Afrikaans in die buiteland: Wat ouers kan doen om hul moedertaal lewendig te hou
Wanneer Suid-Afrikaanse gesinne na ’n ander land verhuis, bring dit groot veranderinge mee – veral in terme van taal en kultuur. Een van die eerste uitdagings wat ouers raak, is hoe om hul moedertaal, Afrikaans, lewendig te hou in ’n land waar hulle kinders daagliks blootgestel is aan ’n ander dominante taal in die skool, media en sosiale kringe?
Die goeie nuus is: Afrikaans kan floreer in die buiteland – maar dit vra doelbewuste inspanning en volgehoue betrokkenheid. Hier is praktiese wenke, gesteun deur ervarings van Afrikaanse emigrante reg oor die wêreld en artikels op AfriForum Wêreldwyd se platform, oor hoe ouers hul moedertaal kan bewaar en bevorder.
1. Vestig ’n sterk Afrikaanse taalbasis binne die huisgesin
Die huisgesin speel ’n sleutelrol in ’n kind se taalontwikkeling.
Dis dikwels die plek waar kinders vir die eerste keer leer om hul moedertaal met begrip, emosie en selfvertroue te gebruik. Ouers wat doelbewus besluit om konsekwent Afrikaans tuis te praat – selfs al is die onderrigtaal of sosiale omgewing anders – lê ’n sterk grondslag vir hul kind se taalvermoë en identiteit. Al verg dit volharding, veral in die tienerjare, wys ervaring dat kinders met tyd die waarde van hul moedertaal begin insien en selfs trots is om dit te gebruik.
2. Skep ’n Afrikaanse leeromgewing
Selfs al gaan jou kinders na ’n skool met ’n ander onderrigtaal, kan jy Afrikaans tuis aanvul deur opvoedkundige hulpmiddels te gebruik. Daar is verskeie webtuistes en platforms wat gratis Afrikaanse leerinhoud beskikbaar stel – van alfabetkaarte tot speletjies, werksvelle en digitale boeke. Hierdie hulpmiddels maak dit maklik om taalvaardigheid op ’n prettige en toeganklike manier in die huis te bevorder. Jy kan maklik materiaal vind wat pas by jou kind se ouderdom en belangstellings as jy bietjie aanlyn soek.
Afrikaanse hulpmiddels vir jou kind in die buiteland
3. Omring jou kinders met Afrikaanse media
Kyk saam na Afrikaanse reekse, luister na Afrikaanse kinderprogramme en lees Afrikaanse boeke voor slaaptyd. Daar is tans uitstekende kyk- en luistermateriaal vir jong kinders, wat nie net die taal versterk nie, maar ook kultuur oordra.
Afrikaanse kykstof en luistermateriaal vir jou kleinspan
4. Sluit aan by Afrikaanse netwerke en gemeenskappe
Soek of begin self ’n plaaslike Afrikaanse speelgroep, kultuurklub of gesinsbyeenkoms. Kinders leer taal die beste in konteks – en as hulle ander kinders sien wat ook Afrikaans praat, versterk dit hul trots en verbondenheid met die taal.
AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is ’n handige hulpmiddel om Afrikaanse ondernemings, kerke en kulturele aktiwiteite in jou omgewing te vind.
5. Skryf en lees saam
Moedig jou kind aan om in Afrikaans te skryf – of dit nou dagboekinskrywings, poskaarte aan ouma en oupa of selfs ’n kort storie is. Lees gereeld saam met jou kind – Afrikaanse boeke is ’n uitstekende manier om taal op ’n natuurlike en gesinsvriendelike manier aan te leer. In baie lande is daar Suid-Afrikaanse entrepreneurs met hul eie ondernemings wat spesialiseer in die invoer en verspreiding van Afrikaanse kinderboeke. Deur by hulle te koop, ondersteun jy nie net die behoud van Afrikaans nie, maar ook klein sakeondernemings wat die taal help dra. Gebruik die Wêreldgids om sulke ondernemings in jou omgewing op te spoor.
Digitale boeke en e-lesers is boonop ’n toeganklike alternatief as fisieke boeke moeilik bekombaar is. Boeke skep nie net ’n geleentheid om taalvaardigheid te versterk nie, maar ook kosbare ouer-kind-oomblikke vol verbeelding en verbondenheid.
6. Kweek ’n positiewe ingesteldheid
Moenie die taal afmaak of sê “dis nie belangrik nie”. Kinders neem subtiele houdings op. As hulle sien dat jy Afrikaans met trots gebruik en waardeer, sal hulle dit ook doen. Soos een ma sê: “My kinders is nou groot, en hulle praat Afrikaans met húlle kinders – daardie trotse kringloop het by ons begin.”
Waarom al hierdie moeite?
Navorsing wys dat kinders wat hul moedertaal goed bemeester, ook makliker ander tale aanleer. Tweetaligheid verhoog kognitiewe vermoë, kultuurbewustheid en selfvertroue.
Lees ook: Waarom moet ek my moedertaal in die buiteland behou?
Afrikaans en tweetaligheid oor die grense heen
Moenie moed verloor as dit soms voel asof Engels of die plaaslike taal oorheers nie. Elke Afrikaanse sin wat jy met jou kind praat, elke Afrikaanse storie wat julle saam lees, is ’n belegging in hul kultuur en identiteit. Afrikaans kán oorleef – en selfs floreer – in die buiteland, maar dit begin by jou.
Deel jou wenke!
Hoe hou júlle Afrikaans lewendig in die buiteland?
Kom gesels saam op AfriForum Wêreldwyd se Facebook-blad en teken in op ons Kollig-nuusbrief vir meer inspirasie en hulpmiddels.
Lees ook: Ons bly vriende, al stuur jy net ’n meme



















