Leeupoort – die krag van wanneer ’n gemeenskap saamstaan

28/05/2025
| Deur Pieter de Lange
Leeupoort – die krag van wanneer ’n gemeenskap saamstaan

Deur Pieter de Lange

Leeupoort, in Limpopo tussen Thabazimbi en Bela-Bela, is in 1981 as ’n sogenaamde vakansiedorp geproklameer. Dit is uniek, aangesien dit binne ’n natuurreservaat geleë is.

Die rus en vrede van die boomryke dorpie is op Dinsdag 19 Februarie 2025 wreed versteur deur oorstromings wat deur wydverspreide swaar reënneerslae veroorsaak is. Damwalle het meegegee en die groter afvloei uit die naasliggende Boshofsberge het die gewoonlik bedaarde Blinkwaterspruit in ’n bruisende, dreigende rivier verander. Dit het die twee brûe na die dorp summier vernietig. Die watergeweld het kraglyne en waterpype meegesleur, die grensdrade van Leeupoort en die aangrensende wildplaas in ’n metaal koeksister opgerol en paaie in slote omskep. Elektroniese seine het verdwyn na mate die batterye in die selfoontorings afgeloop het en selfs sonpanele was meestal uit aksie as gevolg van die konstante bewolkte weer en aanhoudende reënbuie.

Die inwoners van die sowat agthonderd huise, wat gevolglik van die buitewêreld afgesny was, het saamgespan en elke oggend om 10:00 by die gemeenskapsaal bymekaar gekom om leiding en terugvoering van die dorpsforumkomitee te kry.

Wildmed Emergency Services, ’n organisasie van vrywilligers van Thabazimbi, was die eerste om hulp te verleen deur ’n sterk tou oor die rivier te span. Dit het ’n mate van beweging daaroor moontlik gemaak.

In daardie stadium was daar ’n krisis weens die gebrek aan medisyne en suurstof vir siekes, brandstof vir kragopwekkers en pasiënte wat belangrike mediese afsprake moes nakom. Volgens Leeupoort se nuusbrief, Bospatrys, het vrywillige lede van soek- en reddingsgeselskappe van sover as Tzaneen gekom om inwoners oor die rivier te help. Diegene wat nie kon loop nie, is met rubberbote daaroor vervoer of selfs op kampstoele wat met stokke gestut is, op manne se skouers oorgedra.

Die toegangshekke kon as gevolg van die kragonderbreking nie gesluit word nie en een van die inwoners, Gus Oosthuizen, het met sy slaapsak deur die water na die ingang gegaan om dit vir ses dae op sy eie te beman.

“Gift of the Givers” was eerste met die verskaffing van kospakkies. Hannes Coetzee van Thabazimbi se Spar het die helikopter geborg wat op die kritieke stadium aan die begin van die krisis, uitkoms gebring het.

’n Ekstragroot stootskraper het weke lank gratis hulp aangebied. Die operateur het verkies dat sy naam nie genoem word nie.

Drie van die werkers wat gewoonlik by die ingang diens doen, het ’n reuse taak verrig deur vragte vullis deur die river te vervoer.

Jannie van Zyl, van die firma JCD Vervoer op Brits, het onverpoosd met sy laaigraaf gewoeker om ’n tydelike damwal tot stand te bring en die rivier te tem. Dié kragtige masjien kan normaalweg teen R500 per uur gehuur word, maar Jannie het self het baie ure ingesit om die werk gratis te verrig.

Na ’n week se geswoeg was die tydelike damwal in posisie en is daar braaivleis gehou om die prestasie te vier, maar toe styg die water weer en die nuwe wal spoel weg terwyl die moeë werkers hulle eerste bier afsluk. Herstelwerk het inderhaas begin, maar die volgende nag is die goeie werk wéér ontdaan gemaak na swaar reënneerslae nog ’n vloed veroorsaak het.

Verbasend genoeg het die Leeupoort Park Run met klein wysigings voortgegaan.

Ek en Mariaan het vroeg in Maart 2025 op Leeupoort aangekom. Ons kon skaars ons oë glo toe ons die omvang van die skade gade slaan. Ons was net ’n kort tydjie daar en het saam met ander vrywilligers ingespring om die opgefrommelde grensdrade te begin loswikkel. Die watergeweld het stompe, rotse en selfs metaalpale in die heinings ingewoel. Dit was ’n welkome gesig om almal: oud, jonk en half kruppel (met verwysing na myself met ’n kniebesering) met mag en mening te sien saamwerk.

Daar is gerugte dat van die buffels en swartwitpense van ’n buurplaas weggeraak het en dat verskeie van Leeupoort se rooibokke verdrink het toe die lammers deur die vloedwater van die ooie geskei is. Blykbaar was daar te veel wild op Leeupoort, dus was die vermindering van dié diere tragies, maar nie onwelkom nie. Vir al wat ons weet skuil daar ’n paar duur buffels in die ruigtes van Leeupoort!

Die groot prestasie van die wyer gemeenskap is dat hulle die krisisse wat deur die oorstromings geskep is, self hanteer het, sonder dat enige staatshulp of ondersteuning van die provinsiale of munisipale owerhede ontvang is. Die tydelike brug werk nog steeds, behalwe dat dit ontoeganklik vir swaar voertuie is, maar die fondse om permanente strukture soos brûe en heinings weer op te rig, moet nog ontvang word.

Hierdie gebeure is ’n kragtige voorbeeld van wat vermag kan word wanneer ’n gemeenskap saamstaan.

Deel op

"*" indicates required fields

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels