Dit is belangrik vir AfriForumTV om inhoud in Afrikaans vir kinders te vervaardig. Daar is ook vele ander vervaardigers wat dieselfde passie as ons deel en hul eie inhoud vir kinders in Afrikaans skep wat ook op AfriForumTV en/of AfriKinders te sien is. Ons sê dankie vir jou ondersteuning sodat ons inhoud in Afrikaans vir jou kind kan skep.
Wat is die verskil tussen AfriForumTV en AfriKinders?
- AfriForumTV is ’n gratis stromingskanaal met verskeie kategorieë, dit is vermaak, aktueel, interskole: sport en kultuur, AfriKinders, geestelik, radio, onafhanklike inhoud en ’n skolekanaal.
Jy kan dit kry deur www.afriforumtv.co.za te besoek. Die toep op jou selfoon af te laai. Dit kan ook op jou televisie afgelaai word as dit ’n Google Play-gesertifiseerde slim-TV is. Dit is dan ook beskikbaar op verskeie TV Box’e. - AfriKinders is ’n gratis toep met ’n verskeidenheid Afrikaanse inhoud vir kinders tussen die ouderdom 2 en 13. Jy kan die toep aflaai op jou selfoon en kinders kan dan veilig net na die kinderinhoud kyk.
Jy kan help
Deur maandelikse bydraes en/of donasies kan ons Afrikaanse inhoud vir kinders vervaardig en ook onafhanklike vervaardigers ondersteun wat by die huis Afrikaanse inhoud vervaardig. Dit is alles te danke aan die lojale lede van AfriForum. Ons het ’n passie om inhoud te skep en dit maak ons harte warm as ons dit kan doen vir ons kinders.
Hier is wat jy op AfriForumTV en/of AfriKinders kan kyk:
Vervaardig deur AfriForumTV:
Ouma en Oupa het rooimiere
In hierdie reeks meng Michael soms sy Afrikaans en Engelse woorde. Ouma en Oupa, wat lief is vir hul moedertaal, leer Michael wat die Afrikaanse woord is vir die Engelse woorde wat hy gebruik. Michael begin verstaan hoe belangrik dit is om sy moedertaal te beskerm en trots daarop te wees. Elke dag na skool kuier Michael ’n bietjie by sy ouma en oupa. Hulle is altyd besig om iets te doen in hulle huis en sit nie stil nie.
Lokprente: https://www.youtube.com/watch?v=ffxrElxJ-3M&list=PLgIQI_s4q00mRFT916Rh-PUWfkGQb2Hau&index=110 en https://www.youtube.com/watch?v=5EbXzFiv0_A&list=PLgIQI_s4q00mRFT916Rh-PUWfkGQb2Hau&index=111
Gesondheid uit die grond uit
Dit is ’n kinderreeks aangebied deur twee tieners wat stap vir stap vir jou verduidelik hoe om gesonde kos voor te berei. Natasha, die dieetkundige van Gesondheid uit die grond uit, gesels met kykers oor interessante en belangrike feite van kos. Pieter Pietersielie en Karla Komkommer maak maaltydvoorbereiding baie pret.
Kyk die lokprent hier.
Klein helde
’n Afrikanerheld of -heldin is iemand wat iets dapper vir Afrikaners gedoen het en wat altyd daarvoor onthou sal word.
Kyk die lokprent hier.
Bella die Beertjie
Bella is ’n klein beertjie wat woon by Tannie Trudie. Wanneer Tannie Trudie werk toe gaan dan is Bella alleen by die huis en vang allerhande snaakse goed aan wat jou lekker laat saamlag.

