Toeka tot nou: Afrikaanse musiek en herinneringe reis saam na 2027

12/10/2026
| Deur Sue-Ann de Wet
Toeka tot nou all Cover

Daar is liedjies wat jou binne die eerste paar note na ’n ander tyd terugneem: na langpadvakansies, ’n kuier om die braaivleisvuur of die musiek wat in jou ouerhuis gespeel is. En dan is daar die nuwe treffers wat vandag hul eie plek in jou lewe en jou gesin se herinneringe kry.

In Maart 2027 bring SA Events dié herinneringe bymekaar met Toeka tot nou, ’n konsertreeks vir gehore in Nieu-Seeland en Australië. Die organiseerder, Arno Nel, beskryf dit as hul grootste produksie tot dusver, met vyf bekende kunstenaars op die verhoog: Steve Hofmeyr, Liezel Pieters, Refentse, Ricus Nel en Karlien van Jaarsveld.

’n Musikale reis deur die jare

Die idee agter Toeka tot nou is om geliefde Afrikaanse liedjies van vroeër saam met die deelnemende kunstenaars se groot treffers te vier. Gehore kan uitsien na ’n aand van bekende musiek, uiteenlopende stemme en volop geleenthede om saam te sing. ’n Orkes van Suid-Afrikaanse musici reis ook saam om die produksie te begelei.

Die bonus is dat verskillende generasies dieselfde aand saam kan geniet. Vir sommige sal die bekende klanke herinneringe aan hul grootwordjare oproep. Vir ander is dit ’n kans om hul gunstelingkunstenaars op die verhoog te sien. Ouers en kinders kan saam ontdek hoe die liedjies van gister en vandag deel van dieselfde verhaal is.

’n Aand om jou taal saam te vier

Wanneer jy in die buiteland woon, kry ’n aand van Afrikaanse musiek soms ’n besondere betekenis. Jy hoor jou taal rondom jou, herken die woorde van ’n liedjie en hoef vir ’n slag niks te vertaal of te verduidelik nie.

Só ’n konsert kan ook die begin van nuwe herinneringe wees: die aand toe julle saam met vriende gaan kuier het, iemand ontmoet het of jou kind vir die eerste keer ’n geliefde kunstenaar in lewende lywe sien optree het.

Toeka tot nou bied ’n geleentheid om die musiek waarmee jy grootgeword het saam te neem in die lewe wat jy nou bou. Nooi jou mense, maak ’n geleentheid daarvan en geniet die eenvoudige vreugde van saam sing.

Waarom AfriForum Wêreldwyd betrokke is

AfriForum Wêreldwyd se betrokkenheid by Toeka tot nou sluit aan by die organisasie se strewe om Afrikaners in die buiteland met mekaar en met hul wortels te verbind. As AfriForum se inisiatief vir Afrikaners oorsee bied AfriForum Wêreldwyd ’n tuiskomplek waar mense hul taal, kultuur en verbintenis met Suid-Afrika kan uitleef.

Konserte soos dié bied ’n waardevolle geleentheid om hierdie bande te versterk. Mense ontmoet mekaar, kuier in Afrikaans en deel ’n ervaring wat dikwels nog lank ná die laaste liedjies voortleef. Vir gesinne is dit ook ’n geleentheid om kinders aan Afrikaanse musiek bekend te stel en saam nuwe herinneringe te maak.

Wanneer mense in die buiteland saam in Afrikaans sing, deel hulle ook herinneringe en ’n stukkie van wie hulle is. Vir AfriForum Wêreldwyd is dit belangrik om geleenthede te ondersteun waar mense mekaar kan ontmoet en ’n gevoel van verbondenheid kan ervaar. Ons wil help bou aan bande wat ook ná die konsert bly bestaan.

Die betrokkenheid weerspieël AfriForum Wêreldwyd se boodskap dat afstand nie die einde van verbondenheid hoef te beteken nie. Deur musiek en saamkuier kan Suid-Afrikaners hul bande met mekaar versterk en hul taal en kultuur deel maak van hul lewe oorsee.

Groot belangstelling in Auckland

Die belangstelling het reeds tot ’n ekstra vertoning in Auckland gelei. Volgens South African Events het die oorspronklike vertoning op Vrydag 19 Maart 2027 binne vyf dae uitverkoop. ’n Tweede vertoning is daarom vir Donderdag 18 Maart by dieselfde teater aangekondig.

Dit gee meer mense die geleentheid om die produksie te beleef en saam deel te word van die kuier.

Waar en wanneer?

Die aangekondigde program vir Maart 2027 is:

  • Donderdag 18 Maart 2027: Auckland – Bruce Mason Centre (ekstra vertoning)
  • Vrydag 19 Maart 2027: Auckland – Bruce Mason Centre
  • Saterdag 20 Maart 2027: Brisbane – Edmund Rice Performing Arts Centre (ERPAC)
  • Sondag 21 Maart 2027: Perth – Kingsway Theatre, Darch

Besoek South African Events vir kaartjies en volg die bespreekskakel vir jou stad.

Gehore kan uitsien na ’n paar aande in 2027 waarin bekende liedjies nuwe herinneringe kry. Want waar jy ook al woon, kan ’n liedjie wat jy saam met jou mense sing jou sommer tuis laat voel.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van

Nuutste artikels