Uit en tuis met Elni van Rensburg en haar gesin in Auckland

23/11/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
FAMILIE KUIER UIT SA en AUS

Pannekoek op reëndae, Afrikaanse kerkdienste en Sondagmiddae se roomys in die park: vir Elni van Rensburg en haar gesin, oorspronklik van Pretoria-Noord, vorm vertroude gewoontes én nuwe rituele deel van hul lewe in Auckland, Nieu-Seeland. Die gesin het in Desember 2022 verhuis. Elni vertel oor die eerste oorweldigende inkopietog, vriendskappe wat deur die kerk ontstaan het en die verlange na hul ouers wat steeds diep lê. Ons gesels met haar oor hul alledaagse lewe en die dinge van die huis wat hulle na aan die hart hou.

Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik, en waar woon jy tans?

Ons gesin is oorspronklik van Pretoria-Noord in Suid-Afrika. Ons woon tans in Auckland, Nieu-Seeland.

Hoe lank woon jy al daar, en wat het jou oorspronklik soontoe geneem?

Ons het in Desember 2022 hierheen verhuis. Ons het lank oor die besluit gebid en besin oor wat die regte ding vir ons gesin sou wees. Ons kinders se geluk, gesondheid en toekoms was vir ons die belangrikste oorwegings.

Dit is ook vir my baie lekker dat my man vir die eerste keer in jare gelukkig is by die werk en dat sy werkgewer sy waarde raaksien.

Wat onthou jy die beste van jou eerste paar weke in jou nuwe land?

Een van my eerste herinneringe is hoe skoon alles was. Om vir die eerste keer naby die see te woon, was vir ons baie lekker, en dit is steeds!

My eerste inkopietog was egter vreeslik oorweldigend. Die handelsmerke het soveel verskil van dié waaraan ek gewoond was.

Wat doen jy vir werk, en hoe verskil ’n tipiese werksdag daar van een in Suid-Afrika?

Ek is ’n onderwyseres by ’n laerskool. Ons skooldag begin eers om 09:00, heelwat later as waaraan ek in Suid-Afrika gewoond was, en eindig om 15:00.

Die klasse is oor die algemeen baie kleiner as dié waaraan ek gewoond was, en die skool het baie hulpbronne beskikbaar. By ons skool kry die kinders deur die dag vrugte, neute en vrugtekelkies, asook ’n gekookte middagete – alles gratis!

Wat was die grootste kultuurskok wat jy ervaar het nadat jy geëmigreer het?

Mense wat in hul pajamas en pantoffels winkel toe gaan of hul kinders by die skool aflaai. Dit lyk of hulle sommer enige plek só sal gaan!

Hoe lyk ’n gewone naweek vir jou daar?

Ons naweke is gewoonlik rustig, met tyd by die huis, die gewone huistake en kerk toe gaan. Ons skakel ook elke Sondag by ons kerk in Suid-Afrika se regstreekse uitsending in om na die diens te kyk.

Sondagmiddae gaan stap ons as gesin, koop roomys en eet dit in die parkie. Wanneer die weer lekker is, ry ons strand toe om die dag daar deur te bring, of ons gaan na die openbare swembad.

Het jy al enige plaaslike gewoontes of tradisies aangeleer wat nou deel van jou alledaagse lewe geword het?

Beet op ’n hamburger is nogal lekker! My man en kinders het ook al van die plaaslike sêgoed aangeleer.

Hoe maklik is dit om Suid-Afrikaanse produkte en kos te kry waar jy woon, en watter lekkernye mis jy die meeste?

Ons is baie bevoorreg om sowat 400 meter van ’n Suid-Afrikaanse winkel af te woon. Ek gaan weekliks soontoe vir Ina Paarman se speserye, blatjang, Romany Creams en Jelly Tots.

Een van my man se werkskollegas maak ook heerlike biltong en droëwors. Tog mis ek goeie slaghuisvleis en boerewors. En ek mis my skoonma se tuisgemaakte konfyt verskriklik!

Vir my proe die vrugte hier nie heeltemal so lekker soos dié in Suid-Afrika nie. Ek mis ook daardie gróót waatlemoene!

Het jy ander Suid-Afrikaners of Afrikaanssprekendes in jou omgewing ontmoet?

Ons het redelik vinnig ’n kerk gevind en daar baie mense uit Suid-Afrika ontmoet. Van hulle tel nou onder ons naaste vriende.

Watter plek in jou nuwe land sal jy vir iemand aanbeveel om minstens een keer te besoek?

Ons het nog nie baie gereis sedert ons hier aangekom het nie, maar Ōmokoroa was vir my ’n pragtige dorpie. My man was onlangs in Queenstown op die Suideiland. Hy sê dit is pragtig daar, en die foto’s vertel dieselfde storie!

Wat is iets van die lewe daar wat jy wens Suid-Afrika ook gehad of anders gedoen het?

Ek waardeer dit dat ek rustig saam met my gesin kan gaan stap sonder om bekommerd te voel. Ek en my vriendin gaan ook gereeld draf, en dit is vir my lekker om dit met gemoedsrus te kan doen.

Aan die ander kant, wat dink jy doen Suid-Afrika beter as jou huidige land?

Vir ons bly die kerk- en familielewe in Suid-Afrika besonders. Ek verkies ook Suid-Afrika se vrugte, groente en speserye.

Watter Afrikaanse of Suid-Afrikaanse tradisies is vir jou belangrik om steeds in die buiteland voort te sit?

Ons herdenk elke jaar Geloftedag. Dit is vir ons belangrik om ons kinders te leer waar ons vandaan kom. Ons voel dit is ons verantwoordelikheid om dié geskiedenis aan hulle oor te dra.

Ons luister elke week na ons Afrikaanse kerk se diens en praat Afrikaans met ons kinders. Dit is vir ons belangrik om ons taal lewend te hou.

En wanneer dit reën, bak ons pannekoek, net soos my ma altyd vir ons gedoen het.

Wat is die snaaksste of interessantste misverstand wat jy al weens taal- of kultuurverskille beleef het?

Hier sê mense dikwels “sweet as”, wat beteken iets is goed. Ek wag partykeer steeds vir die res van die sin! Ek het al gevra: “Sweet as what?”

As iemand jou môre bel en sê hulle oorweeg dit om na Nieu-Seeland te verhuis, wat sou jy sê moet hulle vooraf weet?

Die verlange na ons ouers word nooit minder nie. Dit is dikwels moeilik om klein kindertjies groot te maak sonder jou mense naby – daardie ondersteuningsnetwerk wat ’n mens so nodig het.

Ek sou ook sê jy en jou huweliksmaat moet heeltemal op dieselfde bladsy wees. Vir my is dit noodsaaklik om so ’n groot besluit saam te neem. Bid eers baie daaroor!

Vertroude gewoontes in ’n nuwe omgewing

In Elni en haar gesin se lewe in Auckland is daar plek vir nuwe vriendskappe, uitstappies see toe en plaaslike sêgoed. Daar is ook steeds plek vir Afrikaans, geloof, familiegeskiedenis en pannekoek wanneer dit reën. Die verlange na hul ouers bly deel van hul ervaring, selfs terwyl hulle hul alledaagse lewe in Nieu-Seeland voortsit.

Vertel vir ons jou storie

Waar in die wêreld woon jy, en watter tradisie laat jou steeds tuis voel? Deel dit met ons in die kommentaar. Wil jy ook jou ervaring in AfriForum Wêreldwyd se Uit en tuis-reeks vertel? Kontak ons gerus, ons hoor graag van jou.

Deel op

Nuutste artikels