Boerebande in verre lande 4: Die president, die kunsversamelaar en die bank …

15/04/2025
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 4: Die president, die kunsversamelaar en die bank …

Helene Emma Laura Juliane Kröller-Müller en Anton Kröller

Deur Alana Bailey

Wanneer ’n mens hoor van ’n president en ’n bank, kom die gedagte van intriges om versteekte kontantgeld onwillekeurig by ’n mens op, maar daar is egter ’n storie oor ’n ander president en ’n tuinbank wat meer as ’n eeu gelede in Nederland afgespeel het.

Die verhaal begin by ’n besonder dinamiese vrou, Helene Emma Laura Juliane Kröller-Müller. Sy is in 1869 in Duitsland gebore as derde kind van die baie welvarende Müller familie. Haar vader was ’n industrialis wat sy fortuin uit mynbou en die staalindustrie gemaak het. In 1888 het sy op sy versoek met die Nederlander, Anton Kröller, getrou. Anton was werksaam in die familiebesigheid. Die egpaar het in Rotterdam, Nederland, gaan woon en vier kinders gehad. Anton het later ’n direkteur van haar vader se maatskappy geword.

Deur haar herkoms en haar man se posisie was Helene een van die welvarendste vrouens in Nederland. Sy en haar man het die eienaars van ’n landgoed geword wat tot 1909 hulle privaat eiendom gebly het. Daarna is dit ontwikkel as park vir openbare gebruik met onder meer beeldhouwerke en  jaglosies. Wildlewe is ook hier hervestig. Dit staan vandag as De Hoge Veluwe Nasionale Park bekend en is steeds een van slegs twee nasionale parke in Nederland wat in privaatbesit is. Dit word naamlik deur ’n stigting bestuur.

In haar jonger jare het Helene haar in studies oor geloof en spiritualiteit verdiep, maar in 1905 het sy en haar een dogter, Helene Junior, kunsklasse by die Nederlandse skilder en kunskritikus, Henk Bremmer, begin neem. Danksy sy onderrig het sy kuns leer waardeer en besluit om ’n versameling op te bou. Sy was een van die eerste mense wat Vincent van Gogh se kuns waardeer het en sy het 90 skilderye en 185 sketse van hom gekoop in ’n stadium wat min ander daarin belanggestel het.

In 1910 het sy Florence in Italië besoek en besluit om ’n museum vir haar kunsversameling te skep. Sy het gehou van die idee dat dit nie net adellikes is wat sulke projekte onderneem nie, maar ook “gewone” mense soos sy. Vanaf 1913 het sy dele van haar versameling in Den Haag ten toon gestel, maar in 1917 aan die befaamde argitek, Hendrik Petrus Berlage, opdrag gegee om ’n kunsmuseum vir die Veluwe-landgoed te ontwerp waar alles gehuisves kon word.

Helene was alles behalwe net ’n ryk versamelaar – sy het lewenslank haar belangstelling in die geestelike lewe behou en is diep deur onreg en lyding geraak. Dit verklaar ook waarom sy en haar man in die verloop van die Anglo-Boereoorlog belanggestel het. Hulle het ’n groot bewondering vir Marthinus Theunis Steyn, die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, ontwikkel. Tydens sy besoek aan Nederland in 1903, het Steyn by die Kröllers gekuier en hulle het lewenslank vriende gebly. Helene het besluit dat ’n monument vir Steyn digby haar beplande kunsmuseum opgerig moes word.

Aanvanklik het sy opdrag aan die beeldhouer Joseph Mendes da Costa gegee om die monument te skep. Hy het ’n halfronde tuinbank ontwerp met ’n 2-meter hoë standbeeld van Steyn in die middel. Helene het Steyn as ’n besonder wyse man beskou en Da Costa het Steyn dus as filosoof uit die Antieke Tyd uitgebeeld. Die beeld is in 1920 voltooi. Helene het egter glad nie gedink dat die beeld paslik is nie, en het Da Costa se plan verwerp. Sy het wel die beeld gehou en dit is tans in die Jachthuis Sint Hubertus in die Veluwepark te sien. Die titel daarvan is na Die filosoof verander.

Volgende het sy die argitek en ontwerper, Henry van de Velde, gevra om ’n nuwe ontwerp te maak en daarmee was sy baie tevrede. Dit was steeds ’n tuinbank, maar sonder enige standbeeld en met ’n treffende parkontwerp met struike, bome en plaveisel daaromheen. Die bank is uit Maulbronner sandsteen gemaak. In die middel daarvan is ’n reliëf met drie simbole wat uitbeeld hoe Steyn uitdagings aangepak het, naamlik ’n vergrootglas, ’n barometer en ’n swaard. Die verklaring vir die simbole is dat hy eers gebeure deeglik beskou het, dan die klimaat daaromheen bestudeer het en daarvolgens tot kragdadige aksie oorgegaan het. Die idee was dat besoekers op die bank kon sit en peins, en as’t ware met die gees van die president in gesprek kon tree om wysheid uit sy ervaring te put. Die bank is in 1924 voltooi.

Helene se lewe het verskeie interessante wendings geneem. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het sy byvoorbeeld in 1914 na Liège in België gereis om na gewondes in die Engelse Hospitaal (l’Hôpital des Anglais) om te sien.

’n Groot slag het die familie in die 1920s getref toe hulle besigheid bankrot gespeel het. Helene het vertoë tot die Nederlandse regering gerig om haar planne vir die kunsmuseum voort te sit. Hulle het ingestem en sy het eienaarskap van haar kunsversameling aan die regering oorgedra, op voorwaarde dat die museum steeds op die Veluwe-landgoed gebou sou word. Dit is in 1938 voltooi en kort daarna, op 14 Desember 1939, is Helene oorlede.

Sy sal onthou word vir die wonderlike kunsskatte wat danksy haar vir Nederland behoue gebly het en die park wat sy en haar man geskep het. Suid-Afrikaners kan in die besonder die Steyn-park en -bank gaan besoek en ’n rustige tydjie daar verwyl om inspirasie uit die voorbeeld van dié groot Afrikaner te put.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels