Die vreemdste dinge om aan gewoond te raak in die buiteland (Deel 3)
Emigrasie bring ’n klomp nuwe ervarings en uitdagings mee – van die verrassings in kultuurverskille tot die klein, maar betekenisvolle gewoontes wat jou alledaagse lewe beïnvloed. Ons het onlangs ’n paar van ons AfriForum Wêreldwyd-vriende in die buiteland gevra wat hulle die vreemdste gevind het om aan gewoond te raak.
Hier is die vreemdste dinge om aan gewoond te raak in die buiteland, volgens ons vriende:
- In Nieu-Seeland kom nie net jou bankkaart in gewone pos nie, maar ook jou lisensie wat geldig is vir 10 jaar. – Cherine Bezuidenhout.
- Ons is in Vancouver, Kanada en hier is Desember net nog ’n maand. Meeste mense werk regdeur en vat dalk net ’n dag hier of daar. Meeste mense vat hulle “langverlof” in Julie tot September. Hulle gaan dan na ’n dam of ’n meer toe. Die rede is dat die somervakansie twee maande lank is en kinders dan by die huis is. Dagsorg is dan uiters duur vir jong kinders. Meer as tien dae verlof is ’n luuksheid en iets waaroor jy moet onderhandel in jou onderhoud. Byvoordele is baie skraps, so mense verander ook van werk vir beter voordele eerder as hoër salarisse. – Braam Geldenhuys
- By troues in Australië kuier hulle net tot omtrent 23:00 dan gaan almal huis toe … netso, en dis verby. Jy wil nog dink jy wil begin kuier en dan gaan almal huis toe. Baie vreemd. – Christelle Frylinck Junius
- In Kanada sluit die prys op die rakke in die winkels nie belasting in nie. So wat jy sien is nie wat jy betaal nie. – Annique van Heerden
- In Japan is dit heeltemal normaal om jou skoene uit te trek wanneer jy ’n huis binnegaan.
- Vir my was dit die ‘onpersoonlike’ mense. Jy sê môre of middag (nou natuurlik in hulle taal) en hulle kyk jou aan asof jy van ’n ander planeet geland het. – Hannetjie Jordaan
- In Nieu-Seeland is daar ’n paar interessante gewoontes waaraan mens gewoond moet raak. Byvoorbeeld, jy moet self jou petrol ingooi, en die spoedgrense in die dorp is 50 km/h, terwyl dit 100 km/h is op meeste oop paaie, met enkele snelweë wat 110 km/h toelaat. Mense vra dikwels of jy jou skoene sal uittrek voordat jy hul huis binnekom. Die name van geregte is ook anders, soos groen soetrissie wat hier “capsicum” genoem word, patats wat “kumaru” is, spanspek wat “rock melon” genoem word, en papaja wat “cantaloupe” is. Ek het al ’n paar vreemde kyke gekry toe ek daarna gevra het. Wat nog meer opval, is dat die winkels nooit oorvol is nie – ek wat al amper twee jaar hier woon, het nog nooit in ’n winkel gestaan met meer as vier mense in die ry nie, selfs nie oor die feestyd nie. – Berdene Knepscheld
- In Switserland is dit ongewoon om op ’n Sondag gras te sny of enige ander lawaaierige aktiwiteit te doen, omdat dit as onbeskof beskou word.
- In Spanje eet mense dikwels laat in die aand, met aandete wat dikwels eers om 21:00 of 22:00 begin.
- Duitsland het een van die beste fietsinfrastrukture in die wêreld, en dit is heeltemal normaal om op fietspaaie te ry, selfs in die middestad. Wat vir buitelanders vreemd kan wees, is die feit dat fietsers gereeld voorrang het.
- In Swede is daar ’n gewilde tradisie genaamd “fika”, wat nie net oor koffie gaan nie, maar ook oor die eet van koek en lekkergoed terwyl mense ’n gesprek het. Dit word as ְ’n baie gesamentlike en tydsame aktiwiteit beskou.
- In Nieu-Seeland is daar baie lae spoedgrense, en mense is ook geneig om te fokus op hoe hulle lyk, wat hulle ry, of selfs hoe jy lyk. Die weer is baie reënerig en onvoorspelbaar, en die bosse daar is dikwels leeg, met bitter min wild en amper geen naggeluide nie. – John Stanley
- Vir my was die snaaksste toe my man in ’n ongeluk was en hy sê: “It happened at the robot?” Die polisievrou het hom net aangekyk, my dogter sê toe: “At the traffic light. – Magdel Griessel du Buissson.
- In Kanada kan dit tot -40°C raak en meeste van die huise se motorhuise is losstaande en nie verhit nie. – Annique van Heerden
Emigrasie bring ’n magdom nuwe ervarings, en dikwels is dit die klein, onverwagse dinge wat jou laat besef hoe anders die wêreld kan wees. Soms is dit die kulturele verskille wat jou nuuskierig maak en jou begrip van jou nuwe omgewing verdiep.
Woon jy in die buiteland? Wat was vir jou die vreemdste dinge om aan gewoond te raak toe jy geëmigreer het? Het jy dalk ’n interessante kulturele belewenis ervaar in die buiteland? Stuur vir ons jou storie na wereldwyd@afriforum.co.za.
Foto: Levi Meir Clancy/ Unsplash