Reisrampe en wenke om dit te voorkom

14/05/2026
| Deur Alana Bailey
Reisrampe en wenke om dit te voorkom

Deur Alana Bailey

Mense wat in die buiteland woon of werk, reis gewoonlik nogal gereeld. Soms is dit om hulle nuwe tuiste te verken, ander kere omdat hulle naby gewilde reisbestemmings woon wat redelik maklik of goedkoop bereik kan word.

Die versekeringsmaatskappy Travel Guard het onlangs navorsing gedoen oor wat veroorsaak dat mense nie hulle vakansiereise geniet nie. Mense in lande dwarsoor die wêreld is genader en vreemd genoeg was diegene met die slegste reiservarings Suid-Afrikaners. Sowat 98% het aangedui dat hulle al ten minste een vakansie gehad het waaroor hulle spyt is. Vergelyk dit met byvoorbeeld Frankryk en België se 90%. Die bevindings dui ongelukkig nie aan of die teleurstellings tydens plaaslike of buitelandse reise was nie.

Van die bevindings is suiwer interessante statistiek, soos byvoorbeeld dat die ouderdom waarop mense die slegste reiservarings het, in hulle twintigerjare was. Dit maak nogal sin, want dit is gewoonlik wanneer mense begin werk en jong kinders het, en met min verlofdae en inkomste moet klaarkom. ’n Hele 50% het aangedui dat dit is wanneer hulle teleurgesteld was, teenoor 1% van mense bo 60 en 14% van tieners.

Ander bevindings lewer nogal insig op wat handig te pas kan kom wanneer jy weer ’n wegbreekkans beplan. Die drie soorte vakansies wat die deelnemers aan die navorsing die meeste teleurgestel het, is familievakansies (27%), avontuurreise (16%) en stadswegbreke (11%). Dit lyk dus of die ideale opsie is om alleen die natuur te gaan opsoek …

Faktore wat breedweg vir die slegte ervarings van die deelnemers verantwoordelik was, was onvoorsiene slegte gebeure byvoorbeeld siekte of kansellasies (17%), swak beplanning (14%) en vakansiegangers wat só moeg of gespanne was dat hulle die vakansie nie kon geniet nie (13%).

Meer spesifiek was probleme met akkommodasie (16%), onenigheid met reisgenote (13%), asook swak weer en oorvol bestemmings (beide 12%) vir ongelukkigheid verantwoordelik.

Mense onthou slegte vakansie-ervarings baie lank – moontlik omdat daar dikwels lank vir ’n vakansie gewag en gespaar word, wat dit baie traumaties maak as mense dit nie geniet nie. Om seker te maak dat die meeste van elke vakansie gemaak word, stel die deelnemers en Travel Guard ’n paar eenvoudige stappe voor, insluitend dat reisigers omvattend moet beplan, hulle behoefte aan gemak in gedagte moet hou, deeglik moet begroot, nog meer deeglik oor reisgenote moet besin, oorweeg om gewilde bestemmings nie op piektye te besoek nie, vir genoeg rustyd voorsiening te maak, kansellasieopsies in hulle beplanning in te bou en natuurlik reisversekering uit te neem.

Uit persoonlike ervaring kan ek met al die voorstelle saamstem. As jy oormoeg of siek is wanneer jy op vakansie vertrek, gaan jy dit baie moeilik kan geniet en jou reismaats gaan ook nie lus wees vir Martelaar Marta wat kreun en steun, of hoes en proes, maar probeer bybly nie. Verhoudings wat krapperig is voor jou vertrek, gaan nie beter word net omdat jy in ’n ander omgewing is nie. Inteendeel, dit mag tot ’n groter ontploffing lei as wat tuis sou gebeur het.

Verder is beplanning noodsaaklik. Hoe meer beplanning, hoe meer genot. Jy kan nie aanvaar daardie toeriste-aantreklikheid wat jy wil besoek, is alle dae van die week, of selfs alle maande van die jaar toeganklik nie. Geboue word gerestoureer en is dan gesluit vir die publiek, byvoorbeeld die Belemtoring in Lissabon en katedraal in Nantes tans. Soms is dit wel oop, maar omring met steiers wat planne vir ’n droomfoto lelik in die wiele kan ry. Al is dit jou enigste kans ooit om dié plek te besoek, gaan jy eenvoudig teleurgesteld omdraai, wat vermy kan word as jy vooraf uitvind of so ’n proses beplan word en wanneer dit afgehandel sal wees. Dit geld selfs vir fasiliteite soos verhitte swembaddens of avontuurparke.

Ten slotte, as jy vasbrand, vra vrae. Mense is oor die algemeen baie simpatiek teenoor toeriste. Hulle weet toerisme is ’n belangrike bron van inkomste en bowendien is mense oor die algemeen wêreldwyd medemenslik. As ’n vlug of treinreis waarvoor jy betaal het byvoorbeeld gekanselleer word, is daar meestal ’n alternatief wat gereël word, of kompensasie wat betaal word. Vind uit voor jy dink jy is gestrand en gaan ten duurste ander vervoeropsies moet kies. Alternatiewe word nie noodwendig altyd duidelik (of in ’n taal wat jy verstaan) bekendgemaak nie. Vrae aan die regte bronne kan baie geld, tyd en moeite spaar. Bly ook waaksaam – die hek of perron vanwaar ’n vlug of trein vertrek, verander soms op die laaste oomblik. Moenie vergeefs wag op die verkeerde plek nie.

Onvoorsiene rampe gebeur, maar met goeie beplanning en die regte ingesteldheid kan jy dit hanteer en later lekker lag oor hierdie avonture!

Vertel ons van julle ondervindings – wat het al julle droomreise in nagmerries laat ontaard en watter raad het julle vir ander toeriste?

(Die volledige verslag oor Travel Guard se navorsing is hier beskikbaar: https://www.travelguard.com/travel-resources/travel-tips/travel-mulligan)

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels