Natuurhoekie 79: Sebras in die Krugerwildtuin

26/01/2026
| Deur Alana Bailey
Natuurhoekie 79: Sebras in die Krugerwildtuin

Die onlangse vloede wat ook groot dele van die Krugerwildtuin onder water gelaat het, het groot skade veroorsaak. Ons dink met groot simpatie aan almal wat in die proses skade gelei het.

Die gereelde Wildtuinbesoekers, Katie en André van Two-V Productions (sien hulle YouTube-kanaal en Facebookblad by https://web.facebook.com/OpVlerke) het ook met verstomming die mag van die vloedwater gade geslaan. Dit het weer herinneringe aan besoeke by hulle opgeroep. André deel dus ’n uittreksel wat so ’n besoek beskryf, uit sy Op Vlerke-reeks met ons. Hiermee dus Op vlerke: Noord van die Krapkuildam tot by Shingwedzi se rivierwoude deur André Christof.

Anderkant Olifantsbadpan, op pad na Shingwedzi Ruskamp, is daar ’n gebied wat maar lig bebos is met lae plantegroei, hier en daar ’n groot boom, die struikmopanie tot net ’n paar meter hoog, waar ’n mens ver en wyd kan uitkyk. Die veld maak daar dikwels oop na binne toe.

Heelparty bome met die veelvuldige stamme is kaal, stokkerig, het nog nie nuwe blare aan nie, in teenstelling met die groen tussen die herfskleure van die res, die droë lig-vaalbruin grasse, wuiwend, plek-plek lank en yl op die klipperige grond.

Ons beloer troppies sebras wat ’n hele ent weg in die veld staan, die sterte swaai. Af en toe lig een ’n voorpoot hoog onder die lyf ingetrek, nou en dan skud een sy nek dat die maanhare sommer woes heen en weer gaan. By tye, as steekvlieë te veel pla, draai ’n sebra geïrriteerd sy kop om na sy agterent te kyk, dan stamp hy verwoed met ’n agterpoot op die grond.

Nou buig ’n merrie daar haar kop om met ’n agterpoot teen haar bek te krap, die volgende oomblik beweeg sy haar kop sommer ’n paar maal op en af, toe trek die bolip op dat ’n mens net tande sien, en toé proes sy: pfffff!

Twee sebras stap ’n ent weg, so treetjie vir treetjie rustig langs mekaar, die koppe tot laag oor die grond laat sak, waar hulle ’n groenigheid wat hulle tussen die droë grasse vind, met die lang sensitiewe bolip tussen die lip en onderste snytande bymekaar bring, dit teen die snytande vasdruk, voordat hulle dit met so ’n opwaartse beweging van die kop pluk.

Dit het ook ’n spesiale funksie. Tydens die flehmen-reaksie, waar die sebra sy bolip terugkrul om ’n orgaan bloot te stel, haal dit lug in met die neusgate gesluit, om sodoende reukdeeltjies na ’n spesiale sensoriese orgaan in die verhemelte te lei. Dit help die dier om feromone en ander interessante reuke, of sosiale inligting soos ander sebras of mis in hul omgewing te identifiseer.

’n Vulletjie staan daar aan die skadukant by ’n merrie se agterlyf, loop geduldig saam soos sy wei.

Verder weg, veld in, merk ons ’n paar waterbokke met hul growwe grys tot bruin ruigharige pels en groot prominente ore, al weiende.

Anderkant hulle, so tussen die struike se stamme deur, sien ons ’n buffel wat hangkop op die voorlyf lê, nou en dan flap dit ’n verflenterde oor.

Maar toe gewaar ons ’n moeilike sebra wat met die ore teruggetrek, na ’n ander een draf, onder hom invlie, hom wegkeer, nou druk hulle mekaar met die voorlywe, skud die koppe dat die maanhare sommer woes heen en weer gaan, een se agterpote gly skielik onder hom uit en toe beland hy, so skuinsweg, op die agterent, maar kom binne ’n oogwink met brute krag weer op die pote.

Later hap die moeilike hings die ander een aan die nek, nou draai hulle daar, al vegtende om mekaar dat die stowwe so staan.

In ’n stadium skud die ander sebra sy kop op en af, kantel heen en weer dat sy maanhare soos ’n waaier oopmaak, die volgende oomblik kom hulle met kragtige bewegings regop hoog op die agterpote, klím teen die lug uit, hang met hul koppe in die lug, kap met die hoewe na mekaar, sak af grond toe met die moeilike hings wat nou na die ander een se bene hap, dié val vorentoe tot op sy knieë soos hy keer, daarna galop die twee weer langs mekaar oor die veld, nou sien ’n mens hoe die een die ander aan die nek probeer byt.

Nie lank nie staan en veg hulle weer, skielik draai die een sy agterent na die ander een gekeer, skop met die agterpote verwoed agterop. Die ander sebra kom soos blits regop op die agterpote, hy beur so terug, koes, die kop na die eenkant toe gedraai, nou flits die moeilike sebra se hoewe rakelings weerskante van sy kop verby.

Daarna storm hulle, met ’n gekap van hoewe in wilde jaaggalop langs die ander sebras verby dat die stowwe so staan.

Meteens steek een weer vas, die moeilike hings blitsig gereed, die agterent na die ander een gekeer. Met die voorpote stewig geplant, skop hy sommer ’n paar maal opeenvolgend agterop in ’n verbete poging om die ander een te tref. Dié kom nog regop op die agterpote om uit die pad van die hoewe te beweeg, toe weergalm die slag van hoef teen bors al oor die veld terwyl ’n stofwolk om hulle opstyg: ’n nimmereindigende vertoon van krag, dominansie en die ongetemde gees van die veld.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels