Afrikaans is Lekker 2026 bring Afrikaanse gemeenskappe in Australië en Nieu-Seeland weer bymekaar

06/08/2026
| Deur Sue-Ann de Wet
Afrikaans is Lekker 2026 bring Afrikaanse gemeenskappe in Australië en Nieu-Seeland weer bymekaar

Die wagtyd is amper verby. Appel, Bernice West en Elvis Blue pak reeds hierdie maand hul tasse vir die Afrikaans is Lekker 2026-toer deur Australië en Nieu-Seeland – ’n konsertreeks wat jaar ná jaar bewys dat Afrikaans geen landsgrense ken nie.

Die toer begin op 14 Augustus in Christchurch en reis daarna na Auckland, Melbourne, Sydney, Brisbane en Perth. Vir baie Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes in die buiteland is hierdie konserte veel meer as net vermaak. Dit is ’n geleentheid om weer saam met die Afrikaanse gemeenskap te kuier, herinneringe te deel en die taal en kultuur wat hulle steeds koester, te vier.

Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van diaspora by AfriForum Wêreldwyd, wys die volgehoue gewildheid van die konserte hoe sterk die behoefte aan verbondenheid onder Afrikaanse gemeenskappe in die buiteland steeds is.

“Mense woon nie net hierdie konserte by omdat hulle goeie musiek wil hoor nie. Hulle kom omdat dit ’n geleentheid is om weer tussen Afrikaanssprekendes te wees, bekende gesigte én nuwe vriende te ontmoet en vir ’n aand daardie besondere gevoel van tuiswees te ervaar.”

De Wet sê sulke geleenthede beklemtoon die belangrike rol wat taal en kultuur in mense se identiteit speel .

“Al woon Afrikaners duisende kilometers van Suid-Afrika af, bly Afrikaans en die gemeenskap daarom vir baie ’n belangrike anker. Sulke geleenthede versterk bestaande vriendskappe, skep nuwe netwerke en herinner ons daaraan dat ons taal en kultuur iets is wat mense steeds met trots saam wil vier.”

Die toer word aangebied deur SA Events, wat reeds vir baie jare Afrikaanse kunstenaars na internasionale gehore bring. Volgens Arno, organiseerder van SA Events, het Afrikaans is Lekker oor die jare ’n vaste plek op baie mense se kalender verwerf.

“Afrikaans is Lekker het oor die jare veel meer as net ’n konsertreeks geword. Vir baie mense is dit ’n jaarlikse hoogtepunt waar families en vriende bymekaarkom en nuwe vriendskappe ontstaan. Dit is ongelooflik om te sien hoe die Afrikaanse gemeenskap hierdie geleenthede hul eie gemaak het.”

Hy sê die kunstenaars beloof vanjaar ’n besondere ervaring.

“Appel, Bernice West en Elvis Blue bring elkeen hul eie unieke energie en styl na die verhoog. Dit gaan ’n aand wees waar gehore kan saamkuier, saamsing en nuwe herinneringe skep.”

Die kunstenaars verteenwoordig drie uiteenlopende, maar geliefde stemme in die Afrikaanse musiekbedryf. Van Appel se energieke treffers tot Bernice West se vars klank en Elvis Blue se diepgaande storievertelling, kan gehore uitsien na ’n aand vol bekende liedjies, nostalgie en saamkuier.

Toerdatums

  • 14 Augustus – Christchurch
  • 15 Augustus – Auckland
  • 16 Augustus – Melbourne
  • 21 Augustus – Sydney
  • 22 Augustus – Brisbane
  • 23 Augustus – Perth

AfriForum Wêreldwyd is trots om weer as hoofborg van die Afrikaans is Lekker-konsertreeks op te tree. As die tuiste vir Afrikaners in die buiteland ondersteun AfriForum Wêreldwyd geleenthede wat gemeenskappe versterk en mense deur hul taal en kultuur met mekaar verbind.

Vir duisende Afrikaanssprekendes in Australië en Nieu-Seeland is Afrikaans is Lekker veel meer as net ’n konsert. Dit is ’n viering van hul taal, kultuur en gemeenskap – ’n geleentheid om weer saam te kuier, nuwe vriende te maak en te ervaar hoe Afrikaans mense oor landsgrense heen verbind.

Die toer word op 23 Augustus in Perth afgesluit, maar dit is nie waar die opwinding eindig nie. Besoekers by die laaste konsert kan uitsien na spesiale aankondigings oor wat volgende vir Afrikaans is Lekker voorlê. Hou daarom AfriForum Wêreldwyd en SA Events se platforms dop vir opwindende nuus wat kort ná die afsluiting van die toer bekend gemaak sal word.

Deel op

Nuutste artikels