AfriForum dring aan op herroeping van mynbou-aansoek op Krugerwildtuin-grens ná nóg ’n rampspoedige omgewingsimpakstudie

14/11/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
AfriForum dring aan op herroeping van mynbou-aansoek op Krugerwildtuin-grens ná nóg ’n rampspoedige omgewingsimpakstudie

Die nuutste weergawe van ’n studie om die omgewingsimpak van ’n voorgestelde steenkoolmyn op die Kruger Nasionale Park se voorstoep te ondersoek, is ’n rampspoedige mislukking wat, volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, in alle opsigte aan die voorvereistes vir omgewingsimpakstudies (OIS) misluk. AfriForum is ’n belanghebbende en geaffekteerde party (BGP) in dié aansoek en dring in sy deskundigeverslag daarop aan dat die aansoek in geheel herroep moet word en dat die Departement van Minerale Hulpbronne (DMR) nie enige verdere aansoeke vir mynregte buite die bestaande mynboustreek in Mpumalanga oorweeg nie.

AfriForum se terugvoer op die 2024-weergawe van die OIS is op 31 Oktober aan die gekontrakteerde omgewingskonsultasiemaatskappy, Kimopax, gelewer nadat kennis vir die hersiening daarvan eers op 9 Oktober ontvang is. Die tydperk vir hersiening het egter reeds ’n maand tevore, op 9 September, begin. Alle terugvoer moes reeds teen 8 November ingedien wees. Die studie is onderneem in opdrag van die mynboumaatskappy Tenbosch Mining.

Die mynmaatskappy Manzolwandle Investments het oorspronklik in 2018 ’n aansoek ingedien om ’n steenkoolmyn, op ’n gebied van 18 000 ha aan die suidelike grens van die Kruger-wildtuin, op te rig. Die aansoek is egter in Oktober 2022 onttrek, maar is sedertdien weer ingedien – dié keer deur Tenbosch Mining en vir ’n veel kleiner gebied (6 500 ha). AfriForum het die voorgestelde ontwikkeling, wat al in die media gekenmerk is as ’n “kontroversiële plan” deur ’n “obskure mynmaatskappy”, uit die staanspoor teengestaan en het ook voorheen kommentaar gelewer op die 2023-weergawe van die OIS.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van Omgewingsake, is die 2024-OIS ’n powere vertoning van regulatoriese nalatigheid. “Die goedkeuring van die aansoek wat ingebring is vir steenkoolontginning op die voorstoep van die Kruger-wildtuin – ’n omvangryke gebied wat as die vlagskip van omgewingsbewaring in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld bekendstaan – sal verreikende gevolge vir dié ekostelsel inhou. Tog kyk hierdie OIS eenvoudige, dog kritieke, feite in dié verband mis. Die studie haal verkeerde wetgewing aan; bevat liggewig navorsing; kom kort aan spesialisstudies; en voldoen nie aan die voorgeskrewe protokol van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing nie. Boonop toon die studie duidelik dat die opstellers daarvan nie die studie objektief benader het nie en skynbaar privaat belange bo die langtermynvolhoubaarheid van die omgewing ag,” benadruk De Klerk.    

AfriForum se deskundigeverslag kritiseer ook die Kimopax-verslag se tekort aan prosedurele deursigtigheid; versuim om inligting oor die vorige mynaansoeke, vorige departementele besluite of die minister se direktiewe oor mynboubeperkings in sensitiewe gebiede in te sluit of in ag te neem.

“Tenbosch Mining maak met hierdie IOS ’n belediging van omgewingsbestuur, openbare vertroue, publieke deelname en prosesse soos voorgeskryf in die relevante wetgewing. As dit toegelaat word om voort te gaan, sal dit ’n gevaarlike presedent skep, wat alle pogings om ons nasionale natuurlike erfenis en omgewingskwesbare gebiede te beskerm, ondermyn. Die DMR moet nou wys dat dié departement ernstig is oor die bewaring van ons omgewing en hierdie gebrekkige aansoek in sy geheel skrap. Suid-Afrikaners moenie stilstaan ​​terwyl onverantwoordelike maatskappye ons land vir wins uitbuit nie,” het de Klerk afgesluit.

AfriForum moedig alle Suid-Afrikaners aan om by die oproep om aanspreeklikheid aan te sluit deur die DMR te kontak om deursigtigheid, omgewingsintegriteit en beskerming van ons kosbaarste nasionale bates te eis.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels