Barend Celliers – een dood, twee keer onskuldig

14/10/2020
| Deur Ilze Nieuwoudt
Barend-Celliers_Beseerde-Boere_illustrasie-scaled

’n Waterverfskildery deur G. Stoper uit ca. 1900 toon die aankoms van ’n groep beseerde Boere tydens die Anglo-Boereoorlog. Kmdt. Barend Celliers is tydens die oorlog vyf keer gewond en in Februarie 1902 deur ’n opslagkoeël getref en gevange geneem. Bron: Wellcome Collection. Attribution 4.0 International (CC BY 4.0)

Aan die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902 is uitvoerige vredesonderhandelinge gevoer. Amnestiebepalings is ooreengekom en vrede is op 31 Mei gesluit. Terwyl sommige verbitterd gelaat is deur die republieke se verlies aan onafhanklikheid, het ander ’n sug van verligting geslaak – want die bittere oorlog het oplaas tot ’n einde gekom. In die fynskrif van die vredesooreenkoms het daar egter ’n swaar lot op drie Boerekrygers gewag. Asst.vk. Salmon van As, kmdt. Barend Celliers en Josef Muller was die enigste krygers om van die amnestiebepalings uitgesluit te word. Die verloop van Celliers se verhaal is uitsonderlik, want een dood het in sy geval twee keer tot onskuldige bevindings gelei.

Die dood van lt. Cecil Boyle

Toe ’n aantal Britte in November 1900 by Dewetsdorp gevange geneem is, is hulle van alle nuttige items gestroop, oftewel “uitgeskut”, en vrygelaat. Een krygsgevangene in dié groep, lt. Cecil Boyle, is apart aangehou en nie vrygelaat nie. Waarom juis Boyle, lid van die nuut gevormde Orange River Colony Police, uitgesonder is, is nie heeltemal duidelik nie, maar dit wil voorkom asof hy deur die Boeremagte as ’n oorlogsmisdadiger beskou is. Verskeie getuienis dui daarop dat Boyle verantwoordelik was vir wrede optrede teenoor vroue en kinders.

In Jaco de Bruin en André Wessels se studie oor die Vrystaatse militêre verhore gedurende die oorlog, word die geval van Celliers en Boyle in fyn besonderhede ondersoek. Ingevolge destydse volkereg moes ’n oorlogvoerende staat na die welstand van sy krygsgevangenes omsien. “Die reg van die een oorlogvoerende staat om die magte van sy opponent te dood, eindig […] met oorgawe, of waar ’n lid van die opponerende magte verwond word en in die hande van die opponerende magte beland,” skryf De Bruin en Wessels. En indien besluit sou word om ’n krygsgevangene tereg te stel, “moes daar goeie gronde bestaan het om hom vir ’n oorlogsmisdaad aan te kla, voor ’n OVS-hof te daag, skuldig te bevind en ter dood te veroordeel”.

Op 2 Januarie 1901 gee asst.hoofkmdt. Philip Botha, ’n ouer broer van genl. Louis Botha, opdrag aan Celliers om Boyle ’n uur uit die Boere se kamp (wat toe op Liebenbergsvlei buite Reitz was) te neem, tereg te stel en te begrawe. Geen bewyse dat ’n verhoor gehou is, kon later gevind word nie. Celliers het blykbaar nie die opdrag bevraagteken nie en die bevel gehoorsaam. Hy het M.J. Smallberger met hom saamgeneem. Later was Smallberger se getuienis die enigste wat gebeure kon bevestig.

Boyle is na ’n plaas sowat 19 km buite Reitz geneem, ingelig dat hy tereggestel sou word en toegelaat om ’n laaste brief te skryf en te bid, waarna hy met ’n Mauser in die rug en ook op ’n kort afstand in die kop geskiet is. Hierna het Celliers en Smallberger Boyle begrawe.

Die nuus van Boyle se teregstelling het in die Boerelaer versprei en ook die ore van kmdt. Philip de Vos van die Kroonstad-kommando bereik. De Vos het die saak by genl. De Wet en pres. M.T. Steyn aangemeld, wat op hul beurt antwoorde van Celliers geëis het.

Celliers word verhoor (en weer verhoor)

Op 3 Julie 1901 is Boyle se teregstelling tydens ’n algemene krygsraadvergadering van die OVS bespreek. Die vergadering het ook as krygshof gedien. Celliers is van moord aangekla, maar hy het aangevoer dat hy die teregstelling in opdrag van Botha uitgevoer het. Daar was bewerings dat Celliers die reg in eie hande geneem het met die teregstelling. Dit kon later nie bepaal word nie aangesien Botha in Maart 1901 dood is. Die krygsraad het Celliers onskuldig bevind aan moord.

In ’n latere skermutseling is Celliers gewond en deur die Britte gevange geneem. In dié tyd het hy Boyle se graf uitgewys. Boyle se liggaam is later in die Kroonstad-begraafplaas herbegrawe.

Die einde van die oorlog het vir Celliers nie die einde van die saak beteken nie, want ingevolge die bepalings van die Vrede van Vereeniging is hy uit die amnestievoorwaardes uitgesluit. Hy is weer in Februarie 1903 op aanklag van moord verhoor aangesien die regter in dié saak, J. Fawkes, bepaal het dat die Boere se krygshof nie bekwaam was om ’n uitspraak in die saak te lewer nie. Genl. J.B.M. Hertzog het Celliers in die saak verdedig. Op 23 Februarie is Celliers egter in die hof van die Oranjerivierkolonie deur ’n jurie weereens onskuldig bevind en vrygelaat.

Ná sy kwytskelding het Celliers weer op sy plaas Stinkhoutboom buite Vredefort gaan woon. Hy was onder meer betrokke by die 1914-rebellie, is in 1920 tot die Vrystaatse Provinsiale Raad verkies en in 1935 as senator in die Unieparlement. Hy is in 1947 oorlede.

Kmdt. Barend Celliers

(Bronne: Smith, R.W. “Amnesty denied: Salmon van As, Barend Celliers and Josef Muller” in Military History Journal 17(1), 2016; De Bruin, J. & Wessels, A. “Militêre verhore in die Oranje-Vrystaat tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902” in Historia 56(2), November 2011.)

 

Deel op

Nuutste artikels