Alfabetpret
Alfabetpret leer die jongspan die alfabet deur saamsing, pret en oulike karakters. Leer die alfabet op ’n prettige manier deur saam te sing en dans terwyl die Alfabetpret-karakters op hul kitare speel.
Kyk die lokprent hier.
Jabie
Jabie is ’n kinderreeks wat saam met kinders speel deur hulle te leer van verskillende dinge in die wêreld. Jabie besoek ook verskillende plekke en wys al die interessante plekke vir kinders. Elke dag is iets nuut en dit is pret om saam met Jabie te toer, leer en speel!
Kyk die lokprent hier.
Doen dit sommer self
Dit is ’n kinderreeks aangebied deur Stella wat verskillende versierings en speletjies self maak deur stap vir stap te verduidelik (en ook te wys) hoe om dit te maak. Doen dit sommer self se versierings en speletjies is hope pret vir kinders!
Kyk die lokprent hier.
Kroonland
Dit is ’n kinderreeks waarin verhale uit die Bybel deur Prinses Stella en Wouter die skaap vertel word. Hulle woon in Kroonland en vermaak die kinders terwyl daar geleer word van Jesus en die wonderwerke wat Hy gedoen het.
Kyk die lokprent hier.
Kroonland se skuur
In hierdie kinderreeks vertel verskeie diere Bybelverhale. Oom Jurie die uil, Wouter die skaap, Mila die donkie en Wynand die leeu.
Kyk die lokprent hier.
Kroonland gaan see toe
Oom Jurie die uil, Mila die donkie en Wouter die skaap het besluit om met vakansie te gaan. Hulle kies om see toe te gaan en ontmoet nuwe maats, Lizzy die seesterretjie en Chela die rob. Hulle speel, sing en vertel stories wat hierdie vakansie nog lekkerder maak.
Kyk die lokprent hier.
Kaalvoethelde
Hierdie reeks vat verhale oor helde uit die geskiedenis en vertel kinders daarvan.
Kamma-kamma
Kamma-kamma is ’n musiekgedrewe komediereeks vir die hele gesin. Die reeks se verskillende storielyne speel af in Kammafontein, waar raadslid Roos kuiergaste aan die begin van elke episode verwelkom.
Kyk die lokprent hier.
Onafhanklike inhoud:
Dieremaniere uit die Bybel
Hierdie kinderreeks leer jou meer van die maniere van sekere diere en hoe wonderlik en uniek God hulle geskep het. Hierdie produksie is vervaardig deur Moreleta Kleuters.

Juffrou Linky
Sing, dans en leer saam met Juffrou Linky, ’n regte juffrou, in hierdie kleurvolle opvoedkundige program.
Kyk die lokprent hier. Lokprent:
Juffrou Linky
Sing, dans en leer saam met Juffrou Linky, ’n regte juffrou, in hierdie kleurvolle opvoedkundige program.
Kyk die lokprent hier.
Mimiekie
Mimiekie beloof om kykers, groot en klein, weg te voer op ’n verbeeldingsreis na onbekende wêrelde gevul met aksie, avontuur en hope pret en vermaak.
Kyk die lokprent hier.
Kouskasstories
Karel en Katryn is twee kousmaats wat in ’n kouskas woon en kouskasstories vertel. Hulle ken ook vir Tannie Ronel en Tannie Jené wat stories uit die Bybel vertel. Moreleta Kleuters het hierdie produksie vervaardig.

Lami
Lami ontmoet kinders op hulle vlak met media wat sowel opvoedkundig as opbouend is. Die lesse oor diere, die alfabet, kleure en vorms is saamgestel om kreatiwiteit en nuuskierigheid met liedjies en rympies aan te moedig. Hierdie gratis hulpmiddel word beskikbaar gestel deur ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker wat haar eie privaat praktyk bedryf.

Tannie Lea
Tannie Lea is ’n Afrikaanse opvoedkundige program vir kinders, propvol pret en leergeleenthede. Die reeks is ontwerp om jong kinders op ’n kreatiewe en interaktiewe manier te leer.

Tannie Bianca
Hierdie program is vervaardig deur ’n Afrikaanse mamma wat lief is vir haar taal en vir haar kind. Sy deel haar liedjies en rympies wat haar ma vir haar gesing of vertel het met almal.

Lees meer oor AfriforumTV: Geniet die beste van AfriForumTV in die buiteland



















