Onthou jy die bende van Kwaggaberg?

04/08/2022
| Deur Ilze Nieuwoudt
trompie

Deur Ilze Nieuwoudt

Die manier waarop die Liedjieboer die woord “Tro-oooo-mpie” so lank uitrek, laat die nostalgie oor die sorgelose dae van die Boksombende opwel en oorborrel nog voordat hy eens by die einde van die woord kan kom. Onwillekeurig dink jy ook aan Blikkies, Dawie, Rooie en natuurlik Boesman die brak. Jy dink aan bendevergaderings in die ou fort en aan skadelose kattekwaad, en dan dink jy weer aan Anton Goosen.

Die beminde en gerespekteerde liedjieskrywer Anton Goosen het die regte snaar getref met sy liedjie “Trompie en die Boksombende”. Min ander vóór of ná hom kon dit doen en juis daarom is dié liedjie, wat vir die Trompie-televisiereeks geskryf is, steeds so gewild onder Suid-Afrikaners.

Trompie die boekeman

Daar was Trompie die onnut, Trompie die dromer, Trompie die sportman en Trompie die sakeman. Hoewel daar nooit Trompie die boekeman was nie, is dit presies waar hierdie liedjie ontstaan het – in die boeke. Dit is hier tussen die bladsye van die skrywer Topsy Smith (skrywersnaam van Matthys Gerhardus Smith) wat Trompie as’t ware in kattekwaad ontvang en gebore is.

Smith, wat ook onder die skuilnaam Bettie Naudé, die skrywer was van die ewe gewilde Saartjie-reeks, het meer as 200 boeke die lig laat sien. Hoewel die ander reekse uit sy pen (soos Die Bosapies van Bergville en Gampietjie) nie dieselfde ereplek in die Afrikaanse boeke-erfenis beklee nie, is Saartjie en Trompie al beskryf as boeke wat “deel van die kollektiewe erfenis van die Afrikaanse leser” is. 

Volgens Maritha Snyman, skrywer vir die boek Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (uitgegee deur Lapa, 2005), is die Trompie-reeks “deel van ’n hele paar geslagte Afrikaanse lesers se beste leesherinneringe”. Sedert die eerste verhaal oor Trompie in 1943 in Die Naweek gepubliseer is, het daar tussen 1950 en 1956 bykans twintig boeke in die gewilde Trompie-reeks gevolg. Hierna is daar is 1974 ’n Trompie-rolprent uitgereik, gebaseer op die eerste Trompie-boek en met André Laubscher in die hoofrol. Teen 1980 maak die sproetgesig seun van Kwaggaberg en die res van die bende hul buiging op Suid-Afrikaanse televisie. Die boeke is intussen in 2007 ook afgestof, effens vernuwe en vir die nuwe generasie Afrikaanse jong mense verpak.

Dit was juis vir die televisiereeks, met Riaan Winter in die hoofrol as Trompie, wat Anton Goosen ingeroep is om die temalied te skryf. In ’n onderhoud wat Goosen in 2001 met Beeld gedoen het, het hy egter erken dat hy, in sy eie woorde, soms “’n hang-up oor Trompie” het. Hy voeg dan wel by dat hy tog dink die liedjie is “orraait”.

Drie treffende Trompie-feite

  • Riaan Winter, die 13-jarige akteur wat die rol van Trompie Toerienin die televisiereeks Trompie gespeel het, is R4 000 vir sy rol in die reeks betaal. Hy het beeste met dié geld gekoop.
  • Die Trompie-rolprent, wat in 1975 vrygestel is, is in 2014 ná ʼn restourasieproses weer bekendgestel.
  • Die televisiereeks is gedurende 1978 en 1979 in Heidelberg, in die toenmalige Transvaal, verfilm. Die Boksombende se tuisdorp Kwaggaberg was egter fiktief.

“Koning, kroonprins en vader”

Daar is op skool vir Anton Goosen gesê dat daar vir hom geen toekoms in musiek is nie. Ná skool studeer hy onderwys. As onderwyser aan St. Stithians College in Johannesburg skryf hy die musiekblyspel Jantjie wat toe deur die skool se leerlinge opgevoer word.

Teen 1976 verlaat hy die onderwys en begin onder die skuilnaam Jantjie Blom by die koerant Beeld as deeltydse resensent werk. In sy eerste onderhoud vir die koerant ontmoet hy ’n onbekende blondekop sangeres van Nigel – Sonja Herholdt – en kort voor lank sing sy haar eerste Goosen-liedjie, “Jantjie”. Dit word nie net een van Herholdt se grootste treffers nie, maar stel Goosen aan die wêreld bekend as ’n uiters talentvolle skrywer. Gedurende sy loopbaan boer hy behoorlik met die treffers – insluitende “Kruidjie-roer-my-nie”, “Boy van die suburbs”, “Brief vir Simone” en natuurlik “Trompie”.

Vir sommige is hy Anton, vir ander die liedjieboer, of selfs Jantjie Blom, maar vir die skrywer Deon Meyer is Anton Goosen “die koning, die kroonprins en die vader van moderne Afrikaanse musiek”.

Bronne:

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels