Die natuur veg terug

04/06/2020
| Deur Pieter de Lange
lukasz-szmigiel-jFCViYFYcus-unsplash

Dit was vroeg in Augustus 1999 toe ons gesin in Milstead in Kent aangekom het. “Dís waar ons nou gaan bly,” het ek hulle ingelig. Simon, ons jongste, het dadelik versigtig gevra: “Is hier leeus, Pa?” Ná ons onlangse vakansie in die Kalahari, wou hy net seker maak wat om te verwag, want daardie groot swartmaanhaarleeus het ’n groot indruk op hom gemaak. Daar was een onvergeetlike dag in die destydse Kalahari Gemsbokpark toe ons 21 leeus gesien het. Ons wonderlike Afrika-herinneringe het gemaak dat ons altyd op die uitkyk was vir tekens van iets meer wild in die ou “mak” Engeland en Europa. Ek onthou hoe Simon gekla het, dat behalwe vir rugby, Engeland eintlik “boring” is.

Nie lank ná ons aankoms, het ons tot ons verbasing gelees van iemand wat laat een nag ’n groot kat soos ’n puma of ’n bergleeu in ons omgewing gesien het. Ons het van toe af spesiaal opgelet vir enige tekens van sluipende silhouette, maar sonder enige sukses. Ek kan nog onthou toe die wet in die VK in 1976 verander het en dit baie moeiliker gemaak het vir privaat eienaars om eksotiese diere soos bergleeus aan te hou. Dit het daartoe gelei dat baie privaat eienaars hulle groot katte na veeartse toe moes neem om uitgesit te word. Jare later het dit aan die lig gekom dat baie veeartse dit net nie oor hulle harte kon kry om die pragtige diere van kant te maak nie en baie is stilletjies vrygelaat. Dit het gelei tot baie “groot kat”-voorvalle, en ’n paar kleurvolle legendes soos die Beast of Bodmin, die Sheppey Panther en die Dartmoor Devil. Tussen 2010 en 2015 was daar 455 gevalle by die polisie aangemeld deur mense wat oortuig was dat hulle groot katte gesien het. Meer tasbare bewyse was skaapkarkasse met duidelike merke van kloue en die luiperd-DNA wat by een dooie takbok in Devon geidentifiseer is, asook mense wat vlugtige onderonsies gehad het met diere wat hulle met diep krapmerke gelos het. Vyf huiskatte het in ’n Cornwall-dorpie verdwyn kort nadat iemand spore van ’n groot kat gesien het, en iemand het selfs ’n vlugtige video van die sondebok geneem. Maar oor twintig jaar was die “groot kat”-gevalle tog maar sporadies en yl versprei.

Nou is daar egter ’n wydverspreide terugkeer van ’n gevreesde, inheemse roofdier, wat reeds in baie Europese lande besig is om te versprei. Ons ken almal die storie van Rooikappie en die sinistêre wolf wat haar wou opvreet. Ja, wolflegendes soos die weerwolf en wolfuitdrukkings, soos “’n wolf in skaapsklere”, is legio. Ons Europese voorouers het ’n primitiewe vrees vir dié pragtige roofdier gehad. In Skotland byvoorbeeld, is ’n beloning in 1547 uitgeloof, van ’n “sixpence” vir elke dooie wolf. Maar die wolf is ook bewonder vir sy intelligensie en die Amerikaanse skrywer Edward Hoagland het byvoorbeeld opgemerk: “A mountain with a wolf on it stands a little higher”.

Wolwe word nou volgens wet in die Europese Unie-lande beskerm en hulle getalle het gegroei tot sowat 12 000. Dit lyk of Spanje die meeste het met 2 000 tot 3 000, Roemenië en Pole het 2 500 elk, die digbevolkte Duitsland het ’n verbasende 1 300 wolwe, Griekeland het net meer as ’n duisend, in Italië is daar tussen 600 tot 700 – meestal in bergagtige gebiede – en in Frankryk kom daar meer as 500 van die legendariese roofdiere voor. Hulle getalle groei en hulle gebied brei uit. Só is daar is nou in die COVID-19-tyd vir die eerste keer in ’n eeu ’n wolf opgemerk in die dorpie Londinieres naby die Engelse Kanaal. Daar is sterk sprake dat wolwe teruggebring gaan word na die VK. Wetenskaplike verslae wat bevind het dat die wolfbevolking in die noorde van Spanje die voorkoms van TB onder beeste verminder het, deur die wilde varke en takbokke se getalle in toom te hou, versterk die saak. Die Britse rooitakbokbevolking het baie toegeneem en takbokke is betrokke by ongeveer 74 000 botsings met motors elke jaar. My skoonseun was verlede week juis in ’n botsing in Sussex, waar ’n “roe deer” sy voertuig beskadig het. Ben Macintyre skryf byvoorbeeld in  The Times, “The wolf is at our door, so let’s open it”. Die uiters suksesvolle hervestiging van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park, waar die algehele biodiversiteit en plantegroei verbeter is deurdat die bokke se migrasieroetes en weipatrone verander het, het baie mense se oë oopgemaak vir die moontlike voordele van dié troproofdiere.

So gepraat van wilde varke, dis nou wat hulle “wild boar” noem, (ons bosvark is amper soortgelyk) – dié diere het ’n plaag geword in groot dele van Europa. Europese wêreldstede soos Barcelona, Rome en Berlyn moet spesiale maatreëls tref, want die varke vier fees op die hope afval en gemorskos wat orals in die stede beskikbaar is. Hulle kan siektes versprei soos tuberkulose, hepatitis E en influenza A. Die varke kan ook besmet word met sg. “African swine fever” of ASF, ’n soort vark-ebola wat mak varke kan tref. Barcelona is veral erg getref deur die varkplaag, met die vreet van vullis, aanvalle op honde en ander troeteldiere en botsings met motorvoertuie. In 2013 was daar ’n tragiese ongeluk toe ’n polisieman ’n vark wou skiet en ongelukkig sy makker gewond het. In Barcelona maak hulle staat op spanne veeartse wat navorsing doen oor waar en wat die varke vreet en hoe hulle die vrugbare jong sôe kan verminder. In Berlyn het hulle jagters aangestel, die “stadtjager”, wat stelselmatig rondgaan en die getalle in toom probeer hou. Tog word daar gereken dat daar nog 3 000 bosvarke in die stad se parke en tuine rondsnuffel. In Rome was dit veral chaoties tydens die staking van die rommelverwyderaars. Jagters in Frankryk skiet elke jaar ten minste ’n halfmiljoen bosvarke en tog bly die boere kla oor gesaaides wat vernietig word en veevoer wat opgevreet word. Die jagseisoen gaan nou verleng word om die somermaande in te sluit. Die stedelike wildevarkbevolking word groter en vetter as dié wat in die natuurlike omgewing leef, maar hulle lewensverwagting is ook laer, met al die gemorskos wat hulle vreet.

Wilde varke is die mees wydverspreide soogdier in die wêreld en kom op elke kontinent  voor, behalwe Antarktika. Hulle is intelligent, met ’n hoogs ontwikkelde reuksintuig, hulle beweeg vinnig op land en is sterk swemmers in water, waaksaam, aggressief as hulle in ’n hoek gekeer is en uiters aanpasbaar. Hulle vreet enigiets wat mense eet en nog baie meer. Van wortels, knolle, voëleiers en salamanders tot lammers, kalkoene en selfs kalwers.

In Amerika waar hulle met mak varke uitgebaster het, is hulle bekend as “wild hogs” en daar is sowat 4 tot 5 miljoen van hulle. Dit het aanleiding gegee tot die “Hogzilla”-verskynsel, ’n reusewildevark van amper 380 kilogram met slagtande van 71 cm en 48 cm. Die vark was deur Chris Griffen in Georgia geskiet en sy gewig is oorspronklik as 450 kg aangegee. Maar forensiese wetenskaplikes het daarna die dooie vark opgegrawe en geweeg en gemeet vir ’n National Geographic- dokumentêre program. In 1982 het die “wild hogs” voorgekom in 18 Amerikaanse state, teen 2004 was hulle al in 28 state, en intussen het hulle na nog drie state versprei. In Georgia was daar ’n berugte reusevark, genaamd Bear, wat in sy leeftyd 15 opgeleide jagtershonde doodgemaak het. Ervare jagters is daarvan oortuig dat die varke slimmer as honde is.

In Rusland is ’n massiewe wilde vark genaamd King Kong Hog in 2019 in Ussuriland geskiet, hy het glo die skaal op 535 kg getrek en 1,58 m hoog gestaan op skouerhoogte. Die gewig is nie deur onafhanklike bronne bevestig nie, maar ek dink ’n mens kan saamstem dat dit nogtans ’n reusevark is.

In Australië is daar nou meer wilde varke as mense, dit wil sê oor die 23 miljoen. Daar word die varkjagters “grunter hunters” genoem. Die wilde varke is afstammelinge van mak varke wat oorspronklik deur Captain Cook na die land gebring is. In die Japannese kultuur word die wilde vark spreekwoordelik gesien as ’n gevreesde en roekelose dier en verskeie spreekwoordelike uitdrukkings verwys daarna.

Wanneer ons gesin in Leeupoort in die Limpopo-provinsie is, waar ons nog ’n huis het, weet ons dat die Bosveld se bosvarke selfs pynappelskille verorber wat ons vir hulle in die aand uitgooi, en dat hulle  groot bene kan verorber met ’n gekraak en gekners wat byna soos ’n hiëna klink. Wie sou nou ooit kon dink dat die sku, nagtelike bosvark, wat baie mense in Suid-Afrika verwar met die meer opsigtelike en bekende vlakvark, besig is om die wereld as’t ware in te neem.

 

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels