24 September 2026 – Koester die erfenis in jóú omgewing

22/09/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
pexels-rihan-bezuidenhout-237906021-14245098

Sedert AfriForum se ontstaan was ons betrokke by die beskerming en bewaring van erfenis op vele terreine. Reeds voor die organisasie se amptelike loodsing, het ons gefokus op die bewusmaking oor en protes ten gunste van die behoud van Pretoria en Potchefstroom se plekname. Vanjaar het ons met regsaksie begin om die pleknaam van Graaff-Reinet te beskerm. So sal AfriForum steeds aanhou om die simboliese uitwissing van ons verlede op alle moontlike maniere binne die raamwerk van die reg te probeer voorkom.

Deur die jare het ons ook bewusmaking met verskeie artikelreekse gedoen. Een daarvan was Taal tel. Dit het gefokus op mense wat Afrikaans lewendig hou op hulle onderskeie lewensterreine wat gestrek het van die regswêreld tot die vervoerbedryf. Waar die media wemel van negatiewe uitsprake oor die toekoms van Afrikaans, was dit verfrissend om te sien hoe mense ons taal gebruik en geniet, en in hulle loopbane die vrug daarvan pluk. Waar akademici neig om kongresse te hou en statistiek te bestudeer, lééf hierdie mense eenvoudig in Afrikaans en help in die proses om die taal dinamies te laat groei.

Volgende het erfenis in die visier gekom. Weer was daar meer as genoeg mediaberigte oor historiese geboue en terreine wat gevandaliseer word en stelselmatig tot niet gaan. Met die artikelreeks Erfenisjuwele het ons gekyk na museums en ander erfenisbakens wat deur gemeenskappe self opgebou en onderhou word – plekke wat ’n mens met trots kan besoek en waar die staat se betrokkenheid so ver as moontlik beperk word.

Hierdie bakens verg groot opoffering van die mense wat daarby betrokke is. Soms is hulle besig om ouer te raak en is hulle bekommerd oor wie die leisels by hulle sal oorneem. Ons het altyd die vraag ingesluit wat op hulle wenslysies was, en meestal was betrokkenheid van die gemeenskap heel bo-aan.

Die reeks het in 2024 ten einde geloop, maar sedertdien het nog meer gemeenskapsinisiatiewe die lig gesien. Op 4 September 2026 het die Krugersdorp Erfenisvereniging byvoorbeeld hulle eerste uitstalling amptelik geopen. Dit bestaan uit die historiese foto’s van dr. Baldocchi,  die meesterbouer wat vir die ontstaan van verskeie van die bekendste bakens in dié dorp verantwoordelik was. Die foto’s bied ’n unieke kykie in die verlede van die dorp. Hierdie kultuurhistoriese skat sou verlore geraak het as dit nie vir die onlangs gestigte vereniging was wat die waarde daarvan besef het en dit bewaar en bekendgestel het nie.

Tydens die opening het die lede van die vereniging getuig hoe die gemeenskap spontaan die uitstalling ondersteun het – van die voorsiening van verversings en beveiliging, tot die borde waarop die foto’s gemonteer is. Mense wil graag bewaar en leer, maar iemand moet die inisiatief aan die dag lê om met ’n aksie te begin, soos wat die bestuur van die vereniging inderdaad doen.

So is daar ’n menigte dorpe en stede waar mense ’n baken aanneem en bydra om die toekoms van ons verlede te verseker. Nog ’n voorbeeld is die pragtige standbeeld vir Wolraad Woltemade deur Ivan Mitford-Barberton, wat sewentig jaar voor Old Mutual se gebou in Pinelands gestaan het. Mettertyd het dit baie moeilik toegaanbaar geraak. Dit is in Mei vanjaar na Loxton Erfenispark in Milnerton verskuif, waar die publiek dit weer kan sien en besoek. Hierdie inisiatief van Gary van den Berg het as’t ware nuwe lewe in die standbeeld geblaas en dien om meer gemeenskappe aan te spoor om seker te maak dat hulle erfenisbakens sigbaar, veilig en toeganklik sal wees.

Ons huidige reeks, Boerebande in verre lande, kyk nou reeds twintig maande lank na erfenisbakens buite die landsgrense wat ’n Afrikaner- of Suid-Afrikaanse verbintenis het. Hoe meer ’n mens soek, hoe meer ontdek jy en besef dat ons voorouers wêreldwyd diep spore getrap het.

Die slotsom is dus dat ’n mens, waar jy jou ook al in die wêreld mag bevind, die erfenisbakens in jou omgewing moet soek en ondersoek. Leer meer oor die oorsprong daarvan en kyk hoe jy betrokke kan raak om te verseker dat die nageslag dit ook sal kan waardeer. Dit sal jou nie net meer oor jouself en jou omgewing leer nie, maar ook aan jou die kans bied om met mense wat jou belangstellings deel vriendskappe vir ’n leeftyd te sluit. Geniet die erfenisavontuur!

{Die artikelreekse waarna verwys word, is op AfriForum en AfriForum Wêreldwyd se webtuistes beskikbaar.}

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels

Meer artikels deur


No posts