ANC-leiers moet volle skuld dra vir Trump-uitsprake, sê AfriForum
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vanoggend tydens ’n mediakonferensie gesê president Cyril Ramaphosa en die ANC-leierskap moet die volle skuld dra vir die Amerikaanse president, Donald Trump, se uitspraak dat hy befondsing aan Suid-Afrika gaan staak.
AfriForum voer ook aan dat die Presidensie, die ANC en hul bondgenote se pogings om AfriForum die skuld vir Trump se uitsprake te gee, ’n duidelike poging van Ramaphosa en die ANC is om hulself te probeer verontskuldig vir die negatiewe gevolge van hul eie onbesonne, ekstremistiese beleidsrigtings en optrede.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Trump sy kommer uitgespreek oor twee spesifieke sake, naamlik die regering se miskenning van eiendomsreg, asook dat minderhede in Suid-Afrika, soos Trump dit noem, “baie sleg” behandel word. Beide elemente van Trump se kommentaar is ’n direkte gevolg van Ramaphosa en die ANC se onverantwoordelike optrede rakende dié twee sake.
Die ANC se buitelandse beleid om betrokke te raak by internasionale magstryde en hulself by die vyande van die VSA te skaar, eerder as om neutraal te bly, het ook onderliggend tot Trump se optrede bydra, luidens Kriel.
AfriForum wys daarop dat Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet, wat eiendomsreg bedreig, die laaste strooi was. Volgens Kriel het AfriForum in April 2024 aan Ramaphosa geskryf om te vra dat hy die Onteieningswetsontwerp na die parlement terugverwys omdat artikel 12(3) – wat onteiening met nul-vergoeding moontlik maak en die omstandighede waaronder dit toegepas kan word, nie deur die wet beperk word nie – beleggers sal verjaag. “Ongelukkig het Ramaphosa hierdie versoek geïgnoreer. Ramaphosa, en nie AfriForum nie, het die wet onderteken en daarom moet die president volle verantwoordelikheid aanvaar vir die wrang vrugte wat die land en sy mense nou pluk,” sê Kriel.
Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, wys daarop dat die ANC se uitsprake en optrede in aanloop tot die aanvaarding van die Onteieningswet kommer oor dié wet regverdig. “Pogings om die Grondwet te wysig om privaat eiendomsreg te vernietig; die aanprysing en heldeverering van grondgrypers soos Robert Mugabe; en die verklaring dat die doel van die Onteieningswet is om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is enkele voorbeelde van die ANC se uitsprake en optrede wat kommer wek,” voeg Van Zyl by.
Volgens Jacques Broodryk, veiligheidswoordvoerder van AfriForum, is daar groeiende kommer in die buiteland oor die skending van eiendomsreg deur grondgrype in Suid-Afrika. “Alhoewel die regering nie tot dusver noodwendig direk verantwoordelik was vir die grondgrype nie, dra hulle ook skuld daaraan omdat die polisie in talle gevalle versuim om op te tree teen besetters en wetgewing dit baie moeilik maak om grondgrypers van die besette grond te verwyder. ANC-raadslede is boonop ook al telkemale by onwettige grondgrype betrek,” sê Broodryk.
Met verwysing na Trump se kommer oor minderhede wat “baie sleg” behandel word, wys Kriel daarop dat dit Ramaphosa was wat die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) onderteken het wat spesifiek Afrikaanssprekende kultuurgemeenskappe se voortbestaan bedreig deurdat Afrikaanse skole spesifiek geteiken word. Volgens Kriel is dit ook onder ANC-beheerde regerings dat 141 rassewette, waaronder 116 nuwe wette, steeds op die wetboeke te vinde is.
Die VSA se optrede teen die regering se skending van eiendomsreg en diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika, word volgens Kriel ongelukkig ook versterk deurdat ANC-regeringsverteenwoordigers, met Ramaphosa se seën, besluit het om met Hamas te skakel en vriendskapsbande met lande soos Iran te bou. Dit het die indruk geskep dat Ramaphosa en die ANC ’n sterk anti-Westerse houding het en téén die VSA kant kies. “Neutraliteit sou kon verseker dat Suid-Afrika kon voortgaan om sonder struikelblokke handelsbande met China én die VSA, die land se twee grootste handelsvennote, voort te sit,” voeg Kriel by.
Die feit is dat AfriForum hard gepoog het om plaaslik, deur middel van gesprekvoering met Ramaphosa en die ANC, oplossings te vind vir die krisis wat die polariserende Onteieningswet en Bela geskep het, verduidelik Kriel. Hy wys daarop dat ten spyte daarvan dat Ramaphosa hierdie pogings geminag het, AfriForum se standpunt deurlopend was dat die land en gevolglik gewone mense nie gestraf moet word vir Ramaphosa en die ANC se optrede nie. “Juis daarom het AfriForum deurlopend gevra dat die Amerikaanse wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) in beskerming geneem moet word en sou die VSA wel wil optree, hulle eerder moet fokus op diegene wat vernietigende beleide deurdruk,” se Kriel.
Kriel benadruk dat AfriForum uit lojaliteit teenoor die land se mense steeds sterk verbind is daartoe om oplossings te vind. “Daarom stel ons voor dat wysigingswette wat die knelpunte van die Onteieningswet en Bela sal oplos, as ’n saak van dringendheid ter tafel gelê moet word,” sluit Kriel af.
Deel op
Nuutste artikels