Wenners van VECTIS se tweede “Leen uit het Afrikaans”-taalspel bekend
VECTIS, ’n organisasie wat nouer bande tussen die Lae Lande en Suid-Afrika bevorder, het in 2025 ’n taalspel of -kompetisie met die naam “Leen uit het Afrikaans” bekendgestel. Die vele entoesiastiese deelnemers het die organiseerders oortuig om dit vanjaar weer aan te bied.
Die doel daarmee is om mense van die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands bewus te maak, maar ook die uniekheid van die twee tale te beklemtoon.
Vanjaar het die kompetisie weer eens behels dat deelnemers ’n Afrikaans woord moes nomineer wat hulle as mooier, meer beeldend of verstaanbaar as die huidige Nederlandse woord met dieselfde betekenis beskou. Dit moes ’n woord wees wat hulle meen ook deel van die Nederlandse woordeskat behoort te word. Deelnemers moes verder in veertig woorde of minder verduidelik waarom hulle keuse op hierdie bepaalde woord geval het. Enigeen kon aan die kompetisie deelneem, maar inskrywings is tot een woord per persoon beperk.
Die beoordelaars was Stef Bos (sanger, digter en skrywer) en Yves T’sjoen (hoogleraar Nederlandse en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Gent en besondere hoogleraar Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch). Die genomineerde woorde is op grond van hulle oorspronklikheid, herkenbaarheid van die woord, die redelike kans dat ’n Nederlander dit sal wil gebruik, en die gehalte van die motivering vir die nominasie beoordeel.
Vanjaar is 84 inskrywings ontvang, waarvan 60% uit Suid-Afrika afkomstig was, en die res uit Nederland en Vlaandere.
Die woord wat in 2025 die kompetisie gewen het, was “hommeltuig”, met “vonkelwyn” in die tweede plek.
Die wenwoord van 2026 is “verkleurmannetjie” (in Nederlands “kameleon”). Die wenners is Catherien van der Westhuizen en Sunita Keyser wat die prys van 150 Euro tussen hulle deel.
Catherien se motivering lui: “Verkleurmannetjie vertelt meteen wat het dier doet. Het woord is levendig, vriendelijk en bijna sprookjesachtig. Waar ‘kameleon’ alleen benoemt, laat ‘verkleurmannetjie’ het dier voor je ogen bewegen en van kleur veranderen.”
Sunita het haar keuse só verduidelik: “Die woord spreek vanself deurdat dit na die mees kenmerkende eienskap van die diertjie verwys, naamlik die vermoë om na gelang van die omgewing van kleur te kan verander.”

Die woord wat vanjaar in die tweede plek aangewys is, is “spookasem” (in Nederlands “suikerspin”). Kees Moerman en Henco van der Westhuizen is die gesamentlike wenners van die 75 Euro-prysgeld.
Kees se keuse het op dié soet woord geval, want: “Het Nederlandse woord ‘suikerspin’ wekt (onterecht) associaties op met het insect spin, wat geen kind begrijpt. ‘Spookasem’ daarentegen prikkelt de fantasie, geeft perfect de vluchtigheid weer, en voegt een spannend, speels-griezelig element toe, wat kinderen zeker aanspreekt.”
Henco se motivering som dit soos volg op: “Spookasem maakt van een gewone suikerspin iets magisch. Het woord roept meteen het beeld op van een zoete, luchtige wolk die bijna verdwijnt zodra je haar aanraakt. Speels, geheimzinnig en precies passend bij wat het benoemt.”

Meer inligting oor VECTIS, die kompetisie en nominasies is by vectislingua.org beskikbaar.
Hartlik geluk aan die wenners! Ons betuig ook dank aan VECTIS wat op hierdie prettige manier die uniekheid en skoonheid van Afrikaans vier en onder die aandag van Nederlands- en Vlaamstalige sprekers bring.
Mag die kompetisie van jaar tot jaar gedy en mag ons tale ’n lang en geseënde toekoms saam aanpak!
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















