Jou Suid-Afrikaanse paspoort gee steeds visumvrye toegang tot 101 lande

16/07/2026
| Deur Alana Bailey
Jou Suid-Afrikaanse paspoort gee steeds visumvrye toegang tot 101 lande

Deur Alana Bailey

Die immigrasiespesialiste, Henley en Vennote, se maandelikse paspoortindeks word as die mees gesaghebbende bron oor toegangsvereistes van lande en die gebruikwaarde van paspoorte gereken.

Volgens die jongste indeks is paspoorte van Suid-Afrika vyftigste-beste op die lys van lande se paspoorte waarmee jy visumvry toegang tot ander lande kan verkry.

Henley se indeks samel inligting oor 199 verskillende lande se paspoorte en 227 lande se toegangsbeheervereistes in.

Tans kan reisigers met Suid-Afrikaanse paspoorte 101 lande sonder visums besoek. Dit sluit gewilde bestemmings soos die meeste lande in Afrika, verskeie in Suid-Amerika onder meer Argentinië, Peru en Brasilië, asook eilande soos die Maldives, Asiese bestemmings soos Japan en Thailand, en selfs die gewilde toeristebestemming Turkye in.

Daar is wel ’n verswakking merkbaar – in 2023 het AfriForum Wêreldwyd berig dat 106 lande visumvry besoek kon word. Tog is vyftigste uit 199 lande nie te sleg nie.

Vir mense wat oor die vermoë van ander lande se paspoorte wonder, is Henley en Vennote se webtuiste (https://www.henleyglobal.com/passport-index) die antwoord! Jy tik eenvoudig die land wat die paspoort uitgereik het in en jy sal oombliklik ’n lys van lande waarheen jy maklik kan reis, asook selfs ’n interaktiewe wêreldkaart, ranglys en grafiek van die land se paspoort se prestasie oor die afgelope jare kry.

Voornemende reisigers moet onthou dat die indeks maandeliks opdateer word en dat dit tog die veiligste bly om eerder met die land waarheen jy wil reis se konsulaat in aanraking te kom om seker te maak watter vereistes ten tye van die reis vir jou sal geld. Soms sal lugrederye wel handige inligting voorsien en natuurlik kan ’n betroubare reisburo help verseker dat daar geen nare verrassings op jou by ’n grenspos gaan wag nie!

Deel op

Nuutste artikels