Sewe jaar in Nieu-Seeland: Die verlange reis saam

03/11/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Marcel en Annette Versfeld

Om ’n lewe in ’n ander land te bou, bring nuwe ervarings, verhoudings en uitdagings. Tog bly die bekende geure, klanke en mense van jou geboorteland dikwels deel van jou alledaagse lewe. Marcel Versfeld, predikant van die Afrikaanse Christen Kerk se Whangārei-gemeente in Nieu-Seeland, kyk terug op sewe jaar oorsee. Hy vertel van afskeid, geloof en die verlange wat saam met hom en sy vrou, Annette, oor twee oseane gereis het.

Marcel skryf:

Sewe jaar later

Dit is vandag 21 Oktober 2026. Presies sewe jaar later en tog voel 21 Oktober 2019 soos 70 jaar gelede. Ek kyk terug. Ek kyk vorentoe. En bo alles kyk ek op, want waar sal my hulp vandaan kom?

Die laaste foto wat ek in Suid-Afrika geneem het, was van ’n sonsondergang. Ek staar gereeld daarna. Dan sien en ruik ek die Bosveld, voel ek die suidooster deur my hare waai by Millers Point, hoor ek die fisant vroegoggend roep en die tarentale wat tingel-tingel, tingel-tingel antwoord.

Die rooibok se grom, die stof in Kameeldrift, die pap en sous op my lippe, die biltong in my hande en Ouma se beskuit loop in my are.

Ek trek my mense soos Laurika se moskombers styf oor my ore wanneer ek saans gaan slaap, want die groen gras van Nieu-Seeland is beslis niks soos die wiegende grasvelde tussen Witbank en Pretoria nie.

Ons storie is andersom

Dit is net ons twee wat hier geland het: ek en Annette, my vrou van 36 jaar. Ons storie is andersom, want dit is mos gewoonlik die kinders wat alles – pa, ma en die diere – agterlaat vir ’n “beter” lewe.

Ek is predikant by die Afrikaanse Christen Kerk se Whangārei-gemeente. Ons het hier geland met die pas van Paul Nash (wie onthou hom nog?), want ’n lidmaat het op sterwe gelê in ’n Aucklandse hospitaal.

Ek begrawe hom nog voordat ek my eerste erediens kon hou en huil saam met vreemdelinge asof dit my eie pa is.

Ek huil. Ek rou. Ek neem afskeid.

Maar dit is ook ’n ander afskeid wat ek neem. Gister was ek nog daar, en nou is ek hier.

Wat dit vra om te vertrek

Baie het vir Retief en sy Trekkers gesê hulle hardloop weg uit die kolonie. Dit was 1837. Net so het baie gesê emigrante hardloop weg uit die nuwe Suid-Afrika. Dit was in 1995, en elke jaar daarna, tot vandag toe.

“Hardloop weg,” dink jy?

En ek vra: “Weet julle wat dit is om oor die Drakensberg te klim? Om oor twee oseane en 14 000 kilometer te swem?”

Hier in Nieu-Seeland is ons duisende Saffas. Ons praat Afrikaans. Ons eet boerewors, biltong en Ouma se beskuit. Ons sing in Afrikaans en lees die Bybel in Afrikaans.

Ons skree vir die Bokke.

En ons verlang.

Want al is ons uit Suid-Afrika, is ons bloed nog groen.

Groete uit Whangārei, Nieu-Seeland

Marcel Versfeld

Deel jou storie met ons

Marcel se terugblik gee woorde aan ’n ervaring wat baie van ons mense in die buiteland sal herken: jy bou aan ’n lewe waar jy nou is, terwyl herinneringe aan jou mense en jou grootwordwêreld saamreis.

Hoe lyk jóú lewe in die buiteland? Watter klanke, geure of klein gewoontes laat jou weer tuis voel? Deel jou ervaring met AfriForum Wêreldwyd — of jy pas aangekom het of reeds dekades oorsee woon. Jou storie kan iemand anders laat voel dat hulle nie alleen is nie.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van

Nuutste artikels