Die burgemeester van Nice het sy amptelike Rolls Royces beskikbaar gestel vir die boksers en hulle afrigtingspanne. Die idee was dat hulle langs die see op die pragtige kuspad moes afry om die geveg bekend te maak. Maar die Spinks-groep het nie geweet of nie belanggestel nie en die Coetzee-mense het toe amper elkeen ’n Rolls met ’n bestuurder tot hulle beskikking gehad. Ek sal nooit vergeet dat die Franse plakkate wat op die Rolls Royces en elders was, na “Gerry Coetz” verwys het nie.
Ons het by die inweegseremonie ingestap en niemand het ons gevra wie ons is, of waar ons akkreditasie of paspoorte is nie. Dink jy dit sal vandag gebeur? Gerrie se afrigter was toe nog sy pa en sy amateurafrigter. Gerrie het nie eens sy hemp uitgetrek toe hy op die skaal geklim het nie en sy hele houding was vooroor gebuig, amper inmekaargetrek. Hy het beslis nie gelyk of hy baie selfvertroue gehad het nie. Ek het gesien die Amerikaners knipoog vir mekaar. Hulle het duidelik gedink die outjie gaan ’n “pushover” wees. Ken Norton, die beroemde swaargewig wat drie keer teen Muhammad Ali baklei het en sy kakebeen gebreek het, het langs my gestaan. Hy het NBC of CBS, een van die Amerikaanse televisienetwerke verteenwoordig. Norton was vriendelik en welsprekend en het belanggestel in Suid-Afrika.
Kort en kragtig
Die geveg was so beplan dat dit ná middernag in Suid Afrika sou plaasvind, wat elfuur die Sondagaand in Monaco was. Ons het vroeg die aand weggespring van Nice af, waar ons tuisgegaan het, en toe nog twee jong rylopers opgetel op pad na die geveg toe. Hoe op aarde het ons almal in die klein karretjie ingepas? Ons het egter lekker gesels, en die man het vertel dat hy in die handelsvloot was, maar dat hy ernstig siek geword het en in ’n hospitaal in Kaapstad opgeëindig het. Hy moes lank daar bly en is gelukkig suksesvol behandel. Hy was so dankbaar vir die manier waarop hy in Suid Afrika behandel is, dat hy besluit het om die Suid-Afrikaanse kampioen te kom ondersteun. Ons het by die stadion aangekom ’n hele ruk voor die geveg en het gestaan en gesels met ander Suid-Afrikaners, toe Jody Schekter ook daar aangekom het. Ons moes almal opstaan toe Prince Rainier, die heerser van Monaco, net voor die groot geveg daar aankom. Ons het baie goeie sitplekke gehad en toe die groot oomblik aanbreek kon ons hoor hoe Spinks se hoek vir hom skree: “Make it an early night, Leon.” Spinks het onmiddellik vorentoe gestorm, en dit was ideaal vir Coetzee wat ’n “counterpuncher” was. Gerrie was ’n paar keer teen die toue gedruk deur Spinks se aanhoudende en wilde aanslag, maar hy het die meeste van die houe met sy arms afgeweer en op sy tone bly beweeg en self gemis met twee wilde haakhoue. Daarna het Gerrie sy “oog” ingekry en met lang reguitlinkers begin tref en toe opgevolg met harde regters. Toe Spinks die eerste keer platgeslaan word, was dit amper onverwags, dit het eers gelyk of hy gestruikel het, maar dit was duidelik dat hy in groot moeilikheid was toe hy op sy knieë val. Nog ’n harde regter het Spinks in die hoek laat val. Nou was hy duidelik wankelrig. Die volgende harde sarsie het Spinks amper dwarsdeur die toue van die kryt gestuur. Die geveg was binne minder as drie minute verby en pandemonium het losgebreek. Een opgewonde entoesias, sekerlik ’n Suid-Afrikaner, het by ons verbygestorm om vir Gerrie in die kryt te gaan gelukwens, maar hy het onwetend te naby aan Prins Rainier gekom. Die sekuriteitswagte het hom soos blits gegryp en sonder ’n woord uit die stadion uitgedra, al was hy self ’n groot ou. Die arme man wou net sy held gelukwens. Ons is almal na die straatkafees toe in Nice, waar ons dwarsdeur die nag gekuier het om Gerrie se groot oorwinning te vier.
Groete
Pieter
Skryf vir ons
Het jy ‘n interessante staaltjie om te deel? Skryf vir ons en vertel ons! Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za