Boerebande in verre lande 13: Boeregrafte op Sint Helena

19/01/2026
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 13: Boeregrafte op Sint Helena

Deur Alana Bailey

Sint Helena is ’n eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan, sowat 2 700 kilometer vanaf Kaapstad. Tans het dit net minder as 4 000 permanente inwoners. Dit is in 1502 deur Portugese seevaarders ontdek en in 1659 deur Brittanje beset. Tans is dit steeds Britse grondgebied.

Die eiland se afgeleë ligging het daarvan ’n ideale keuse vir die huisvesting van bannelinge en krygsgevangenes gemaak. Die bekendste van hulle is waarskynlik Napoleon Bonaparte, wat ook daar oorlede is, maar Zoeloekoning Dinizulu, 25 Zoeloehoofmanne en ongeveer 6 000 Boerekrygsgevangenes het hulle ook deur die jare op Sint Helena bevind.

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) moes die Britse owerheid sowat 27 000 Boerekrygsgevangenes versorg – ’n taak waarop hulle aanvanklik glad nie voorbereid was nie omdat hulle verwag het dat die stryd van korte duur sou wees. Die oorgawes van genl. Piet Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900 met ongeveer 4 000 burgers en genl. Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom op 30 Julie 1900 met sowat 4 400 manne, het ’n krisis veroorsaak. Dit was duidelik dat al die krygsgevangenes nie plaaslik gehuisves sou kon word nie en dat kampe elders nodig was. Die eerste hiervan was op Sint Helena.

Op 11 April 1900 het die eerste groep van 514 Boerekrygsgevangenes op die eiland aangekom. Die goewerneur, Robert Armitage Sterndale, wou verseker dat hulle met respek behandel word en het dus die volgende proklamasie uitgevaardig:

His Excellency expresses the hope that the population will treat the prisoners-of-war with that courtesy and consideration which should be extended to all men who have fought bravely for what they considered the cause of their country, and will help in repressing any unseemly demonstrations which individuals might exhibit.

Die eerste kamp wat opgerig is, was Deadwood. Dit het bestaan uit 11 rye van 15 tente elk op ’n besonder winderige plato. Elke tent kon 12 manne huisves. Omdat die spasie daarbinne uiters beknop was, is toestemming verleen dat die krygsgevangenes hulle eie hutte kon bou met enige boumateriaal wat hulle in die hande kon kry. So het Blikkiesdorp naas die rye tente tot stand gekom, met skuilings wat onder meer met sakke, bamboes en blikke opgerig is. As gevolg van die oorvol toestande en onenigheid tussen die Transvalers en Vrystaters, is ’n tweede kamp genaamd Broadbottom in ’n nabygeleë vallei opgerig. Ook hier het die krygsgevangenes self hutte opgerig en hulle “buurt” is Lappiesdorp genoem.

Die twee generaals wat gevange geneem is en na Sint Helena gestuur is, is elders geakkommodeer. Generaal Cronjé is deur sy vrou Hester vergesel en hulle het in Kent Cottage tuisgegaan. Generaal Ben Viljoen (wat eers in Februarie 1902 op Sint Helena aangekom het) het in ’n huisie naby Deadwood gebly.

Van die krygsgevangenes was bereid om die eed van getrouheid aan die Britse vorstehuis af te lê – ’n besluit wat hulle ongewild by die res van die krygsgevangenes gemaak het. ’n Derde kamp is dus geskep om hulle te huisves en dit het as “Deadwood Nommer 2”, “Vredeskamp”, “Jamkamp” of “Judaskamp” bekendgestaan – natuurlik afhangend van wie jy gevra het!

Moeilikheidmakers, soos diegene wat probeer ontsnap het, is in Fort High Knoll bo die hoofstad, Jamestown, opgesluit.

Tydens hulle verblyf het van die manne werk gesoek, ’n inkomste met krygsgevangenekuns verdien of selfs besighede insluitend ’n koffiewinkel, brouery en pandjieswinkel bedryf. ’n Afrikaanse koerant, Kamp Kruimels, is mettertyd gepubliseer. Verder is ’n koor, verskeie musiekgroepe, debat- en sportspanne, asook ander sosiale organisasies gestig.

Skynbaar het die besluit dat hulle daar aangehou moet word, die eiland van bankrotskap gered. Die Boere se teenwoordigheid het werksgeleenthede vir die inwoners geskep en op hulle beurt het die krygsgevangenes die plaaslike werksmag met hulle kennis en ywer aangevul. Van hulle het byvoorbeeld heelwat tot die ontwikkeling van infrastruktuur soos paaie bygedra.

Die vredesluiting op 31 Mei 1902 het ’n einde hieraan gebring. Van die manne wat meer welvarend was, kon self vir hulle pasaat terug na Suider-Afrika betaal en het die eiland so gou as moontlik verlaat. Ander moes maande lank op amptelike vervoer terug huiswaarts wag. Die kampe is in Oktober 1902 finaal gesluit.

Al die krygsgevangenes het nie die eiland verlaat nie. Enkeles het met plaaslike inwoners getrou, terwyl 180 daar oorlede en begrawe is. Om ’n laaste rusplek vir hulle te vind, was nie maklik nie. Die plaaslike Anglikaanse Kerk het hulle as vyande van die Britse troon en heidene beskou, en gevolglik geweier dat hulle in die Anglikaanse begraafplaas begrawe word. Die Baptistekerk het egter ingetree en grond by Knollcombes geskenk, waar ’n begraafplaas vir hulle geskep is. Benewens die genommerde grafte, is daar ook twee obeliskvormige monumente opgerig wat in 1913 deur die Suid-Afrikaanse regering na Sint Helena gestuur is. Die name van die gestorwenes kom op een van hierdie gedenktekens voor. Aanvanklik het die Baptistekerk die grafte versorg, maar sedert 1945 word hierdie taak deur die regering van Sint Helena verrig.

AfriForum se Kallie Kriel het die begraafplaas in 2019 besoek. ’n Video wat toe vervaardig is, bevat heelwat meer interessante inligting oor dié hoofstuk in ons geskiedenis. Die dokumentêr se titel is Die Boerekrygsgevangenes van Sint Helena en dit is op AfriForum se gratis kanaal, AfriForumTV, onder die skakel “Aktueel” beskikbaar.

Daar is nog heelwat ander interessante bronne daaroor beskikbaar. Sers. Jack Thorpe is destyds aangewys om genl. Cronjé te begelei en ’n mens kan hier na ’n onderhoud luister wat in later jare met hom gevoer is. Dan is daar ook ’n naamlys van al die krygsgevangenes wat op die eiland aangehou is en van diegene wat daar begrawe is.

Sedert ’n aanloopbaan in 2017 daar in gebruik geneem is, is Sint Helena makliker bereikbaar as toe dit slegs van skeepvaart afhanklik was, maar dit bly een van die mees afgeleë plekke op aarde waar Boerespore lê.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels