“Gesterf met onvoltooide lewens” – Suid-Afrikaners in Roemenië herdenk
Deur Alana Bailey
Roemenië is ’n land wat vir die meeste van ons relatief onbekend is, maar selfs daar kan spore van Suid-Afrikaners gevind word, en word hulle steeds herdenk.
In die vorige aflewering van ons reeks oor plekke in die buiteland met bande met Suid-Afrika, het ons die dapper vlieëniers herdenk wat tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) aan die Warskou-lugbrug deelgeneem het. Hierdie maand se bydrae handel ook oor slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog, met die fokus op vyf Suid-Afrikaners wat die hoogste prys in die lugruim bo Roemenië betaal het.
Die eerste twee was deel van 178 Eskader van die Britse Koninklike Lugmag (Royal Air Force – RAF). Hierdie eskader was ’n bomwerpereenheid wat tydens die oorlog in Egipte, Libië en Italië gebaseer was, toegerus met Consolidated B-24 Liberator bomwerpervliegtuie. Die leuse daarvan was Irae emissarii, wat Latyn vir “Gesante van toorn” is. Nadat hulle in Egipte gedien het, het die eskader na Libië verskuif, en toe vanaf Maart 1944 na Italië.
Op 8 Mei 1944 het een van die Liberators op ’n sending vanaf Foggia in Italië opgestyg. Die bemanning het bestaan uit die vlieëniers, luitenant Jan Gerrit Cornelis Schuurman en vlugsersant Peter Bissett, en drie lugkanonniers, luitenant Dean Patrick McGee, sowel as vlugsersante James Alexander Phillips en Kenneth William Brown. Schuurman en McGee was Suid-Afrikaners en lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) wat aan die RAF gesekondeer is. Met 100% maanlig op hierdie nag, was dit ’n uiters gevaarlike sending. Die vliegtuig is aangeval deur ’n nagvegter en het in vlamme naby die klein Roemeense dorpie Lunguletu neergestort. Die bemanningslede het almal omgekom. Hulle is in die Boekarest-oorlogsbegraafplaas te ruste gelê.
Schuurman is op 7 Maart 1923 gebore en het dus pas 21 geword toe hy gesterf het. Hy was die seun van Jan Gerrit Cornelis en Maria Margaretha (née Erasmus) Schuurman. Naas die grafsteen in Roemenië, is ’n gedenksteen ter nagedagtenis aan hom ook in die Geduld-begraafplaas in Springs opgerig.
McGee was 28, is gebore op 10 Julie 1915 as die seun van Thomas Sarsfield McGee en Ellen Mary Gardner (tevore McGee), van Voortrekkerstraat in Lydenburg. Hy het voorheen geboer.
178 Eskader was later ook aktief by die Warskou-lugbrug betrokke. Dit is ontbind toe die oorlog tot ’n einde gekom het.
Die tweede insident het die lewens van drie lede van die SALM en een Britse lid van die Koninklike Lugmag Vrywilligersreserwe geëis. Die Suid-Afrikaners was van 31 Eskader van die SALM. Hierdie eskader was aanvanklik ’n kusbomwerper- en verkenningseenheid. Later het dit omgeskakel na ’n swaar bomwerper-eskader, wat van Januarie 1944 tot die einde van die oorlog vanaf basisse in die Middellandse See geopereer het. Daarna is dit gebruik om bevryde krygsgevangenes van Italië na Brittanje te neem, asook om Suid-Afrikaanse troepe wat gedemobiliseer is, van Italië na Egipte te vervoer. Op 15 Desember 1945 is die eenheid ontbind, maar van 1982 tot 1992 het dit herleef om as ’n medium en ligte helikopter-eskader te dien.
Vanaf 16 Junie 1944 het die eskader ook vanuit Foggia in Italië begin opereer en op strategiese teikens in die Balkan, Hongarye, Oostenryk, Roemenië en Noord-Italië gefokus. Op 3 Julie 1944 het vlieënier tweede luitenant Edward Nowers en lugkanonniers adjudant-offisier Leslie Amyas Preston, tweede adjudant-offisier James Vincent Pullon Robertson en vlugsersant Fred Ryder (die vrywillige reserwelid van Lancashire), sowel as twee ander naamlose bemanningslede vanaf Foggia opgestyg op ’n sending met die doel om die Prahova-olieraffinadery in Boekarest te bombardeer. Weereens was die sending uiters gevaarlik as gevolg van 88% maanlig, wat enige vliegtuig redelik duidelik sigbaar sou maak. Hul Consolidated B-24 Liberator VI is ook deur ’n nagvegter aangeval en afgeskiet. Dit het by die Roemeense dorpie Furculești neergestort. Die naamlose bemanningslede het blykbaar oorleef, maar Nowers, Preston, Robertson en Ryder is dood. Hulle is ook in die Boekarest-oorlogsbegraafplaas begrawe.
Die bekendstelling van radar- en “stealth”-funksies in vliegtuie aan beide kante het die aard van nagluggevegte ingrypend verander.
Die sogenaamde nagvegters wat vir die neerskiet van beide vliegtuie verantwoordelik was, was óf doelgemaakte vliegtuie, óf gemodifiseerde dagvegvliegtuie wat gebruik is om vliegtuie snags aan te val. Hulle was toegerus met tegnologie wat destyds revolusionêr was om vyandelike bomwerpers in ’n lokval te kon lei terwyl hulle self so onsigbaar as moontlik kon bly. Dit het vlieëniers ook in staat gestel om in die donker te kon land, aangesien aanloopbaanbeligting vliegvelde aan aanvalle blootgestel het. Die bekendstelling van radar- en “stealth”-funksies in vliegtuie aan beide kante het die aard van nagluggevegte ingrypend verander – vir die eerste keer is die naghemel ook in ’n slagveld omskep.
Die drie gesneuwelde Suid-Afrikaners in ’n gesamentlike graf begrawe, maar met individuele grafstene.
Nowers was 35 jaar oud, die seun van Philip en Susan Marion Nowers. Hy was getroud met Sylvia en het in Klerksdorp gewoon. ’n Gedenkplaat ter ere van hom is by die Plettenbergbaai St. Peter’s Anglikaanse Kerk opgerig. Die SALM se leuse, “Per aspera ad astra”, verskyn op sy grafsteen in Roemenië.
Preston was 20, die seun van Bertel en Nora Preston van Benoni. Benewens die grafsteen in Roemenië met die inskripsie “Death is but a gateway”, is ’n gedenksteen ter ere van hom in die Rynsoord-begraafplaas in Benoni opgerig.
Oor Robertson is verrassend min bekend.
Die grafsteen van die Brit, Ryder, sluit die aangrypende inskripsie “Loving memories of our son, who gave his unfinished life for his country” in.
Die Boekarest-oorlogsbegraafplaas word deur die Britse Oorlogsgraftekommissie onderhou en blyk in ’n goeie toestand te wees. Enige Suid-Afrikaners wat Boekarest besoek, kan gerus oorweeg om daar ’n besoek af te lê om hulde aan hierdie vyf dapper jong mans te bring – hulle wat so ver van die huis ’n laaste rusplek gevind het.
Lees ook: Boerebande in verre lande 15: Herinneringe aan die Warskou-lugbrug van 1944



















