ADAM sê koebaai vir nou, maar nie vaarwel nie!

20/08/2019
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Untitled-design-21

Die musiekgroep, ADAM, het oor die laaste dekade diep spore getrap in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers. Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant het aanhangers bederf met ’n hele rits treffers, waaronder Liefde Soldaat, Kasteel, Gebore Om Jou Lief Te Hê, Goud, Hoogtevrees , Sal Oorlog Vir Jou Maak, Sê My, Iets In Die Water en talle ander.

ADAM se energieke optredes, unieke klank en pragtige lirieke het van die begin af aanklank gevind by gehore van alle ouderdomme en vir hulle optredes losgeslaan by van die grootste geleenthede, feeste, skoue en funksies in die land. Die groep het ook verskeie groot musiektoekennings ingepalm en selfs ’n draai op die grootskerm gemaak in die lokettreffer, Pad na jou Hart.

Maar soos die gesegde lui, kom alle goeie ding op ’n stadium tot ’n einde. Dit is met ’n baie swaar hart wat ADAM besluit het om aan die einde van 2019 hierdie suksesvolle hoofstuk van hulle lewens vaarwel te roep. Hulle sal wel nog tot aan die einde van die jaar beskikbaar wees vir optredes, waarna hulle ’n blaaskans gaan neem om vir ’n rukkie op individuele projekte te fokus. Besprekings kan dus nou gemaak word om nog vir oulaas saam met dié trio te kuier.

Hugo Ludik wat een van die stigerslede was, sê: “Die laaste tien jaar saam met ADAM was een ongelooflike reis. Dankie aan almal wat agter-die-skerms gehelp bou het aan hierdie breinkind van my, asook aan elkeen wat ’n CD gekoop of vertoning bygewoon het of op enige ander manier vir ADAM ondersteun het. Julle het bygedra om hierdie droom van my te bewaarheid!”

Reynardt Hugo stap ook al van dag een af die pad saam met ADAM.

“Wat ’n ongelooflike reis was hierdie nie. Amper ’n dekade van iets waarop ek baie trots is. Ons musiek was uit ons harte uit en dit was wonderlik om dit met julle te kon deel. Dankie vir al die lojale ondersteuners deur die jare – sonder julle sou ons sukses nie moontlik gewees het nie. Elke dorpie en elke kliënt, ek sê vir julle baie dankie! Aan my mede-groeplede – dit was ’n eer om saam met julle die verhoog te kon deel. Deur dik en dun het ons saamgestaan, het ons musiek ons nommer een prioriteit gebly en het ons ons liefde vir musiek gedeel. Dankie! ADAM se skip het dalk vir nou gaan stilstaan, maar sal voortbestaan in die harte van elke aanghanger,” sê hy.

“Ek wil baie dankie sê aan elke liewe persoon wat oor die afgelope ses jaar my hart geraak het. Elkeen wat my soos ’n medemens hanteer het, wat my probeer verstaan het en iets gevoel het wanneer ons vir julle gesing het. Julle het my met pragtige herinneringe gelos en my paadjie saam met ADAM ’n onvergeetlike een gemaak. Die tyd het nou gekom vir ons om aan te beweeg, sodat ek my siel en my kunstenaarskap verder kan bevorder. My groot droom is om te bly sing en om alle Suid-Afrikaners bymekaar te bring. Ek sien uit na die pad vorentoe en sal die mooi herinneringe vir altyd koester,” deel Kyle Grant.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels