Deur Charné Meiring
Soos my twee klein, Londen-gebore kleuters na hulle nuwe Australiese kleuterskool huppel, groet die juffrou hulle met entoesiasme: “Goeiemôre!” Ek glimlag, want dit klink meer soos “gooi jou moere”, maar sy probeer haar bes. En my kinders antwoord só mooi terug, dit maak nie saak hoe dit klink nie.
Na ’n maklike aflaai en wat soos tonne drukkies en soentjies voel (my dogtertjie van pas twee beveel: “Soentjie! En soentjie vir boetie!” voor ek mag loop), klim ek in my ma-wa en dink: hoe ongelooflik bevoorreg is ons nie in hierdie nuwe tuiste nie? Kinders is veilig afgelaai. Geen taxi’s wat toeter nie. Daar is altyd elektrisiteit by die verkeersligte. En as onderwyser kry ek vir die eerste keer in my lewe ’n kompeterende salaris. Maar, soos altyd, is daar ’n ander kant. Ons het gewerk – “duur” gewerk — vir hierdie “voorreg”.
Van plan A, na plan Londen, na plan lockdown
In September 2019, pasgetroud en vol drome, het ek en my man sonnige Suid-Afrika verruil vir Londen. Die plan? ’n Jaar of twee van Europese avonture, werk en dan terug “huis toe”. Ons albei het beroepe wat wêreldwyd in aanvraag is – onderwys en konstruksie – en het met hoop en leë paspoortblaaie oorsee gegaan. Ons het ons huis in Pretoria opgepak, alles in ’n stoorfasiliteit gesit, en dadelik begin aansoek doen vir Schengen-visums. Die eerste reis was bespreek: Nederland, Maart 2020.
Toe maak die wêreld toe.
Ons het nog probeer hoop – die Eurotrip sal kom. Maar lockdowns het gekom en gegaan, Suid-Afrika was op die VK se rooi lys, en die tyd het verbygeglip. Ons het ouer geword. Ons het begin droom van kinders, van gras en buitelug en sonlig. Van rus.
Ons het besluit om die huisinhoud in daardie stooreenheid te skenk aan ’n gesin wat alles verloor het tydens die oproere in KZN. Ons oudste is gebore in Julie 2021. ’n Woelwater van ’n seuntjie. Ná daardie eerste winter met hom besef ons: grys, nat Londen is nie vir ’n buitelugfamilie nie. En toe plant ’n werksvriendin die saadjie: Brisbane, Australië. Sonskyn, lang dae, wit strande – met regte sand, nie klippe soos in Engeland nie. Ek begin papierwerk invul vir ons tweede emigrasie. Die keer weet ons: dis permanent.
Visums, Facebook-groepe en ander dinge
Weereens, bevoorreg – ja. Maar dis ’n voorreg waarvoor ons letterlik én figuurlik betaal: visumaansoeke, mediese toetse, Engelse toetse, professionele erkenning, eindelose administrasie. En steeds doen ons dit met ’n glimlag. Want op die Facebook-groepe lees ons:
“Alles werk hierso.”
“Selfs die skoonmakers verdien kompeterend.”
“Dis mos hoe dinge moet wees.”
En ons koop daardie droom, met rente.
Want wat ons eintlik koop, is die reg tot toegang.
Die reg tot onderwys sonder tralies.
Die reg tot treine wat opdaag.
Die reg tot vrede — daardie salige rustigheid as ek, ’n vrou-alleen, in die middestad kan stap sonder om agtertoe te kyk.
Wat ons agtergelaat het
Maar natuurlik, ons het ook regte prysgegee.
Die reg tot familiekuiers op kort kennisgewing.
Die reg tot moedertaalonderrig vir ons kinders.
Die reg tot daardie Sondagmiddag op die stoep met ’n rugbywedstryd in die agtergrond en Ouma se kos op die tafel.
Ons het die reg tot gemak opgegee. En gekies vir moontlikheid.
Ek skakel die ma-wa aan. Die emosie sit hoog. Ek dink aan hoe ongelooflik bevoorreg ons is om hier te wees — maar ook hoe hard ons moes werk om dié reg te “verdien”. Vyf universiteitsgrade tussen ons twee. Jare van opoffering. Trane, video-oproepe en spaar sonder einde.
En dan, op pad werk toe, dink ek aan my grootste voorreg van almal: om ’n ma te wees.
My trotse vierjarige seun sing net een liedjie voor slaaptyd, elke aand:
“Hie kommie Bokke!”
En ek glimlag.
Want selfs aan die anderkant van die wêreld, weet my kind “home is not a place, but a feeling”.




















