Droomwerk of duur les? Hoe om lokvalle te vermy wanneer jy werk in die buiteland oorweeg
Vir baie Suid-Afrikaners begin dit met ’n Facebook-advertensie, ’n WhatsApp-boodskap of iemand wat sê: ‟Ek ken iemand wat jou binne twee weke oorsee kan kry.”
’n Hoër salaris. Beter geleenthede. Vinnige visums. Verblyf ingesluit.
Dit klink dikwels na die geleentheid van ’n leeftyd.
Maar by AfriForum Wêreldwyd ontvang ons dikwels navrae van mense wat onseker is oor werkaanbiedinge, visumaansoeke, werwingsagente of kontrakte. Sommige besef betyds iets is fout. Ander kom dit agter eers nadat hulle reeds groot bedrae geld betaal het of selfs in die buiteland aangekom het.
Nie elke werkgeleentheid is ’n bedrogspul nie. Daar is duisende Suid-Afrikaners wat wettig en suksesvol in die buiteland werk. Juis daarom is dit belangrik om die verskil te ken tussen ’n betroubare geleentheid en ’n duur lokval.
1. Pasop vir ‟te goed om waar te wees”
As iemand belowe dat jy binne dae ’n werkvisum sal kry, geen onderhoud hoef te doen nie of ’n buitengewone salaris sal verdien sonder ervaring, behoort waarskuwingsligte te flikker.
’n Betroubare werkgewer sal gewoonlik –
- ’n deeglike onderhoudsproses volg;
- jou kwalifikasies nagaan;
- ’n formele kontrak verskaf; en
- die visumproses behoorlik verduidelik.
Wees veral versigtig vir mense wat druk uitoefen deur te sê jy moet “vandag nog betaal” omdat die geleentheid môre verval.
2. Moenie betaal vir ’n werk wat jy nog nie het nie
Een van die algemeenste slaggate is wanneer mense gevra word om groot bedrae vooruit te betaal vir –
- ’n ‟gewaarborgde” werk;
- visumdokumente;
- administrasie;
- werwingsfooie; of
- verblyf wat nooit bestaan nie.
Hoewel sommige administratiewe koste wel wettig is, behoort jy altyd presies te weet –
- waarvoor jy betaal;
- aan wie jy betaal; en
- of die organisasie wettig geregistreer is.
Bewaar alle betalingsbewyse en kommunikasie.
3. Doen jou huiswerk oor die werkgewer
Voordat jy enigiets onderteken of betaal –
- soek die maatskappy se amptelike webtuiste;
- lees onafhanklike resensies;
- kyk of die onderneming geregistreer is;
- soek na werknemers op LinkedIn; en
- vra vir verwysings, indien moontlik.
As inligting oor die maatskappy nie geredelik verkrygbaar is nie, is dit rede om versigtig te wees.
4. Lees die kontrak – elke bladsy
Baie mense fokus uitsluitlik op die salaris.
Maar vra eerder ook:
- Wie betaal vir jou vlug?
- Wie betaal vir jou visum?
- Is verblyf werklik ingesluit?
- Is mediese versekering ingesluit?
- Hoe lank is die kontrak?
- Wat gebeur indien jy vroeg bedank?
- Is daar boetes of terugbetalings?
Moenie net aanvaar nie. Kry alles skriftelik.
5. Verstaan jou visum
Moenie bloot aanvaar iemand anders hanteer alles namens jou nie.
Maak seker jy weet –
- presies watter tipe visum jy ontvang;
- hoe lank dit geldig is;
- of jy wettig mag werk; en
- watter voorwaardes daaraan gekoppel is.
Dit bly op die ou einde jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jy wettig in die land werk.
6. Wees versigtig vir sosiale media
Facebook-groepe en WhatsApp-kanale kan waardevolle inligting bevat, maar ongelukkig is dit ook plekke waar bedrieërs mense teiken.
Rooi vlae sluit in:
- geen amptelike e-posadres nie;
- kommunikasie slegs via WhatsApp;
- versoeke om geld na persoonlike bankrekeninge oor te betaal;
- swak geskrewe kontrakte; en
- mense wat weier om telefonies of via video te vergader.
7. Berei finansieel voor
Selfs met ’n geldige werk wag daar dikwels uitgawes voordat jou eerste salaris betaal word.
Dink aan –
- depositoʼs vir verblyf;
- vervoer;
- selfoonkontrakte;
- kos;
- nooduitgawes; en
- wagtye voordat jou eerste inkomste beskikbaar is.
’n Noodfonds kan baie spanning voorkom.
8. Moenie jou ondersteuningsnetwerk afsny nie
Laat familie of vriende weet –
- waar jy gaan werk;
- waar jy gaan woon;
- wie jou werkgewer is; en
- hoe hulle jou kan bereik.
Hou op ’n veilige plek digitale kopieë van jou –
- paspoort;
- visum;
- kontrak;
- versekering; en
- ander belangrike dokumente.
9. Kry raad voordat jy groot besluite neem
Wanneer jy onseker is, vra vrae.
Praat met mense wat reeds deur dieselfde proses is. Gebruik amptelike regeringsbronne. Kry onafhanklike regs- of immigrasieadvies indien nodig.
’n Betroubare werkgewer behoort nie ongemaklik te wees wanneer jy vrae vra of dokumente wil verifieer nie.
’n Bietjie versigtigheid kan jou baie moeite spaar
Om in die buiteland te gaan werk is ’n groot lewensbesluit wat deeglike voorbereiding verg. Hoe beter jy ingelig is, hoe kleiner is die kans dat jy deur misleidende beloftes of bedrog gevang sal word.
Moenie dat dringendheid jou oordeel oorneem nie. Neem tyd om navorsing te doen, dokumente na te gaan en vrae te vra voordat jy enige ooreenkoms aangaan.
Het jy al so ’n ervaring gehad?
By AfriForum Wêreldwyd hoor ons dikwels van Suid-Afrikaners wat ander wil waarsku teen bedrieglike werkaanbiedinge of waardevolle wenke wil deel oor hoe hulle ’n betroubare geleentheid gevind het.
Deel gerus jou ervaring met ons. Jou verhaal kan iemand anders help om ’n duur fout te vermy en met groter vertroue ingeligte besluite te neem. Ons skep ook geleenthede vir Suid-Afrikaners in die buiteland om betrokke te bly by aksies en veldtogte in Suid-Afrika en om deel te bly van ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun – waar jy jou ook al bevind.
Deel op
Nuutste artikels



















