Boerebande in verre lande 15: Herinneringe aan die Warskou-lugbrug van 1944

18/03/2026
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 15: Herinneringe aan die Warskou-lugbrug van 1944

Deur Alana Bailey

Hoewel Afrikaners nie eensgesind oor deelname aan die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) was nie, soos die geval ook met die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) was, kan niemand die rol wat Afrikaners se deelname in die oorwinnings in beide oorloë gespeel het, ontken nie. Dit was nie net bydraes tydens gevegte nie, maar ook met humanitêre hulpverlening.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) is op 1 Februarie 1920 gestig. Dit het gevolg nadat generaal C.F. Beyers in 1912 militêre oefeninge in Europa gaan besigtig het en besef het dat dit noodsaaklik sou wees om vliegtuie deel van die plaaslike verdedigingsmag te maak. Die eerste vlugopleiding het in 1913 begin. Suid-Afrika was die eerste dominium (met ander woorde ’n selfregerende land binne die Britse Ryk) wat ’n lugmag op die been gebring het.

Sowat 50 000 lede van die SALM het aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem. Hulle was onder meer betrokke by operasies in die Midde-Ooste, Oos-Afrika en Europa. Die bydrae van 31 en 34 Eskaders tot die Warskou-lugbrug is een van die mees uitstaande prestasies in die land se militêre geskiedenis, maar iets waarvan min mense helaas vandag nog onthou.

Die aanloop was die Duitse besetting van Pole in September 1939. Die Poolse weerstand teen die Duitsers was sterk en bevrydingsbewegings het tot stand gekom om daarteen te veg. Op 1 Augustus 1944 het hierdie bewegings met ’n opstand in Warskou begin. Aanvanklik is groot sukses behaal. Die Duitsers het egter die gebiede wat onder die bevrydingsvegters se beheer was, van die res van die stad afgesny. Die geïsoleerdes het dringend wapens, ammunisie en mediese voorrade benodig.

In antwoord op hulle dringende versoeke om hulp, het die Britse eerste minister, Winston Churchill, Groep 205 beveel om voorraadvlugte na Warskou te onderneem. Hierdie Groep 205 het onder bevel van ’n Suid-Afrikaanse offisier, brigadier Jimmy Durrant, gestaan en het 1 586 Spesiale Poolse Dienseskader, 178 en 148 Eskaders van die Britse Koninklike Lugmag, asook 31 en 34 Eskaders van die SALM ingesluit.

Hierdie operasie het bekend geword as die Warskou-lugbrug of die Warskou Concerto.

Die vlugte het van 13 Augustus tot 22 September 1944 oor ’n retoerafstand  van 2 815 km vanaf Italië plaasgevind. Die grootste gedeelte van die roete wat gevolg is, het in daglig oor vyandige en verwoed verdedigde gebiede gestrek. Nie alleen moes die bemannings lugaanvalle en genadelose lugafweervuur trotseer nie, maar ook die voorrade wat vervoer is akkuraat op geïdentifiseerde plekke neerlaat. Hoewel die vliegtuie met masjiengewere bewapen was, kon min ammunisie saamgeneem word omdat die grootste deel van elke vliegtuig se vragkapasiteit vir die voorrade gebruik moes word. Om dieselfde rede is so min brandstof as wat moontlik was, saamgeneem – slegs ’n geskatte reserwe van 9% is per vliegtuig ingeneem. Vliegtuie moes baie laag vlieg (wat vir groot uitdagings oor verskeie bergreekse gesorg het) en radio-kommunikasie is tot ’n minimum beperk om so min aandag as moontlik te trek. Hoe nader hulle aan Warskou gekom het, hoe duideliker het ’n gloed op die horison geword. Dit was hulle teiken – die einste hoofstad van Pole wat in ligte laaie gestaan het. As gevolg van die termiese effekte van die vele brande in die stad, het die vliegtuie dan wild aan die ruk gegaan. Hulle moes op ongeveer 350 meter bo die grond vlieg om hulle teikens te kan tref, terwyl warm lug en rook binne die vliegtuig asemhaling en sig moeilik gemaak het. Hulle moes lugafweervuur ontduik en het gereeld kamerade se vliegtuie rondom hulle sien neerstort.

Elke vlug was ’n heldedaad en getuig van hierdie manne se moed en deursettingsvermoë.

Die Poolse opstand was nie suksesvol nie, maar die knou wat dit aan die vyand se mannekrag en voorrade toegedien het, het wel tot die uiteindelike oorwinning van die Geallieerde Magte bygedra. Daar is bereken dat byna 10 000 Duitsers tydens die opstand dood en 7 000 gewond is. ’n Verdere sowat 7 000 het vermis geraak. Aan die Poolse kant was die verliese erger. Die totale aantal burgerlike ongevalle is op 180 000 mense geraam. 69 Lede van die SALM het tydens die vlugte gesneuwel – in totaal was die dodetal onder die vlieëniers en hul bemannings sowat 360. Verskeie het toekennings vir hulle dapperheid ontvang. Na die tyd is geoordeel dat die lugbrug vanuit ’n militêre oogpunt gesien, ’n roekelose operasie was wat nooit onderneem moes gewees het nie. Nogtans het dit vir die beleërde Pole hoop gebring en innige vriendskapsbande tussen Suid-Afrikaners en Pole gebou.

Die SALM-lede se heldedade word op verskeie plekke herdenk. In Pole is hulle grafte in die Krakow Rakowicki-en Poznan Old Garrison-begraafplase waar kransleggings steeds plaasvind. ’n Monument ter ere van alle deelnemers aan die Warskou-lugbrug is verder in 1989 in die dorp Newark-on-Trent in Engeland onthul. Die embleem van die SALM is daarop gegraveer, saam met dié van die ander lugmagte wat daaraan deelgeneem het. Die inskripsie daarop lui:

WARSAW AIR BRIDGE

MEMORIAL

IN TRIBUTE TO 250 AIRMEN

OF BRITAIN

THE COMMONWEALTH

AND POLAND

WHO SACRIFICED

THEIR YOUNG LIVES

IN DESPERATE ATTEMPTS

TO FLY FROM

DISTANT RAF BASES IN ITALY

WITH ESSENTIAL SUPPLIES

FOR THE

FRONT LINE CITY OF WARSAW

DURING THE 1944 UPRISING

In Melrose, Johannesburg word hulle ook ingesluit onder diegene wat deur die Katyn-monument in herinnering geroep word. Hierdie monument bestaan uit betonsuile wat saam die beeld van ’n kruis vorm. Dit is aanvanklik opgerig ter herdenking aan die Katyn-slagting, toe 14 500 Poolse offisiere, polisiemanne en burgerlikes deur die Stalin-regime van die Sowjetunie in 1940 tereggestel is. Die herdenking van die deelnemers aan die Warskou-opstand en -lugbrug is later daarby gevoeg.

Daar is heelwat interessante bronne oor die Warskou-lugbrug. Op die webtuiste van die “South Africa War Graves Project” kan die naamlys van al die lede van die Suid-Afrikaanse lugmag wat in die Krakow Rakowicki-en Poznan Old Garrison-begraafplase in Pole begrawe is, gevind word. ’n Besonder interessante artikel kan ook op die webtuiste Defence Web onder die afdeling vir militêre geskiedenis gevind word. Dit vertel die verhaal van die heldedade van verskeie van die bemannings tydens hierdie vlugte wat letterlik as ’n tog hel toe en terug beskryf kan word.

Hierdie gebeure is veral ’n herinnering aan die tragiese en vergeefse offer van talentvolle jongmense se lewens tydens oorloë – iets waaroor juis nou weer nagedink word.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels