Erfenisjuwele 5 – Paardeberg/Perdeberg Erfenisterrein en omgewing

09/07/2024
| Deur Alana Bailey
4-1

Alana Bailey

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Paardeberg, of Perdeberg soos dit tans bekendstaan, is ’n terrein van groot historiese belang, waar ’n toegewyde erfeniskomitee besondere moeite doen om dit vir besoekers aantreklik te maak en veral om te sorg dat dit vir die nageslag bewaar bly.

Frans du Toit, voorsitter van die Paardeberg Erfeniskomitee, vertel meer hieroor.

Alana:    Baie dankie vir die deelname aan ons reeks, Frans. Wat is die geskiedenis van die terrein?

Frans:    Dit is die area waar die Slag van Vendutiedrift (Vendusiedrif, soos dit tans uitgespreek word) tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het. Die monument wat hier opgerig is, staan op die plek waar generaal Piet Cronjé se laer destyds deur die Britse magte beleër is.

Generaal Cronjé se magte was op die defensief om ’n Britse inval in die Boererepubliek (die Oranje Vrystaat) te stuit. Na die Boere se oorwinning te Magersfontein, waar die Britse opmars wel ’n gevoelige nederlaag toegedien is, het Cronjé se krygsraad besluit om hul posisie te handhaaf, eerder as om te onttrek en ’n nuwe stelling in te neem. Dit het die Britse magte kans gegee om versterkings te aktiveer. Lord Frederick Roberts het generaal John French gestuur om Kimberley van die Boere te ontset en daarna om die Boeremagte met sy berede kavallerie voor te sny en teen die Modderrivier vas te keer. Gedurende die nag het die Boere daarin geslaag om in die maanlig weg te glip en daar is in ’n noordoostelike rigting stroomop teen die Modderrivier getrek. French het hulle te Vendusiedrift gestuit waar hulle die rivier moes oorsteek. Ongelukkig was die rivier in vloed. Cronjé het opdrag gegee dat die Boere moes uitspan en hulle ingrawe. Die Britse magte het hulle by Koedoesrant met ’n hewige bombardement bestook. Die trekosse en perde het gevlug. Die Boere was dus vasgepen en kon nie beweeg nie.

Generaal Christiaan de Wet het teen hierdie tyd die vasgekeerde Boeremagte te redde probeer snel van Jacobsdal in die suide af. Hy en sy manne het stelling by Oskoppies aan die oorkant van die rivier ingeneem om ’n moontlike reddingspoging vir generaal Cronjé se laer te probeer bewerk. Dit is ook hier waar Danie Theron gedurende die nag dwarsdeur Britse magte moes sluip om die boodskap oor te dra aan Cronjé se krygsraad dat De Wet vir Cronjé ’n pad sou oopskiet om te ontsnap. Die volgende nag is ’n kettingbrug geprakseer, maar dit was tevergeefs. Die honderd Britse kanonne het die brug aan flarde geskiet. Die ontsnappingspoging het misluk. Daarna het Cronjé se krygsraad gestem vir oorgawe, teen Cronjé se wil. Sowat vierduisend burgers is hier gevange geneem en na Ceylon gedeporteer.

Alana:    Waar is die terrein?

Frans:    Dit is ongeveer 120 kilometer vanaf Bloemfontein langs die N8 in die rigting van Kimberley. Neem die Perdeberg afrit op regterhand en hou aan met die grondpad totdat die spoorlyn oorgesteek is. Hiervandaan word daar regs gehou vir sowat 8 kilometer tot die slagveld op regterhand sigbaar is. Van Kimberley se kant af is dit omtrent 40 kilometer daarheen.

Alana:    Aan wie behoort die terrein?

Frans:    Die slagveld is in privaatbesit op die grond van Herman Pietersen, maar dit is toeganklik vir die publiek.

Alana:    Hoe is die gemeenskap daar betrokke?

