Skotland, wat vir sy watermonsters, whisky, gholf en eenhorings bekend is, is een van die geheimsinniger lande wat ek nóg besoek het. Die land met sy berge, valleie, dale en mere, alles onder ’n bykans ewige miswolk bedek, is enige (warm geklede) fotograaf se droom. Ek het onlangs op ’n reis na die suide van Skotland self besef waarom meer as 14 miljoen toeriste vanjaar na dié pragtige groen land gestroom het.
Die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park, wat tussen groen woude en mistige heuwels genestel is, is die eerste van sy soort in Skotland en verwelkom tans meer as 4 miljoen besoekers per jaar. Dit is ongeveer 60 myl van Skotland se hoofstad Edinburgh en minder as 35 myl van Glasgow – dus minder as ’n uur se ry vir meer as die helfte van Skotland se inwoners. Dit is daarom ’n baie gewilde vakansiebestemming vir sowel plaaslike as buitelandse besoekers. Die park beslaan meer as 720 vierkante myl en is nie net die gasheer vir toeriste nie, maar ook ’n legio varswatermere, woude en, skynbaar, die wêreld se grootste feebevolking.
Beplan jy om die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park te besoek? Dís wat jy moet weet:
Omhels die wilde en gaan kamp
Hoewel dit regdeur die jaar wettig is om in Skotland “wild te kamp”, word die park deur regulasies gereguleer wat dié tipeMet meer as 20 kampterreine met verskillende geriewe (van elektrisiteitkoppelings tot niks meer as gelykgemaakte staanplekke nie) is daar meer as genoeg kampeeropsies waaruit jy kan kies.
Om die kampeerdery so na aan die natuur as moontlik te hou, het ons op ’n informeler kampbelewenis in die park se nuutste kampterrein op die oewers van Loch Chon besluit. Die kampterrein, wat deur woude omring word, is redelik klein en bied 26 staanplekke slegs vir tente. Uit persoonlike ervaring beveel ek dit baie sterk aan om lank vooruit te bespreek om seker te maak jy kry staanplek 24. Dit bestaan uit ’n klein oopte reg op die meeroewer met ’n eie klein privaat strand – dit bied die beste uitsig oor die meer en omliggende heuwels. Daar is slegs basiese geriewe met komposvormende toilette en vars water, maar geen elektrisiteit, warm water of ablusiegeriewe nie. Die hoogtepunt vir my was stellig toe ek ’n verfrissende natmakertjie in die meer geniet het.
Dit kos slegs £7 per persoon per nag en laat slegs ’n maksimum van drie nagte per besoek toe – dit is dus baie bekostigbaar en bied regte “wilde” kampeerervarings met ’n bietjie gerief ingesluit.
Dra jou stapskoene
Met kort- tot middelmatige en langafstandstaproetes, bergstaptoere of begeleide stapgroepe is doeltreffende stapskoene ’n besliste vereiste. Die park het 24 amptelik gemerkte roetes wat woude en van die asembenewendste uitsigte in Skotland insluit, en waarvan die West Highland Way die bekendste is. Die West Highland Way word deur National Geographic as een van die toptienroetes in die wêreld aangewys en strek oor 96 myl vanaf Glasgow tot Fort William, ook deur die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park.
Pak jou reënjas in
Ja, dit reën baie. Verwag en beplan vir die ergste, want Skotland is berug vir sy slegte weer. Selfs in die somermaande kan jy elke dag of twee reën verwag. Hoe dit ook al sy, die groen woude en heuwels wat deur die mis bedek is, is een van die mooiste goed wat ek nog ooit gesien het. Die mis voeg tot die dramatiese landskap toe; die “slegte” weer bring ’n ander element van geheimsinnigheid aan die reeds pragtige omgewing. As dit die dag reën, ry gerus met die landskaproetes aan, maar maak veral seker dat jy die Three Lochs Forest Drive in die Duke’s Pass neem. Dis net oor 7 myl lank, en dié eenrigtingroete neem jou verby Lochan Reòidhte, Loch Drunkie en Loch Achray – en kos maar £2 per motor! Hou jou oë wyd oop, want dié roete is perfek om herte, woudvoëls en die altyd ontwykende rooi-eekhoring te siene te kry.
Gaan soek ’n paar plaaslike feetjies op
Volgens plaaslike oorlewering huisves Loch Chon en die omliggende beskutte waters ’n watergees. Die kelpie is ’n vormveranderende watergees wat sigself as ’n perd voordoen. Dit kan egter ook menslike vorms aanneem en lok dan hul slagoffers na die waterkant, sleep hulle die dieptes van die poel, rivier of meer in, verslind hulle en gooi dan die reste op die oewer uit. Skrikwekkend, ek weet! Loch Chon is ook bekend vir die wêreld se grootste feetjiebevolking. Ek kan egter nie sê of dit die waarheid is of bloot ’n mite wat deur die toweragtige atmosfeer en asemrowende natuurlike skoonheid van die omgewing geïnspireer is nie.
Ek kan egter bevestig dat, sou dié feetjies hulself in die moderne tyd as muggies voordoen, ek hulle in hul miljoene raakgeloop het. As jy die park in die somer besoek, berei jouself voor met genoeg inseksproei, langmouhemde, langbroeke of beenbedekkings, en ’n kop-en-gesignet. Daar is niks bekorend daaraan om ’n grys sluier oor jou kop te dra nie, maar as jy reeds die helfte van jou bloed aan dié verpestelike klein goedjies afgestaan het, is modieus wees die minste van jou bekommernisse.
Sit stil, wees stil
Hoe dikwels kry jy die kans om absoluut niks te hoor nie? Nie ’n motor, telefoon of die bure se tuimeldroër wat van die ander kant van die muur brom nie. Absoluut niks nie. Hoewel die park baie besig kan raak, is daar altyd ’n stil hoekie weg van die toeriste af. Ek het die stilte veral in die aande oorverdowend gevind as ek in ons klein tentjie op die oewer van die meer lê. Sonder wind is die bome en water tjoepstil, en ná die laaste woudvoël ingekruip het, voel dit of ek straks doof geword het. En dís wat ek van die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park waardeer: Kalmte, ongelooflike skoonheid en stilte is presies wat mens verwag as jy langs die klipperige meeroewer of tussen die geheimsinnige donker bome stap.
Besoek gerus my Instagram-profiel vir nóg foto’s van my reis na die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park. Jy is, soos altyd, welkom om kommentaar daarop te lewer.
Nota: Alle inligting in hierdie artikel is korrek toe dit hier gepubliseer is. Voordat jy die Loch Lomond en Trossachs Nasionale Park besoek, maak gerus ’n draai op hul webtuiste hier vir meer inligting.
Besoek Luzanne se blog hier.
Deel op
Nuutste artikels