Bly of gly? ’n Gesprek wat eerder moet bou as breek

20/04/2026
| Deur Sue-Ann de Wet
Bly of gly? ’n Gesprek wat eerder moet bou as breek

Deur Sue-Ann de Wet

Die sogenaamde bly-of-gly-debat is lankal nie meer net ’n gesprek nie; dit het vir baie Suid-Afrikaners ’n emosionele, persoonlike en soms selfs verdelende onderwerp geword. Op sosialemediaplatforms en gemeenskapsforums wêreldwyd is dit duidelik: Mense voel sterk oor hul keuses – en oor ander s’n.

Maar dalk is dit juis waar die probleem begin.

Wanneer mense hul stories deel – of dit nou gaan oor emigrasie, in Suid-Afrika bly of selfs terugkeer – sien ons dikwels hoe die gesprek kantel. Wat begin as eerlike ervaring, verander soms in oordeel:

  • “Hoe kon julle bly?”
  • “Hoekom sou julle ooit terugkom?”
  • “Jy het opgegee.”
  • “Jy is naïef.”

Hierdie reaksies is nie net onnodig nie; dit maak ’n reeds moeilike werklikheid nóg swaarder.

Om te emigreer is een van die ingrypendste en duurste besluite in ’n persoon of gesin se bestaan. Die besluit om te emigreer, te bly of terug te kom, is ’n persoonlike besluit. Niemand het die reg om enigiemand anders se besluit te veroordeel nie, omdat elkeen van ons ’n eie waardestelsel het wat ons keuses bepaal.

Emigrasie is vandag ’n harde werklikheid en AfriForum Wêreldwyd hou dit ’n oop gesprek.

Die waarheid is: Wat vir een persoon ondraaglik voel, is vir ’n ander hanteerbaar. Wat vir een ’n roeping is om te bly, is vir ’n ander ’n roeping om te gaan.

’n Voorval soos misdaad kan twee mense totaal verskillend beïnvloed:

  • Die een raak meer vasberade om te bly en ’n verskil te maak.
  • Die ander besluit dis tyd om te gaan.

Nie een van hierdie keuses is verkeerd nie.

Vir baie mense is hierdie besluit nie net prakties nie, maar ook diep persoonlik en selfs geestelik.

Gelowiges se keuses verskil:

  • Party glo hulle is geroepe om in Suid-Afrika te bly en hier te bou.
  • Party glo hulle is geroepe om elders ’n verskil te maak.
  • Party glo hulle is geroepe om ’n besluit te neem wat nie noodwendig in hul persoonlike belang is nie, maar beter opsies vir hul nageslag gaan bied, hetsy binne of buite die land.

Met ons beperkte perspektief kan niemand bepaal wie reg of verkeerd is nie. Elkeen moet self besluit – en niemand is verplig om daardie besluit aan ander te verduidelik of te verdedig nie.

Wanneer ons mekaar se keuses begin kritiseer, verloor ons iets belangriks: gemeenskap.

Afrikaners – waar ook al hulle hulself bevind – deel steeds

  • ’n geskiedenis,
  • ’n kultuur,
  • ’n taal en
  • dikwels dieselfde verlange na mense en plekke.

Ons het reeds genoeg uitdagings:

  • families wat oor kontinente versprei is
  • kinders wat tussen kulture grootword
  • die emosionele gewig van afstand en aanpassing.

Dit help niemand om mekaar in hierdie konteks te oordeel nie.

Miskien is dit tyd om die vraag te skuif van:
“Hoekom het jy daardie besluit geneem?”
na
“Hoe kan ek jou in jou besluit ondersteun?”

Of jy bly, gaan of terugkeer – elke pad het sy eie uitdagings:

  • Mense wat kies om te bly, dra daagliks die realiteite van en in Suid-Afrika.
  • Suid-Afrikaners in die buiteland bou van voor af aan ’n nuwe wêreld, maar bly terselfdertyd draers van ons kultuur en stories: ons ambassadeurs oor grense heen. Dit bly ons mense. Dit bly ons familie.
  • Terugkeerders moet in ’n land aanpas wat nie meer heeltemal dieselfde is nie.

Ons almal is besig om aan te pas. Ons almal probeer sin maak van ons keuses.

Ons het vandag toegang tot meer inligting as ooit:

  • praktiese emigrasiebronne,
  • ervarings van ander en
  • finansiële en regsadvies.

Gebruik dit. Doen jou navorsing. Dink mooi.

Maar uiteindelik is al wat tel jy, en jou gesin (as jy een het). Indien ’n gesin of eggenoot ter sprake is, is die ideaal dat almal in die besluit inkoop, anders kan dit sake kompliseer en die eenheid selfs oplaas vernietig.

En ja, soms lyk ’n besluit later soos ’n fout. Dit is ook deel van die werklikheid. Maar dit bly jóú besluit en jóú verantwoordelikheid.

Terwyl hierdie gesprek oor bly of gly voortduur, bly een ding konstant: Daar is mense wat daagliks in Suid-Afrika werk om ’n verskil te maak,  en dit is waar AfriForum se werk ’n tasbare rol speel. AfriForum fokus op die beskerming van gemeenskappe, die bevordering van veiligheid, kultuur en burgerregte, en die bou van volhoubare strukture binne Suid-Afrika. Vir Suid-Afrikaners in die buiteland bied AfriForum Wêreldwyd jou die geleentheid om steeds deel te wees van hierdie groter netwerk:  om ingelig te bly, met ander Suid-Afrikaners wêreldwyd kontak te maak en om prakties by te dra tot projekte wat ’n verskil maak. Deur as internasionale ondersteuner of lid aan te sluit, word jy deel van ’n gemeenskap wat nie net praat oor verandering nie, maar aktief daaraan werk – ongeag waar in die wêreld jy jou bevind.

Die bly-of-gly-debat gaan nie binnekort verdwyn nie, hoe ons dit voer, bly ’n keuse. Ons grootste uitdaging is dalk nie waar ons woon nie, maar hoe ons mekaar behandel. Ons hoef nie oor alles saam te stem nie, en ons paaie gaan noodwendig verskil. Tog kan ons kies om mekaar met respek, begrip en waardigheid te hanteer. In ’n wêreld waar soveel reeds verdeel, het ons die geleentheid om anders te wees: om mekaar nie af te breek nie, maar op te bou. Want uiteindelik gaan dit minder oor wie reg of verkeerd is, en meer oor hoe ons mekaar langs die pad ondersteun.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels