Versterk familiebande oor die kontinente

26/01/2026
| Deur Alana Bailey
Versterk familiebande oor die kontinente

Deur Alana Bailey

Die Kerstyd is verby, so ook kuier in persoon en aanlyn, en die meeste mense se lewens is weer op volle spoed by die skool en werk. As gevolg van immigrasie bevind Afrikaanse oumas en oupas hulle deesdae aan alle kante van die oseane en dikwels is dit ongelukkig nie dieselfde kant as al hulle kinders en kleinkinders nie. Dit beteken soms eensaamheid, verlange en – hierdie tyd van die jaar – dalk selfs ’n gevoel van doelloosheid.

Nou is egter nie die tyd vir selfbejammering nie, maar ’n geleentheid om aan die werk te spring!

In die meer as 35 jaar wat ek met migrante werk, is die een feit wat ek herhaaldelik hoor, dat dit vir die immigrante moeilik is om feestye soos verjaarsdae, Paasfees en Kersfees te vier sonder die teenwoordigheid van ’n uitgebreide familie. ’n Nederlandse vriendin wat as kind saam met haar ouers na Suid-Afrika gekom het, het vertel hoe sleg dit vir haar was dat sy nooit oumas, oupas, tantes, ooms, neefs of niggies by haar verjaarsdagpartytjies gehad het nie.

Spruite wat voortdurend in die geselskap van ouer familielede is, word groot met hierdie soort kuiertye en daarmee saam die vertellings oor die voorgeslagte se avonture, prestasies, skades en skandes. Hierdie verhale is soms vir kinders vervelig, veral as hulle al die tiende keer hoor van daardie dag toenterjare gelede toe ’n bepaalde gebeurtenis afgespeel het. In later jare word dit egter nie net ’n kosbare herinnering aan die vertellers nie, maar soms ook ’n lewensles in volharding.

Om hierdie leemte te oorkom en selfs ’n nouer band met die geliefdes oorsee te vestig, kan diegene wat tyd het, familieverhale begin neerskryf of met klank of beeld opneem as skryf te stadig voel.

Die maklikste is seker om jou eie lewensverhaal te vertel. Waar jy gebore is, skoolgegaan het, jou gunsteling vakke, jou eerste liefde, troeteldier, motor of werk. Herinner hulle en jouself aan die mooiste plekke waar jy al was en die interessante mense wat jy al ontmoet het. As jy meer eerlik wil wees, noem die domste en slimste besluite wat jy ooit geneem het en wat jy daaruit geleer het.

Dit kan selfs soos ’n speletjie aangepak word – ruil feite met die jonger geslag uit. Kies ’n vraag per week soos “Wat is jou gunsteling fliek?” of “Wat is iets wat jy nooit weer wil eet nie?” en nou kan die gesprek verder gaan as ouma en kleinkind van enige ouderdom dalk ontdek beide deel die keuses, of juis nie.

’n Meer gevorderde opsie is om julle familiestamboom te begin opstel. Sommige families is gelukkig en kan boeke raadpleeg soos die reeks, Suid-Afrikaanse geslagsregisters/South African Genealogies onder redaksie van drs. J.A. Heese en R.T.J. Lombard. Ander sal die beskikbare inligting tot by die huidige geslagte moet opdateer, of die speurtog heel van voor af moet begin. Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika [genza.org.za] bied hulp hiermee aan as jy nie weet waar om te begin nie. Deur die familie se rekord in Suid-Afrika aan te teken, skep jy ’n belangrike skakel tussen die herkoms van die voorvaders en die nuwe land waar die nageslag hulle bevind.

Soos genoem bied die neerskryf van die feite en verhale van voorouers aan die nageslag inligting wat kan inspireer, byvoorbeeld om te dink wat hulle tydens lang seereise na Afrika, die trek in die onbekende binneland in, die Anglo-Boereoorlog of die Grensoorlog beleef het en hoe hulle daarna voortgegaan het om die basis te lê waarop jy vandag jou lewe bou.

Eerlikheid is belangrik. Veral vir jongmense is dit soms oorweldigend as hulle dink die voorgeslagte was foutlose, engelagtige wesens. Om te weet dat hulle ook foute gemaak het en dat daar skarminkels onder hulle was, bring kosbare lewenslesse tuis, skep deernis en begrip vir hulle, sowel as troos omdat jy weet jy is nie die enigste feilbare mens in die familie nie.

Daarbenewens verklaar dit tradisies, gewoontes, taaluitdrukkings of selfs die fisiese voorkoms van die huidige geslag. In ons familie is daar allerlei spreekwoorde soos “hond se doilie” as jy geskok of verras is – iets wat niemand anders sal verstaan nie, maar sodra ek dit hoor, weet ek iemand is familie van my. Dit is op ’n manier gerusstellend om te weet jou neus lyk soos dié van ’n oumagrootjie wat jy nooit geken het nie, of jy hou jou koffiekoppie vas soos ’n oupa wat kort na jou geboorte oorlede is.

’n Kwessie wat al meer wetenskaplike aandag geniet, is mediese patrone. Daar is families waarin hoë cholesterol en verskeie soorte kanker gereeld voorkom, of oorerflike siektes soos polisitemie, hemofilie en porfirie. Met familienavorsing word dit gou duidelik as daar so ’n probleem mag wees en deur bedag te wees op die voorkoms daarvan, kan betyds opgetree word en lewens gered word.

Indien jou kinders of kleinkinders dus emigreer, beteken dit nie dat die familiebande afgesny word nie. Hulle herinneringe en DNA emigreer saam en jy kan ’n belangrike rol speel om die raamwerk wat dit skep, met meer inligting in te kleur. Dit kan groot pret wees en in die proses ontdek jy dalk ook dinge waarvan jy nooit geweet het nie.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels