Dubrovnik, Sligo en Jerusalem – vroegoggend vakansiedramas

18/01/2022
| Deur Pieter de Lange
sligo-1

Ná ’n hele paar lang maande was daar ’n welkome COVID-gaping laat in 2021 en ons het soos blits ’n week na Kroasië bespreek. Daarna wou ons graag Ierland toe gaan waar my suster bly, om Sligo te sien, waar haar dogter studeer. As Christene was Israel al vir ’n ruk op ons agenda, maar ons moes dit ’n paar keer uitstel in die deurmekaar era van hierdie tragiese COVID-komedie.
Maar, laat ek julle eers vertel van ons vroegoggend vlugdramas. Ons verkies om vroeg te vlieg, want daar is minder verkeer en ’n mens het nog die hele dag wat voorlê wanneer jy by jou bestemming aankom. Maar die werklikheid is soms heel anders.


Ons was baie vroeg reg vir Kroasië en het net ná 04:00 opgestaan. Pak die tasse en weeg hulle. Die een tas is toe te swaar. Terwyl ons gou op die EasyJet-webtuiste probeer ekstra bagasie bespreek, sien ons tot ons konsternasie dat daar ’n dringende boodskap is: “Flight Revised to 06:25 from 07:25”. Wat ’n skok so vroeg in die oggend. Ons het ná ’n verskriklike geskarrel binne ’n rekordtyd Gatwick toe gery en was gelukkig betyds. Die vlug se tyd het toe nooit verander nie en ons kon nooit die egtheid van daardie boodskap bevestig nie.


Die rit Ierland toe was weer ’n ander onverwagse, amper-fiasko. Ons het ekstra vroeg gery en uitgesien na ’n rit sonder probleme. Toe ons egter om 04:30 die oggend by die ingang na die Darfordtonnel aankom, was dit versper deur honderde stilstaande swaar voertuie. Ek kon amper nie my oë glo nie – 04:30 in die oggend en die hele M25 lyk net soos ’n groot parkeerplek vir vragmotors. Dit was nou tyd om kop te hou, het ek vir myself gesê. Ons het gou besef ons moet die “Diversion”-tekens net ignoreer en op ons satellietnavigasie staatmaak. Ons is deur allerhande hoekies en draaitjies van Dartford gevat, maar het toe weldra weer op die M25 uitgekom. Ons was weer eens skoon uitgeput toe ons op die vliegtuig klim.


Dié tipe terugslag kom altyd drievoudig voor, het ’n goeie vriend van my vas geglo. Ja, en heeltemal teen my verwagting is hy toe reg. Die Israel-vlug het meer intensiewe Covid-voorbereidings geverg en ons goed besig gehou. Toe Mariaan sê die papierwerk is uiteindelik reg, het ons net die tasse gegryp en motor toe geskarrel. Ons was ’n goeie 60 kilometers weg, toe ons besef ons het nooit die paspoorte ingepak nie. Hoe kon ons so ’n elementêre fout maak? Ons draai om en jaag terug huis toe. Toe ons by die huis stop, sê Mariaan: “Ons is nou so laat, ons kan maar net sowel hier bly en net die vlug kanselleer.” Nee, ons ry maar lughawe toe en “face the music”, besluit ek toe. By Heathrow aangekom, parkeer ons die motor by die bespreekte firma en waarsku hulle dat ons moontlik nie sal vlieg nie. Tot ons verbasing was ons nog betyds vir die vlug, maar ons het nie geweet van die aanlyn toegangspermit, wat die dag voor die vlug gedoen moes wees nie. British Airways het gelukkig toe ons vlug uitgestel na die volgende dag. Maar dit het beteken dat my PCR-toets se geldigheid verval het. Ek het toe daar en dan ’n nuwe toets op die lughawe laat doen en dit het ’n stywe £119 gekos! Ons is terug huis toe en dit het beteken dat die parkeermaatskappy my motor moes terugbring. Toe ons die kar die volgende dag inhandig, het ek aangeneem dat ek moontlik vir ’n ekstra dag sou moes betaal, maar nee, ek moes dubbel vir parkering betaal.

