dit is belangrik dat hulle kennis oor erfenisbewaringswetgewing moet hê om te verseker dat bewaring en restourasie deur die regte kanale onderneem word. 

Alana:   Indien mense by julle wil aansluit, of meer oor julle historiese toere en gesprekke wil weet, hoe kan hulle kontak maak?

LBJV:    Belangstellendes kan ons per telefoon by 072 418 8665 of e-pos by vanrensburglbj@gmail.com kontak.

Alana:   Baie dankie Lambertus! AfriForum se takke in Bloemfontein is vir die onderhoud van die Ou Presidensie se tuin verantwoordelik en getuig daarvan hoe ’n voorreg dit is om met die vereniging saam te werk. Ons moedig almal in Bloemfontein en omstreke aan om by julle werksaamhede betrokke te raak, en herinner besoekers aan die Rosestad om by die Ou Presidensie besoek af te lê. Voorspoed met al julle werksaamhede!

Lees ook: Erfenisjuwele 11 – Settlers Agrimuseum

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels