Deur Ernst van Zyl
AfriForum het in 2023 sy internasionale bewusmakingsveldtog by die Verenigde Nasies (VN) voortgesit. Net soos ons 2022-besoek aan die VN, was hierdie veldtog ook veelsydig en meerdoelig.
Die VN se Komitee vir die Beëindiging van Rassediskriminasie (CERD)
AfriForum het weggespring deur deel te neem aan CERD se hersieningsproses van die stand van rassediskriminasie in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse regering het voor CERD verskyn vir ’n vierjaarlikse evaluasie van hul rekord wat die bestryding van diskriminasie betref.
Toe AfriForum in 2022 ’n verslag by CERD ingehandig het, is ons genooi om in 2023 ’n addisionele opvolgverslag in te dien. Ons 2022-verslag het verskeie van die ergste voorbeelde van rassediskriminasie teenoor minderhede sedert 2020 volledig gedokumenteer. Dit sluit gevalle van rassediskriminasie deur die regering in sowel as gevalle deur ander weens regeringsdruk asook haatspraak teen minderhede soos “Kill the Boer”. In ons 2023-verslag het ons spesifiek gefokus op die meer as 116 rasgebaseerde wette wat sedert 1994 deur die Suid-Afrikaanse regering bekragtig is. Die indiening van die 2023-verslag het ook gepaardgegaan met ’n geleentheid om ’n mondelinge voorlegging voor die VN-komitee te doen. Inligting uit beide AfriForum se verslae en my voorlegging is tydens die hersieningsproses deur CERD benut in die ondervraging van die Suid-Afrikaanse regering.
Ek het die voorleggingsgeleentheid gebruik om ons verslag se inhoud aan te vul met voorbeelde van diskriminasie, soos die Dis-Chem-memo wat ’n moratorium op die aanstelling en bevordering van wit mense aangekondig het. Solidariteit het ook ’n verslag ingehandig en ’n voorlegging gedoen, wat beteken het dat ek gelukkig nie Afrikaner-alleen by CERD se hoofkwartier in Genève opgedaag het nie. Beide AfriForum en Solidariteit het ook deelgeneem aan ’n vraag-en-antwoord-sessie met die komiteelede waartydens meer detail verskaf is rakende ons voorleggings.
Volgende op die program was die afvaardiging van die Suid-Afrikaanse regering, onder leiding van die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, se voorleggings en CERD-komiteelede se vrae aan hulle.
AfriForum en Solidariteit se impak op die forum is eerste gereflekteer in die vrae wat oor rassekwotas in sport gevra is – soos uiteengesit in my aanbieding. Minister Lamola het in reaksie hierop valslik beweer dat die regering rassekwotas in sport “afgeskaf” het.
Régine Esseneme, ’n CERD-komiteelid, het die Suid-Afrikaanse regering se afvaardiging uitgevra oor plaasmoorde, haatspraak wat plaasaanvalle aanhits, plaasmoorde-ontkenning deur Julius Malema, en wat gedoen word om hierdie kwessies die hoof te bied. Esseneme het spesifiek na die wrede moord op Brendin Horner as voorbeeld verwys.
Lamola het oudergewoonte plaasmoorde afgeskryf as doodgewone geweldsmisdaad en het ongelykheid as dryfveer aangevoer. Hy het verder ontken dat boere in Suid-Afrika geteiken word en het die onderwerp probeer verander na plaaswerkers wat deur hul werkgewers mishandel word. Mxolisi Nkosi, die ambassadeur en permanente verteenwoordiger van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies in Genève, was op sy pos as Lamola se eggo wat hierdie narratiewe betref.
Esseneme het die Suid-Afrikaanse afvaardiging se antwoorde as “vaag” bestempel en bygevoeg dat ’n verslag wat by CERD ingedien is (AfriForum se 2022-verslag), minstens twee gevalle van plaasmoorde gedokumenteer het wat direk met die “Kill the Boer”-dreunsang verband hou. Sy het versoek dat die regering meer besonderhede oor hierdie sake asook oor die vervolging van plaasmoordenaars aan CERD moet verskaf. Lamola het onderneem om dit te doen.
Komiteelid Y.K.J. Yeung Sik Yuen, met AfriForum se 2022-CERD-verslag in die hand, het die Suid-Afrikaanse afvaardiging versoek om besonderhede te verskaf oor die vordering van die hofsake teen Malema en die EFF met betrekking tot die “Kill the Boer”-dreunsang. Lamola het gesê die Gelykheidshof het beslis dat dié dreunsang nie haatspraak is nie, maar dat ’n appèlsaak (deur AfriForum) hangende is.
AfriForum het op vele terreine deurbrake gemaak deur ons deelname aan hierdie CERD-sessies. Een van die noemenswaardigste hiervan is dat die netelige kwessies van plaasmoorde en “Kill the Boer” vir die eerste keer deur ’n VN-komitee amptelik bespreek is en dat ons regering op hierdie vlak daarmee gekonfronteer is. Daarby, was dit uit die regeringsafvaardiging se antwoorde opmerklik dat die ANC geen daadwerklike oplossings vir die land se kernprobleme het nie. Hul strategie fokus hoofsaaklik op die formulering van desperate en fabelagtige verskonings. Die regering se verteenwoordigers het dit ooglopend onmoontlik gevind om hul moedeloosheid en selftwyfel te verdoesel. As AfriForum-verteenwoordiger, wat elke week met my kollegas oplossings bedink en bydra tot die praktiese uitvoering daarvan, was ek verlig dat my lot nie hoofsaaklik in die hande van hierdie kaders is wat só verslane, planloos en oorweldig klink nie.
Die skreiende kontras tussen AfriForum en Solidariteit se filosofie wat wentel rondom bou en die soeke na oplossings en die ANC se benadering wat wentel rondom die soeke na verskonings en om ander vir hul mislukkings te blameer, was onmisbaar. Die een kant veg om sy verantwoordelikhede te eien en uit te brei, terwyl die ander veg om hul verantwoordelikhede te ontken of uit te kontrakteer.
Die VN se Forum vir Minderheidskwessies
AfriForum se suksesvolle deelname aan die CERD-komponent van ons VN-veldtog is opgevolg deur ons deelname aan die jaarlikse VN Forum vir Minderheidskwessies. Hierdie jaar was ons spreekbeurt sommer tweede op die lys van ’n groot aantal deelnemers van oor die hele wêreld. In my voorlegging het ek veral die kollig laat val op plaasmoorde, die “Kill the Boer”-dreunsang, asook die regering se lang en groeiende lys rasgebaseerde wetgewing. Van die voorbeelde van rassediskriminasie wat ek genoem het, was die regering se planne om boere uit te sluit van tariefvrye uitvoere na die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk as hul plase as te wit geag word en die Departement van Water en Sanitasie se gebruik van rassekriteria as voorwaarde vir watergebruikslisensies.
My voorlegging het groot belangstelling onder van die verteenwoordigers by die Forum uitgelok. Na my voorlegging het ek ons verslag oor rassewetgewing en my kontakbesonderhede met belangstellendes gedeel. ’n Kultuur kan nie bekostig om ’n eiland te wees nie. Alle kulture het vriende nodig, veral in ’n vyandige omgewing. AfriForum het op hierdie besoek met verskeie vriende van die Afrikaners geskakel.
Slot
Hierdie besoek aan die Verenigde Nasies het my weereens laat besef hoe belangrik dit is om te verstaan dat ons lot gelukkig nie in die VN óf die ANC se hande rus nie. Ons lot gaan hoofsaaklik bepaal word deur ons planne en aksies. Ons moet dus groot dink én groot doen. Soos bespreek, is daar egter talle vrugte om te oes uit AfriForum se internasionale veldtogte. Enige stryd vir vryheid word noodwendig aan vele fronte gevoer. Elke nuwe gemeenskapsaksie, bondgenoot, erkenning, spreekbeurt, buurtwag, bouprojek, en instelling is ’n klip wat pas in die bergpas wat ons vir onsself bou op pad na vryheid en voortbestaan. Soos J.D. Kestell tereg uitgewys het: “’n Volk red homself!”
Ernst van Zyl is die hoof van openbare betrekkinge by AfriForum en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Ernst het ʼn meestersgraad (cum laude) in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.
Deel op
Nuutste artikels