Dubrovnik
Son, see en saffier

Wat ’n genot was dit om weer met vakansie te gaan. Ek was so opgewonde oor Kroasië, dat ek drie boeke oor die land gekoop het. Om ná so ’n lang ruk groepe mense vrolik buite om tafels te sien kuier was ’n pure plesier. Kroasië is in elk geval prentjiemooi. Die bussie wat ons na ons bestemming, Orebic, gevat het, het pal langs ’n kuslyn gery, en elke keer as ek by die venster uitkyk het dit soos ‘n groot vakansieplakkaat in volkleur gelyk.
Ons bestuurder het deurgaans kommentaar gelewer, en in ’n stadium opgemerk dat die beste oesters van Kroasië afkom. Ek sê toe hardop dat ek dink dit moet Suid-Afrika wees. Hy was heel geamuseerd, en het vertel hoe hy vir 15 jaar huurmotors in en om Johannesburg bestuur het. Op pad het ek deur die gidsboek geblaai en opgelet dat daar nie net moeilike plekname soos Trakoscan, Brtonigla en Pecenjarnica is nie, maar ook eenvoudiges soos Split, Vis en Ton.
Ons hotel was in ’n bos buite Orebic, en dit was heerlik om met die kronkelende paadjie langs die kuslyn na die dorpie toe te stap. Wat ’n vreugde was dit nie om vir die eerste keer in jare weer sonbesies te hoor nie. Van Orebic af was dit net ’n 15 minute lange veerbootrit na Korcula, ’n pragtige ommuurde stad.


Korcula is waar Marco Polo vandaan kom, en die Venesiërs se invloed is oral te sien. Die Grieke het oorspronklik die eiland Kokyra Melana (Swart Korfu) gedoop. Die Venesiërs het die muur, met versterkings, en die gepaardgaande kanaal ná 1420 gebou.


Dis nie ’n groot plek nie, maar net groot genoeg om binne ’n dag of twee deur te stap. Daar heers ’n heerlike intieme atmosfeer in die smal straatjies met net winkeltjies, voetgangers en straatkafees.
Ons kon net nie genoeg kry van die see-uitsig oral vanaf ons hotelkamer en die eetsaal se vensters nie. Dit is die maklikste ding op aarde om gewoond te raak aan die heerlike sonskyn en relatiewe warm see. Ons het net een of twee keer van die swembad gebruik gemaak en verder net in die see geswem, wat so kalm soos ’n dam was. Net jammer dit was nie sandstrande nie, maar sulke plat klippies wat “shingle beach” genoem word.


Ons dag in Dubrovnic was uiteraard baie besonders. Ons het reg om die middestad op die antieke muur gestap, wat uit die 10de eeu dateer. Dit was ook ons warmste dag, met ’n temperatuur van net oor 27 ˚C. Ons moes ’n ruk in die ry staan vir die kaartjies na die Franciskaanse Kloostermuseum se apteek-gedeelte, wat een van die oudstes in die wêreld is. Toe ons voor kom, was die beampte iemand wat oorspronklik van Kaapstad afkomstig is en ons sommer 30%-afslag gegee het. Hy het ook steen en been gekla oor hoe warm die stad in die somer word.


Dit was interessant om te sien hoe streng die dra van maskers afgedwing was in ons hotel se eetsaal, in ’n stadium toe maskers nie verpligtend was in die VK nie. Ons verpligte COVID-toets was vinnig en sonder moeite gedoen.
Die weer in die laaste week van September was heerlik, elke dag in die 20’s, en nie ’n druppel reën nie.


Sligo
Ons liewe familie

Dit was al vroeg in Oktober toe ons Ierland toe is en die grys wolke, wind en reën was al opmerklik. Die warmte het gekom van my pragtige familie daar – my suster Lidia en haar dogters, Anna en Una. Ons een mooi dag was gelukkig toe ons Rosses Point toe gegaan het. Ons kon selfs buite sit en eet sonder om te vergaan.


Rosses Point is ’n dorpie geleë by die Sligo-hawe wat ingang bied vir skepe vanaf Sligo Bay.
Die bekende “Waiting on Shore”-monument, wat bestaan uit ’n vrou wat met haar wagtende oop arms angstig na die see kyk, is hier by die reddingbootstasie geleë. By die voetstuk is die volgende boodskap:
Lost at sea, lost at sea
Or in the evening tide
We loved you, we miss you
May God with you abide.


