Boerebande in verre lande 12: Emily se storie

05/12/2025
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 12: Emily se storie

Oor Emily Hobhouse, die “heldin uit die vreemde” soos Rykie van Reenen haar beskryf het, is al heelwat geskryf. Hierdie Engelse vrou wat haar só intens met die nood van die Boerevroue en -kinders tydens en na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) kon vereenselwig, het ’n reuse rol gespeel om die lot van die slagoffers in Britse konsentrasiekampe te verlig en die Britse publiek van die vergrype aldaar bewus te maak. Sy is dan ook die eerste buitelander wat ’n staatsbegrafnis in die land gekry het en by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is.

Hoewel sy in haar leeftyd voorspraak vir verskeie aktuele kwessies gemaak het, is sy in relatiewe onbekendheid oorlede en weet min Britte vandag van haar bestaan en rol. In 2024 is ’n museum egter in haar geboortehuis geopen wat ten doel het om haar inspirerende lewensverhaal in herinnering te roep.

Emily is op 9 April 1860 in St Ive in Cornwall, Engeland gebore as die vyfde van ses kinders. Sy was ’n leergierige kind wat slegs tuisonderrig ontvang het. Haar moeder is oorlede toe sy twintig was en daarna het sy haar sieklike vader veertien jaar lank versorg. Duidelik was sy iemand met ’n sterk roepingsbesef om na ander om te sien, want na sy dood het sy na Minnesota in die VSA gegaan om daar welsynswerk onder Corniese mynwerkers te doen. Daar het sy aan ene John Carr Jackson verloof geraak. Hulle het selfs saam ’n plaas in Meksiko gekoop, maar die verlowing en haar beleggings het misluk. Sy het in 1898 na Engeland teruggekeer.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het Leonard Courtney, ’n Britse parlementslid van die Liberale Party haar genooi om die sekretaresse van die vrouetak van die South African Conciliation Committee te word. In 1900 het sy bewus geraak van die nood van soveel Boerevroue en -kinders as gevolg van die oorlog en Britse optrede teen hulle. Sy het ’n fonds, die South African Women and Children Distress Fund op die been gebring en ten einde na die bestuur daarvan om te sien, op 7 Desember 1900 na die Kaap vertrek. Met behulp van invloedryke vriende en familie is sy amptelik aan die Britse Hoëkommissaris, lord Alfred Milner, bekendgestel. Sy kon sy met sy hulp en met die militêre aanvoerder, lord Herbert Kitchener se toestemming twee treinwaens kry om meer as 12 ton lewensmiddele na Bloemfontein en die konsentrasiekampe te neem.

Emily het verskeie konsentrasiekampe persoonlik besoek en was diep geskok oor die toestande wat sy daar aangetref het. Sy het ’n verslag daaroor opgestel wat in Engeland gepubliseer is en in beide huise van die parlement bespreek is. In reaksie is ’n amptelike ondersoekspan afgevaardig om die kampe te inspekteer. Dit was onder leiding van Millicent Fawcett oor wie reeds vroeër in die reeks geskryf is. Die span het Emily se bewerings gestaaf, maar sonder erkenning aan haar wat dit aan die lig gebring het.

In Oktober 1901 het sy na die Kaap teruggekeer, maar kon nie toestemming kry om aan wal te gaan nie. Sy is terug na Engeland gedeporteer, maar het geweier om in te pak en te gaan. Uiteindelik moes ’n groep mans haar met haar tjalie vasbind en haar na die skip dra wat haar na Engeland moes terugneem!

Tuis het sy ook hewige kritiek van Britse voorstanders van die oorlog gekry. Sy is as “verraaier” en “histeriese vrou” uitgeskel. Sy het haar nie van koers laat kry nie en het ’n boek oor haar wedervaringe getiteld The brunt of the war and where it fell geskryf. Dit het in 1902 verskyn.

Na afloop van die oorlog het sy Suider-Afrika weer besoek – aanvanklik om hulp met die heropbou te verleen en in 1908 om die spin- en weefskole te help oprig wat Boerevroue moes ophef. In 1913 het sy vir die inwyding van die Vrouemonument na die land gereis. Sy kon laasgenoemde ongelukkig weens swak gesondheid nie bywoon nie. Haar inhuldigingsrede is namens haar voorgelees. Dit het op gelykheid, vergifnis en waarskuwings teen die misbruik van mag gefokus.

Sy het ook ander belangrike sake in Brittanje ondersteun, byvoorbeeld om stemreg vir vroue te verkry en pasifistiese aksies teen die Eerste Wêreldoorlog. Een van haar uitsonderlike prestasies is dat sy gesorg het dat duisende kinders in oorloggeteisterde Leipzig vir meer as ’n jaar lank daagliks voedsel gekry het. Hiermee was die Boerevroue oor wie sy haar in Afrika ontferm het, ook behulpsaam. Onder leiding van pres. M.T. Steyn se vrou Tibbie is meer as £17 000 destyds vir dié doel ingesamel.

Emily was wel ter tale en het onder meer naas Engels ook Frans, Latyn, Spaans, Italiaans, Duits en Afrikaans geken. Oor laasgenoemde het sy gesê: “What humour it can convey, what tenderness, what poetic feeling.”

Sy was baie lief vir diere. Op haar besoeke na die Anglo-Boereoorlog is sy plaaslik onder meer deur haar kat en ’n St. Bernard genaamd Caro vergesel. Caro is enkele jare later dood as gevolg van siekte en dit het haar hart gebreek. Sy het nooit weer ’n hond gehad nie. By twee geleenthede het sy egter self slange doodgeslaan wat te na aan haar gekom het.

Op 9 Junie 1926 is sy in Londen oorlede. Die oorsaak van haar dood was beide hartprobleme en kanker. Sy het haar gunsteling spreuk, “Rather wear out than rust out” tot die einde ten volle uitgeleef. Haar as is in ’n nis aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein geplaas. Meer as 20 000 mense was by dié seremonie in Bloemfontein teenwoordig.

Die huismuseum in St Ive (waar sy van haar geboorte tot op die ouderdom van 34 jaar gewoon het) nooi besoekers om Emily se nalatenskap te verken. Daarnaas sluit dit uitstallings oor die lewe in dié dorpie tydens die Victoriaanse era in, asook oor die Anglo-Boereoorlog. ’n Restaurant op die perseel sit eg-Suid-Afrikaanse disse voor.

Die museum beskryf Emily as ’n humanitêre werker, pasifis en feminis wat “in ’n era wat vroue stilgemaak is, waarheid en teenstand uitbasuin het”. Die museum en meegaande webtuiste is ’n gepaste eerbewys aan die merkwaardige vrou met haar groot hart vir haar medemens.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels