Terwyl die storms oor die geskiedenis woed en betogers onlangs nog met spuitverf rondom Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria gedans het, staar dié ou staatshoof in stilte in die verte. Sy klipvoete staan dalk nou (nog) rustig op Kerkplein met sy Boersoldate net neffens hom, maar die pad wat tot op dié plein gelei het, was nie ’n maklike een nie. ’n Mens kan met reg vra: Vanwaar Gehasi?
Die Krugerstandbeeld se verhaal begin in 1895 – slegs enkele jare voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 – toe die Joodse sakeman Sammy Marks in ’n brief aan Paul Kruger te kenne gee dat hy besluit het om £10 000 aan Pretoria te skenk vir die oprigting van ’n marmerbeeld van dié staatshoof. Hiervolgens moes die res van die skenking ten voordele van Pretoria bestee word op ’n wyse wat Kruger sou goeddink. Wat die plek van oprigting sou wees, het Marks gesê, moes Kruger ook besluit.
Volgens Die geskiedenis van die Krugerstandbeeld deur J.H. Breytenbach (in 1954 uitgegee deur die Krugergenootskap) het Kruger op Burgerspark as die geskikte plek vir so ’n standbeeld besluit. Ná oorweging is ook besluit dat ’n koperbeeld meer geskik as ’n marmerbeeld sou wees vir die Transvaalse weersomstandighede, en die jong Anton van Wouw is as beeldhouer vir die projek aangewys.
In 1899 is egter op Marks se aandrang besluit om die beeld op Kerkplein op te rig. Hy was van mening dat die beeld “in het centrum der stad” moes staan waar “ieder bezoeker van onze hoofdstad direct het beeld in het oog krijgen zal”. Dit sou vele jare se soebat kos voordat dit uiteindelik sou gebeur.
Die reusebeeld en sy vier Boerewagte is kort voor die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 voltooi, maar Kruger se aandag was by die naderende oorlog en die oprigting daarvan is uitgestel. Die gegote beelde is uit Europa verskeep, maar moes in die hawe in Delagoabaai (vandag Maputo) lê tot die oorlog tot ’n einde sou kom. Dus is die beeld van die ZAR se staatshoof nooit in die tyd van die ZAR in dié hoofstad opgerig nie.
Met die oorlog in volle swang en Pretoria wat uiteindelik deur die Britte ingeneem is, het Marks se hoop dat die standbeeld ooit opgerig sou word, vervaag. Hy het intussen nog die bergloon vir die beelde in die hawe betaal en toe lord Kitchener tydens die gevegte met die Slag van Donkerhoek Marks se plaas, Swartkoppies, as hoofkwartier inneem en hy reguit versoek is om die vier Boerebeelde aan Kitchener te skenk, het hy ingegee. “Daar lê hulle in Delagoabaai, hulle kos baie geld en bergloon, vat hulle maar weg,” was sy antwoord, het hy later aan die joernalis en historikus Gustav Preller erken.
Kitchener het nie op hom laat wag nie en kort voor lank is die vier Boeresoldate na Brittanje verskeep. Die Krugerbeeld self het egter in die hawe agtergebly. Die Boerebeelde is voor die Woolwich en Sandhurst Militêre Kollege opgerig, maar is ná protes na Chatham se School of Military Engineering verskuif. Kort daarna is dit weer verskuif. Twee van die beelde is aan die skool geskenk, terwyl Kitchener twee na sy privaat landgoed by Broome Park verskuif het. “En so het die bronsbrandwagte, wat bestem was om die figuur van Paul Kruger te bewaak, nou in groot tuine in Engeland – o.a. ook in dié van die Britse opperbevelhebber wat die twee Republieke vernietig het – gepryk,” skryf Breytenbach in sy geskiedenis van die beelde.
Intussen het die Britse regering besluit dat die voetstuk wat voor die oorlog vir die Krugerstandbeeld op kerkplein opgerig is, afgebreek sou word. Die voetstuk is teen 1905 uiteindelik in Prinsepark opgerig.
Ná Paul Kruger se dood het generaal Louis Botha hom daarvoor beywer om tog die Krugerbeeld te laat oprig en hy het Kitchener genader om die beelde van die wagte terug te gee. Kitchener was egter nie daarvoor te vinde nie en het aangevoer dat die beelde nie oorlogsbuit was nie, maar ’n persoonlike geskenk van Marks.
Ook die stadsraad van Pretoria het pogings aangewend om die beeld te laat oprig, maar Marks was slegs bereid om die beeld te gee mits die volledige beeldegroep – Kruger en die vier Boeresoldate – opgerig sou word. Planne is beraam om die ander beelde te laat hergiet, maar die oorspronklike gietvorms was reeds vernietig en om afgietsels van die bestaande bronsbeelde in Engeland te maak, sou minstens £1 760 kos – iets waarvoor die stadsraad nie kans gesien het nie.
Marks het uiteindelik ingestem dat Kruger wel sonder sy vier soldate opgerig kon word en so kry die Krugerstandbeeld die eerste keer op 24 Mei 1913 op Victoriadag, oftewel “Empire Day”, staanplek in Prinsepark in Kruger se geliefde Pretoria. Tydens die inhuldiging het sprekers in toesprake dit duidelik gemaak waar die monument eintlik hoort. Die politikus A.D.W. Wolmarans het byvoorbeeld getuig: “Ek wil die gedagte uitspreek van my hart en my volk dat daar pogings aangewend moet word om die standbeeld te verplaas na die Kerkplein, na die sentrum van die hoofstad, sodat dit die plek kan inneem wat dit toekom.” Hy het voorts ook daarop aangedring dat die ander beelde terugbesorg moes word.
Ten spyte van verskeie pogings om die vier soldate na Suid-Afrika terug te bring, was daar na jare steeds geen sukses nie – totdat generaal Jan Smuts, teen dié tyd eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, aktief by die pogings betrokke geraak het. Danksy Smuts se versoeke is die boodskap dat al vier beelde terugbesorg sal word uiteindelik op 18 Januarie 1921 ontvang. Hoewel die koste vir die vervoer deur die unieregering gedek moes word, het Smuts die aanbod aangegryp en teen 12 September 1921 het die beelde en alle stukke van die monument in Pretoria aangekom.
Weer eens was die plan om Kruger en sy manne op Kerkplein op te rig buite bereik. Teen 1920 het planne ontstaan om ’n oorlogsgedenkteken vir Suid-Afrikaanse soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het op Kerkplein op te rig. Krugerondersteuners het egter steeds gehoop om die Krugerstandbeeld eendag daar op te rig. Om die situasie te ontlont, is besluit om nie aan een van die twee partye gehoor te gee nie. ’n Nuwe terrein vir die oorlogsmonument is by die Uniegebou aangewys en Kruger is ’n staanplek voor die Pretoria-stasie gegee. Kruger is derhalwe geskuif en op die voetstuk van Skotse graniet wat oorspronklik op Kerkplein opgerig is, op die stasieplein laat staan. Kruger is op 10 Oktober 1925 op sy nuwe staanplek onthul – 100 jaar ná die oudpresident se geboorte.
Dit sou nog ’n verdere bykans 30 jaar duur voordat die monument – danksy die werk van onder meer die Krugergenootskap – op sy teenswoordige plek op Kerkplein opgerig sou word. Sammy Marks se droom van 1895 om ’n standbeeld van Paul Kruger op die sentrale bymekaarkomplek van die hoofstad te laat oprig, is uiteindelik nagenoeg 60 jaar later verwesenlik toe die beeld, volledig met sy vier krygers, in 1954 in sy volle bedoelde glorie onthul is.
In die onlangse verlede is weer gegis oor Kruger se staanplek, en dit (net soos die staanplek van ander beelde) bly ’n brandpunt in Suid-Afrika. Terwyl oom Paul met sy gesig na die noorde (in plaas van die oorspronklik beplande ooste) staar, woed ’n nuwe storm in ’n nuwe era om hom heen. Wie weet waar hy en sy wandelende krygers hulle oor 30 jaar van nou af sal bevind.