Tipies van ’n hawe waar vissermanne vir eeue lank met bote uitgegaan het in alle weersomstandighede, is daar baie legendes en stories. Ons het die volgende bekende storie in ’n kroeg gesien. ’n Groep matrose moes ’n gestorwe kollega begrawe, maar hulle was effe onseker of hy regtig dood was. Hulle was onder druk want die gety was besig om uit te gaan, toe begrawe hulle hom maar met ’n brood onder sy arm, vir in geval.


Israel
Eenmalige belewenis

Ben Gurion is ’n groot, moderne lughawe. Die vereistes was dat ons onmiddellik vir ’n COVID-toets daar moes gaan, en dan sou ons vir 24 uur in afsondering moes bly totdat ons die uitslag van die toets sou kry. Ons gasvrou het selfs vir ons ’n afsonderlike wooneenheid reg gehad vir dié 24-uur-tydperk. Ons is dadelik na die massiewe toetssentrumlokaal toe. Ons is vinnig, maar oppervlakkig getoets. (In Kroasië het die mediese beampte die toetsstokkie so diep in jou neusgat opgedruk, dit het gevoel of sy jou brein wou kielie.) Albei toetse in Israel was in die “let us get it over”-kategorie. Ek en Mariaan het oranje bandjies om ons polse gekry om aan te toon dat ons nou in afsondering is. Ons het ’n logistieke probleem gehad: ons het ’n bespreking in Jerusalem gehad het, wat omtrent 160 km van die lughawe is, en ons is ingelig dat ons nie in die 24 uur ná die COVID-toets openbare vervoer mag gebruik nie. Dit sou beteken dat ons ’n privaat huurmotor sou moes gebruik. Nieteenstaande, het ek na ’n beampte gegaan en ons dilemma aan hom verduidelik. “Trek die bandjie om jou arm af, gooi dit weg en klim op die bus,” was sy verstommende raad. Ek het gewonder of ek reg gehoor het, en om seker te maak, het ek aan ’n tweede beampte dieselfde vraag gestel, en vinnig, sonder huiwering, dieselfde antwoord gekry. Nou, so gesê, so gedoen. Toe ons wegtrek in die volgepakte bussie, let ek op dat die dame wat voor my sit, nie eens die moeite gedoen het om haar oranje armbandjie weg te gooi nie. Dit was die eerste aspek van Israel wat onvoorspelbaar was, daar sou nog verskeie verrassings volg.


Wanneer ’n mens in die buitewyke van Jerusalem aankom en jy sien moderne wolkekrabbers, is jy half verbaas en teleurgesteld. Jy wonder onwillekeurig: waar is die tempels, kerke en al die ou vervalle geboue en mure?


Dit was al donker toe ons by ons bestemming, Beit Chai, wat beskryf is as ’n “family run ministry house in the heart of Jerusalem” aankom. Ons gasvrou, Martie Nel, het vir ons ’n heerlike “Shabbat”-ete en goeie rooiwyn in ons knus woonstelletjie gelos. Ons het die volgende oggend redelik gou ons uitslag gekry en was so nuuskierig oor die “Ou Stad”, dat ons nie kon wag nie. Ons is sommer amper dadelik uit en het begin voetslaan in die rigting van Jaffapoort, waar die antieke deel van die stad begin. Ek lees toe in ’n brosjure: “The best Arab shops are found in the Christian Quarter”. Nog ’n teenstrydigheid, dink ek by myself. Ons het gou by die “regte” Jerusalem uitgekom, en ons verwonder aan al die kleurvolle winkels in die nou, kronkelende straatjies. Ons het baie dieselfde gevoel gekry as in Egipte en Tunisië, behalwe dat die winkeliers hier gereeld ’n paar woorde Afrikaans geken het. Ons het toe by die indrukwekkende Kerk van die Heilige Graf uitgekom, en was ’n hele ruk net stil in verwondering en respek. Die eerste kerk is hier opgerig in 66 n.C., maar dis later deur die Romeinse keiser Hadrian platgeslaan. Keiser Konstantyn het bekeerd geraak en sy moeder, Helena, het na die heilige land gegaan en die area geïdentifiseer as die plek waar Christus gekruisig is. Konstantyn het toe nog ’n kerk hier opgerig in 348 n.C., wat later deur die Persiërs vernietig is. Die Kruisvaarders het dit weer herbou in 1099. Die kerk word gedeel en bestuur deur ses verskillende Christelike kerke of demoninasies, naamlik die Griekse, Armeense, Siriese, Ethiopiese en Russiese Ortodokse kerke en die Egiptiese Koptiese kerk. Die verstommende feit is dat die Christengroepe mekaar nie vertrou nie, en gevolglik is hierdie historiese, wonderlike kerk, wat beskou word as die heiligste Christelike kerk, se sleutels toevertrou aan ’n Moslemfamilie sedert die 17de eeu, en hulle sluit dit elke dag oop en toe.


Ons het weldra die Nel-familie ontmoet, Martie se seun Jacque en sy wederhelf Chantelle, asook die ander gaste, van wie ons meestal met Zelda en Susan te doen gekry het.
Martie het ’n uitstappie na die Dooie See gereël, en op pad soontoe het ons by die Jordaanrivier gestop by ’n pragtige, rustige plek, waar Johannes die Doper volgens oorlewering vir Christus gedoop het. Die atmosfeer daar en mense se geloof motiveer hulle dikwels om hulleself daar te laat doop. By die Dooie See het ons in die digte soutwater rondgedryf, en toe het ons na die Ein Gedi Nasionale Park gegaan en saam met honderde jong Israeli’s die berg uitgeklim waarheen Koning Dawid onder andere van Koning Saul gevlug het. Dit was heerlik om saam met al die jongmense teen die hange op te klouter en om in die watervalle te “stort”. Ons het kort-kort van die bergbokke of “ibex” gesien. Ek kon nie help om op te let dat daar ’n gewapende persoon by elke groep jongmense was nie.


Die volgende dag het ons Jerusalem ingevaar met ’n vriendelike gids, Badja. Ons het in die “Ou Stad” begin en is daarna na die Kidronvallei, na die Church of All Nations, so genoem omdat twaalf verskillende lande dit gefinansier het. Dis glo waar Jesus gaan bid het saam met sy dissipels, terwyl hulle gewag het vir Judas en die priesters. Die Grot van Getsemane is daar naby, en baie glo dis die plek waar Judas vir Jesus gesoen het toe hy hom verraai het. Dit was ’n warm dag, maar aangenaam en stil onder die bome by die Olyfberg. Ons het al drie lank stil gesit en in die rigting van die tempel gekyk en probeer om ’n geestesbeeld skep van die dramatiese en tragiese dag van die kruisiging en hoe die Romeinse offisier gesien het die voorhangsel van die tempel skeur.


Die laaste plek waarheen Badja ons gevat het, was nuwe uitgrawings, waar ons met trappe moes afgaan by ’n plek waaraan die werk duidelik nog nie voltooi was nie. Toe ons onder kom was daar ’n groot opskrif teen die muur wat gelui het: “In Jerusalem grawe jy drie meter ondertoe, om 2 000 jaar terug in die geskiedenis te gaan.” Hier staan ons nou in die voorhof van die woning/paleis van een van die vernaamste godsdienstige leiers van 2000 jaar terug, waarskynlik, Kajafas, die hoëpriester. Badja het toe verduidelik dat dit waarskynlik die plek was waar Petrus gestaan het nadat hy Christus verloën het en die haan gekraai het.


Ons wou graag meer van Israel sien en aangesien Christus meestal in die omgewing van die See van Galilea werksaam was, wou ons ’n paar dae daar deurbring. Ons het die bus na Tiberias gevat, wat 180 km ver was en het ons gids daar ontmoet soos gereël. Dit was merkbaar warmer in die noorde. ’n Mens vergeet dat Jerusalem hoër bo seespieël geleë is en selfs sneeu in die winter kan kry.
Yaron, ons gids, het ons direk na Magdala toe geneem, waar Maria Magdalena gewoon het en daarna na ’n museum, waar ’n antieke houtvissersboot ten toon gestel is. Volgens die wetenskaplike toetse dateer die boot uit die eerste eeu en is dié soorte bote in Bybelse tye op die meer gebruik. Dis ook toevallig vervaardig uit twaalf houtsoorte. Ons het ook by Tabgha aangegaan, waar die pragtige kerkie die vermeerdering van die brode en visse herdenk.


Die hotel waar ons tuisgegaan het was by die See van Galilea geleë. Ek het twee keer ’n dag in die see geswem, wat vir my iets besonders was. Ons het vroeg in die oggend langs die see gestap en was verbaas om te sien hoe baie visse daar is. Dit laat ’n mens dink aan die vol nette van die dissipels en hoe Christus op die water geloop het. Geen wonder dat die hotel vyf heerlike soorte vis vir ete aangebied het nie.


Ons die volgende dag na die Berg van die Saligsprekinge gegaan, waar Christus die Bergrede gelewer het. Die gidsboeke beskryf dit as “one of the most serene places in the Holy Land.” Daar is ongetwyfeld ’n rustigheid en vrede wat amper voelbaar was. Pelgrims besoek die berg al sedert die 4de eeu, en in 1938 is daar ’n pragtige kapel deur die Katolieke Kerk opgerig. Die uitsig oor die See van Galilea aan die een kant en tot by die Golanhoogte aan die ander kant was asemrowend.
Ons het ’n oggend in Akko deurgebring. Dit is ’n hawestad wat al vir 4 000 jaar bewoon word. Die ou deel word deur ’n muur en ’n grag omring en het ’n oorwegend Arabiese kultuur, wat vir ons ietwat misterieus gevoel het. Tog is daar ’n ondergrondse deel wat deur die Kruisvaarders gebou was.
Op pad terug na Beit Chai het ons gids in die buitewyke van Jerusalem skielik besef ons ry in die verkeerde deel, want die Sabbat het reeds begin en ons was besig om die ortodokse buurt binne te ry. “Hulle gaan ons met klippe gooi,” het hy gesê en vinnig omgedraai.


Ek het in ons gidsboek gelees dat daar so ’n ekstremistiese faksie onder die Ortodokse Jode is. Net soos die Palestyne, erken hulle nie die staat van Israel nie. Hulle glo dat die staat van Israel eers tot stand sal kom wanneer die “beloofde Messias” kom.


Ons was nou amper op die einde van ons tyd in Israel en het die Saterdagaand besluit ons sal vir oulaas na die Kerk van die Heilige Graf toe gaan. Ons het soos gewoonlik deur die Jaffapoort gegaan, maar helaas, in die “Ou Stad” was alles toe en gesluit. Ons draai toe om en sien ’n klein eetplekkie wat oop is en besluit om maar gou iets te eet. “Jou plek is mooi netjies en skoon, ’n mens is sommer lus om iets te eet,” het Mariaan die eienaar gekomplimenteer terwyl ons gaan sit het. Die eienaar het ons van sy ander besigheid, naamlik die verkoop van geborduurde rokke vertel, en toe genoem dat hulle een van die oudste families in Jerusalem is. “Ja, dis my pa wat die sleutels hou van die Kerk van die Heilige Graf en dit elke dag oop- en toesluit, en ons doen dit al vir honderde jare,” sê hy toe. Ek het dadelik besef dat dit die Moslemfamilie is waarvan ek in die gidsboek gelees het. “Ons sal graag jou pa wil ontmoet,” het ek geantwoord, en hy het ons gevra om die volgende oggend ná 09:00 terug te kom.


Die volgende oggend – op ons laaste dag – was ons op pad na die Jaffapoort, toe ons sien die ingang is toe en daar is ’n allemintige geskarrel daar naby. Daar was oral polisie op motorfietse, mense wat onseker rondmaal en selfs ’n deftige dame wat hardhandig teruggestamp is toe sy nieteenstaande al die waarskuwings probeer om in te gaan. Die naaste polisieman skree toe hard: “It is not safe, go back.” Hier het iets ernstig plaasgevind, het ek gedink en vir die Ortodokse Jood langs my gevra wat aan die gang is. “Daar is ’n Israeli deur ’n Palestyn by die Klaagmuur doodgeskiet,” het hy kortaf geantwoord. Ons het teleurgesteld omgedraai en met gemengde gevoelens na die mark toe gegaan. Ons het later uitgevind dat die oorledene, die 28-jarige Eli Kay, as ’n toergids gewerk het en oorspronklik van Suid-Afrika afkomstig was. Die voorval, waarin verskeie mense beseer is, het net weer by ons tuisgebring hoe kortstondig die lewe kan wees.


Ja, ’n mens dink terug aan die drie totaal verskillende bestemmings. Kroasië – ’n heerlike wegbreekvakansie en uitstekende waarde vir geld. Ierland was kosbaar as ’n familiekuier, ten spyte van die slegte weer. Israel, absoluut uniek en boeiend, maar oorwegend duur, ten spyte van Beit Chai se uiters redelike verblyftariewe.

Deel op

Nuutste artikels