Frans:    Die Perdeberg Boerevereniging het subkomitees, by name die Geloftefeeskomitee en die Erfeniskomitee, wat deels deur die Boerevereniging befonds word om die Geloftefees te Perdeberg Boerevereniging se saal aan te bied, asook die erfenisterreine in die onmiddellike omgewing op te knap en in stand te hou.

Die Erfeniskomitee het in 2022 die 1938-Groot Trek Herdenkingsmonument verskuif na die Boereverenigingterrein omdat die vorige posisie daarvan deur plakkers omring geraak het en dit nie meer veilig bewaar kon word nie.

Verlede jaar (2023) is ’n ambisieuse projek aangepak. ’n Besoekersvriendelike toeristesentrum is naamlik op die slagveld opgerig met volledige inligting en groot gepaste foto vergrotings in volkleur. AfriForum het bygedra tot hierdie projek.

Alana:    Waarom moet mense hier besoek aflê?

Frans:    Afgesien van die kleurryke geskiedenis van die terrein, is toegang maklik en kry besoekers volledige inligting oor die gebeure wat hier afgespeel het.

Verder is dit naby Magersfontein se slagveld en Kimberley, wat self ’n stad met ’n fassinerende geskiedenis en vele besienswaardighede is. Verder is daar die De Wetmuseum by Oskoppies. Dit is in die besit van die Van Niekerk familie.

Ander interessanthede in die omgewing sluit Perdeberg se 1938 Groot Trek Herdenkingsmonument in, asook verskeie monumente en grafte van beide Boer en Brit in die onmiddellike omgewing, die nuwe besoekersentrum te Vendusiedrif, die Poplargrovemonument en die plaashuis by Abrahamskraal waar Charles Oertel gewoon het. Die boek Punt van die Swaard deur dr. Louis Bothma beskryf die ware verhaal van hierdie skatryk familie se wel en weë. Tans is pogings onderweg om die huis te probeer red, maar fondse word benodig. Nog ’n besondere erfenisterrein hier naby is die Boschrandslagveld, maar dit is slegs op afspraak toeganklik, want dit is in privaat besit.

Alana:    Wat verras besoekers wanneer hulle die terrein besoek?

Frans:    Mense word gewoonlik mislei deur die naam Slag van Paardeberg. Hulle dink die slag het met die berg self te make. In werklikheid is die berg slegs ’n landmerk. Dit is vandag moeilik om te dink dat hier so ’n bloedige slag plaasgevind het as jy kyk na die welige besproeiingsboerderye en pekanneutboorde wat oral langs die rivier staan.

Besoekers is ook verras oor die goeie toestand waarin die terreine is. Dit is die gevolg daarvan dat dit deur die boere van die omgewing self onderhou en befonds word, wat ’n mens net weer laat besef: As ons nie self ons eie erfenis gaan bewaar nie, gaan niemand dit doen nie.

Alana:    Watter uitdagings beleef die komitee en wat is op julle wenslysie?

Frans:    Finansiering is sekerlik die grootse uitdaging, maar daarnaas ook betrokkenheid – dit is maar moeilik om mense betrokke te kry en in te trek as gevolg van die gejaagde bestaan van ons tyd. Daar is egter gelukkig steeds hulpvaardige mense en deur samewerking wil ons hierdie geskiedenis lewendig hou.

Ons wil graag die besoekersentrum verder uitbrei en verbeter. Ablusiegeriewe is onder meer nodig. Ons wil ook graag die Wesfront Vasbyt-staptog wat destyds met dr. Louis Bothma as gids in samewerking met AfriForum Jeug aangebied is, herinstel.

Alana:    Wat is julle raad vir mense wat oorweeg om by ’n erfenisterrein betrokke te raak?

Frans:    Dis maklik. Verbind jouself. En DOEN!

Alana:    Baie dankie vir julle uitnemende werk – AfriForum sien uit na samewerking in die toekoms.

Kontakbesonderhede:

Frans du Toit – 083 411 7228 of Retha Nel – 082 466 7886.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels