Erfenisjuwele 11 – Settlers Agrimuseum

02/10/2024
| Deur Alana Bailey
Erfenisjuwele 11 – Settlers Agrimuseum

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens en -projekte in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Toe ons met die reeks begin het, het ons veral aan museums en monumente gedink waarmee ons al ‘n geruime tyd ‘n verhouding het. Dit was so ’n wonderlike verrassing om te verneem van verskeie nuwe inisiatiewe van individue en gemeenskappe om hulle geskiedenis te bewaar. Een van hierdie nuwer sterre op die museumtoneel, is die Settlers Agrimuseum. Jan van Blerk, Hannes van Heerden en Ansie Pretorius het gehelp om ons vrae oor die museum te beantwoord.

Alana:   Ansie en span, baie dankie vir julle deelname aan AfriForum se reeks. Om mee te begin, wat is die geskiedenis van die museum?

Ansie:   In 2002 het die Sandstone Erfenis Trust naby Ficksburg ’n wêreldrekordpoging gereël om met 400 veteraantrekkers gelyktydig die lande van Sandstone Estates te ploeg. 886 Trekkers het vir die poging geregistreer, waaronder ook 14 veteraantrekkers uit die Settlers omgewing. Hierdie poging het twee gevolge gehad: Suid-Afrika was (kortstondig) die houer van die rekord in die Guinness book of records, en die Settlers Veterane Klub het ontstaan.  ’n Aantal boere het een dag per week saamgewerk om ou trekkers te restoureer. Verder is waterpompe en enjins ook tot werkende orde herstel. Die behoefte aan ’n plek om die voltooide trekkers en enjins te bewaar en uit te stal het gelei tot die oprigting van die Settlers Agrimuseum in 2010.

Die museum is op die terrein van die Springbokvlakte Boerevereniging op Settlers.  Dit is verder uitgebrei met die verskuiwing van ’n kerkie wat in onbruik verval het op een van die plase. Hierdie kerkie is nou ’n huishoudelike museum en bevat onder meer ’n versameling van 69 ou naaimasjiene. ’n Toegeruste werkswinkel is op die terrein van die museum gebou en vanaf 2023 werk die veterane elke Woensdag in die werkswinkel.

Alana:   Waar is dit geleë?

Ansie:   Die klein dorpie Settlers is geleë op die Springbokvlakte, ’n florerende landbou-area naby die dorpe Modimolle (Nylstroom) en Bela Bela (Warmbad) in Limpopo, sowat 120 km vanaf Pretoria op die N1 Noord.

Settlers het ’n interessante ontstaansgeskiedenis. Na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het lord Alfred Milner met sy angliseringsbeleid bestaande plase in Transvaal en die Vrystaat verdeel en beskikbaar gestel vir verkieslik persone wat In His Majesty’s Forces gedien het. Engelse soldate kon kroongrond besit op die platteland en sou die opbou van Boere nasionalisme voorkom. Ongeveer 2 000 hektaar grond in die omgewing is verdeel in 38 plase en die dorpie Settlers het ontstaan.

Alana:   Aan wie behoort die museum?

Ansie:   Die museum behoort aan die Springbokvlakte Boerevereniging wat al in 1905 gestig is.

Alana:   Wat kan ’n mens alles daar sien?

Ansie:   Die museum kan op afspraak besoek word, verkieslik op ’n Woensdag wanneer die veterane in die werkswinkel werk. Daar is 34 trekkers, 15 enjins en ongeveer 160 modeltrekkertjies. In die kerkie kan die versameling naaimasjiene gesien word, asook ander huishoudelike artikels.

Alana:   Wat verras mense gewoonlik as hulle die eerste keer by Settlers kom?

Ansie:   Langs die strate van die dorpie Settlers is ’n laning huilboerboonbome aangeplant waarvoor die fondse beskikbaar gestel is deur die eerste inwoners van die gebied. Daar is ook ’n moderne John Deere handelaar, ’n kliniek, twee groot Engelse skole met koshuise op ’n boomryke skoolterrein, graansilo’s van VKB/NTK, ’n kleuterskool en ander klein winkeltjies. Settlers is ’n vooruitstrewende landbougebied en die boerevereniging kan genader word vir plaasbesoeke.

Alana:   Bied die museum enige spesiale programme aan?

Ansie:   Die veterane hou een keer in 2 jaar ’n opedag waartydens al die trekkers en enjins aangeskakel word en ry.  Die laaste opedag is met groot sukses in Maart 2024 aangebied.

Alana:   Wat is van die uitdagings wat julle daar teenkom en wat is op die museum se wenslysie?

Ansie:   Uitdaging is verseker fondse om die ou trekkers en enjins te herstel. Op die wenslysie is dat ons ’n aantal jong lede kan kry wat betrokke kan raak by die veteraanklub. En dat die museum uitgebrei kan word om die enjins apart uit te stal, sodat daar nog meer plek vir trekkers is.

Alana:   Hoe kan belangstellendes daar betrokke raak?

Ansie:   ­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­Ons glo dat besoeke aan die museum belangstelling sal wek. Enige persoon, selfs enigeen wat nie noodwendig die vaardighede het nie, kan saam kom kuier op Woensdae en op die manier betrokke raak.

Alana:   Ten slotte, wat is julle advies aan ander gemeenskappe wat ook by ’n terrein, monument of museum in hulle omgewing betrokke wil raak?

Ansie:  Begin klein, maar geordend.  Maak kenners oor die onderwerp bymekaar, maar meer nog,  ook ’n groep vriende om betrokke te raak.

Alana:   Baie dankie Ansie – ons sien uit daarna om julle te besoek. Voorspoed met julle groot taak en dankie vir die kosbare werk wat julle verrig. Mag die museum net van krag tot krag gaan!

Vir besoeke, skakel Jan van Blerk 082 770 5557,  Hannes van Heerden 082 651 2885, of Gerrit Fourie 082 387 5008.

Lees ook: Erfenisjuwele 10 – Die Nasionale Vrouemonument

Deel op

Nuutste artikels