Deur Sue-Ann de Wet
Om op 13-jarige ouderdom ’n boek te publiseer is reeds besonders. Om twee jaar later met ’n tweede boek, ’n volwaardige roman, vorendag te kom getuig van uitsonderlike talent, deursettingsvermoë en ’n diep liefde vir stories.
Dit is presies wat Matthew Esser, ’n Suid-Afrikaanse seun wat tans in Edinburgh woon, reggekry het.
In 2024, toe Matthew net 13 jaar oud was, het hy sy eerste Engelse boek op Amazon gepubliseer. Dié boek is nie ’n tradisionele storie nie, maar ’n indrukwekkende inligtingsboek oor ’n volledig fiktiewe land wat hy self geskep het. Wat dit besonders maak, is die detail en struktuur waarmee hy dié wêreld opgebou het: ’n eie vlag, volkslied, taal, maatstelsel, godsdiens en uitgebreide kaarte van die verskillende streke. Deur werklike wêreldkonsepte slim te gebruik, neem Matthew die leser op ’n ontdekkingsreis deur ’n nuwe, fiktiewe samelewing – een wat geloofwaardig en deeglik deurdag is.

Twee jaar later het Matthew sy skryfwerk na ’n volgende vlak geneem met die publikasie van sy tweede Engelse boek; hierdie keer ’n roman. Die verhaal fokus op die lewe en ingewikkelde reis van die hoofkarakter Myfrang, en speel af binne dieselfde wêreld wat hy reeds vroeër so sorgvuldig geskep het. Waar die eerste boek die boustene van die wêreld gelê het, bring die roman daardie wêreld tot lewe deur karakter, konflik en emosie.

Dat ’n jong skrywer reeds só ’n komplekse verhaallyn en wêreld kan ontwikkel, is merkwaardig – en inspirerend. Matthew se prestasie wys wat moontlik is wanneer jongmense aangemoedig word om hul kreatiwiteit uit te leef, veral binne diaspora-gemeenskappe waar taal, identiteit en verbeelding dikwels nuwe vorme aanneem.
Matthew se boeke is beskikbaar op Amazon, insluitend ’n Kindle-weergawe, en bied nie net vermaak nie, maar ook ’n kykie in die krag van jong verbeelding oor landsgrense heen.
Skakels na die boeke:
- Boek 1 (ALIFYAH: The nation of Yerelah): https://amzn.eu/d/08eDPQp
- Boek 2 (The tale of Myfrang): https://amzn.eu/d/7BDz0KM
- Kindle-weergawe: https://amzn.eu/d/9PHbRqc
Hierdie is ’n verhaal wat herinner: Talent ken geen ouderdom of grense nie – soms begin groot drome net met ’n seun, ’n idee en ’n pen.
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Edinburgh – AfriForum Wêreldwyd



















