‘n Bittersoet Desember

08/01/2020
| Deur Wian
Een-van-die-massiewe-wurgvye-op-Moholoholo-Ya-Mati

My geliefde skoonpa is skielik in Julie oorlede. In daardie stadium moes ons nog visums kry om in Suid-Afrika te gaan kuier, dus kon ons nie betyds daar kom om te groet en daar te wees vir die begrafnis nie.

Net voor skoonpa se dood is ons genooi na die Desembertroue van Tobie se oudste suster se jongste dogter – een  van die blommemeisies op ons twee se troue baie jare gelede. Ons sou aanvanklik nie gaan nie, maar omdat ons nie daar kon wees ná skoonpa se dood nie besluit ons om die huweliksuitnodiging te aanvaar. November vlieg ons baie opgewonde Suid-Afrika toe.

My kleinsus en haar twee dogters kom ons op die lughawe haal en ek staan verstom oor hoe Anmari gerek het en ewe skielik ’n “budding” tiener geword het, kleinsus Chriselda het die babavetjies afgeskud en sommer oornag is sy ook nie meer klein nie. Die eerste ding wat ons doen is om by Die Bosvelder in Centurion biltong-steak en sosaties met kaassous te gaan eet, ons drink jenewer en Springbokkies en kuier tot laataand met die Kaapse kelner wat ons met sy pittige Afrikaanse sêgoed vermaak.

Volgende op my lys is my ouers in Hartenbos. Ek reël met ou vriende uit my kinderdae om my op die lughawe op te laai om hulle te verras. Die vreugde om mekaar weer te sien is net altyd onbeskryflik, maar ek dink vir hulle was dit nog méér so omdat hulle dit glad nie verwag het nie. Ons eet by die Spur, met die mees fantastiese uitsig oor die Indiese Oseaan – ek geniet altyd Spur se kaas-schnitzel of hoenderlewers. Die Weskaap se uitgestrekte spierwit strande is die regte plek om lang ente saam met my pa te stap en in die blouste see te swem. Al waai die wind ons deurmekaar, bly ons sit, want ek is weer by die see in Suid-Afrika! Talle koppies koffie, tee, regte boerebeskuit, lag, praat en Boer-soek-’n-Vrou-episodes word ons tyd saam se lekker onthou. Die omgewing rondom Hartenbos word platgery met kar en blou drietroktreintjie deur asemrowende berge, klowe en gesigseinders oor die uitgestrekte see. Ek verkyk my aan Mosselbaai se goed bewaarde horingoue sandsteengeboue, stokou melkbosbome en mooi natuurskoon. Kilogramme biltong word verorber en ek kan nie glo hoe “goedkoop” dit is nie!

Té vinnig breek die groettyd aan! Ek moet in Polokwane by Tobie aansluit en vlieg via O.R. Tambo-lughawe, waar ek my kamermaat-studentevriendin van jare gelede ontmoet. Wéér kuier ons by die Spur om ’n kaas-schnitzel en Créme Soda. Ses ure lank praat ons sonder om ’n oomblik te wonder wat om vir mekaar te sê, want ons moet ’n jaar se gesels inhaal. Die kelnerin moet ook hoor dat ons al vir 27 jaar vriendinne is. Ons lag lekker oor die eerste dag toe ons op universiteit ontmoet het. My destydse kêrel was saam en terwyl my ouers en ek nog papierwerk voltooi, strek hy homself toe gemaklik uit op die bed in my kamer. Op daardie oomblik kom Elize en haar ouers in die kamer in en vind die jong man wat op die bed lê. Hy was ’n regte grapkas en tot haar ouers se groot konsternasie spring hy op en stel homself voor as haar nuwe kamermaat! Van daardie dag af het hulle my soos ’n eie kind in hulle huis behandel, want ek was vele naweke saam met haar huis toe. Dit is vir my lekker om te sien hoe sy vooruitgaan en ’n hoogs suksesvolle besigheidsvrou geword het. Ek verwonder my aan hoe vinnig die tyd gevlieg het … Té gou moet ons groet en ek pak die vlug na Polokwane aan.

My skoonsus en die “bruid” ontmoet my op die lughawe en met die eerste hallo weet ek ons gaan ’n hond uit ’n bos uit kuier. Net voor ons in SA gekom het, het dit begin reën en die mooiste groen bosveldtonele begroet my op die pad na hulle plot. Met mening word daar elke aand gebraai – boerewors, skilpadjies, elandsfilet, pap en sous, my skoonma se atjar en weereens biltong by die kilogramme. My maag dop om toe ons “treetop ziplining” doen in Magoebaskloof, ons koop kleurvolle klere, eet by die Spur en Panarotti’s en drink Zwakala, Zamalek, Zoerdoef en Cane!

Vir ’n naweek lank kuier ons saam met Tobie se universiteitsvriende. Hulle het ook nooit kontak verloor nie en dis heerlik om te sien hoe hulle ná al die jare nog kan lag en gesels asof hulle mekaar net gister gesien het.

Uiteindelik breek die tyd vir die troue aan en ons sit af na Hoedspruit. Die rit daarheen is net onbeskryflik en ek “oee” en “aah” die hele pad. Skoonsus, Skoonma en ek kuier heerlik en ons verlustig ons aan die natuurskoon om ons. Die troue is by Moholoholo Ya Mati gehou. Wat ’n voorreg om tyd saam met ons hartsmense te  kon deurbring by hierdie ongelooflike bestemming. Daar is nie ’n beter plek waaraan ek kan dink om ’n wonderlike vakansie met ons geliefdes in die noorde van Suid-Afrika af te sluit nie. Ons kuier saam met tannies, ooms, niggies en neefs wat ons te lank terug gesien het en ons geniet die saamwees. Ons eet, lag en huil lekker saam. Ek voel so bevoorreg dat ek toegelaat word om deel te wees van die gereedmaak van die bruid en haar gevolg en sommer net die feit dat ek daar kan wees.

Nadat ons heerlik makietie gehou het, is ons terug in Pretoria en ek en my sus probeer so veel as moontlik put uit die laaste paar ure wat ons saam het, voor ons weer moet terug.  Ons is verstom oor al die reën wat sonder ophou val. Die Hennops- en die Apiesriviere oorstroom hulle walle, die aarde is nat.

Ek dink aan die woorde van Laurika Rauch se lied “Die mense wat ek liefhet”.

“Die mense wat ek liefhet groei op my soos mos, hulle is my menskombersie. Hulle vorm ’n liefdeslaag om my.  So marsjeer ek deur die wêreld, gepantser teen die vuur.

Maar dan moet ek weer weggaan van die mense wat op my gegroei het.  Nou sit daar ’n seerplek.  Nou sluip ek weer deur die wêreld.  Die kwesbaarheid self.  Ek met my seerplek wat net nie wil genees nie …”

Deel op

Nuutste artikels