Fokus, meisie!

07/02/2022
| Deur Maxie Heppell
Victor-Freitas.-Unsplash

“Have not I commanded thee?

Be strong and of a good courage; be not afraid, neither be thou dismayed:

for the LORD thy God is with thee whithersoever thou goest.”

Joshua 1:9 KJV

Hierdie vers duik nou al maande lank in oom Charles Stanley se boodskappe op. Wanneer ek kilometers ver ry en wanneer ons op ’n Sondag YouTube. Ná ’n ruk raak dit half … eentonig.  Want ek het dit mos nou gehoor. En gehoor. En gehoor, Oom.

Ek sien elke keer met verwagting uit na ’n nuwe boodskap, ’n nuwe onthulling vir my lewe in besonder. En dan kry ek hierdie herhaling.

Maar toe raak dit eintlik lagwekkend. Want dit duik op in my YouVersion-leesplan, in Joyce Meyer se boodskap een oggend terwyl ek vroegdag staan en stryk, in Priscilla Shirer se ateljee-gesprek op my laaste trek noorde toe.

Met ’n doel, natuurlik.

Want kort daarna kon ek spartelend daaraan vasgryp toe die vyand die mat onder my emosies wil uittrek en vrees soos ’n vrot rot in my hart se solder kom stoor waar dit stadig sou wegteer en alles rondom dit besoedel.

Meer nog: Sommer hierdie week, kon ek dieselfde reddingsboei vir iemand anders uitgooi.

So leer ’n mens. So groei ’n mens.

Ek het geleer dat dit feitlik onmoontlik is om fondasies te gooi in die middel van ’n storm.

Wanneer die son op sy helderste skyn en die wolke bloot onskuldige lafenis bring, dan is dit die tyd vir kop laag hou en grou, bou en staanmaak.

En nes die Here die mense van Sagaria se tyd wou bemoedig, geld dieselfde hier ook.

Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie.

Want die storms kom.

Ek het nooit vreeslik uit die King James-vertaling gelees nie. Dit was nog altyd vir my veels te middeleeus-oordrewe. 

Tog het Oom Charles se herhaling hiervan by my vasgehaak.

“Have I not commanded thee?”

’n Mens kan mos sommer die outoriteit daarin hóór.

Ek glo dit het die mag gehad om Joshua se aandag soos ’n atmosferiese sweepslag terug te trek van die struikelblok in sy pad, na die God wat besig was om met hom te praat.

Sodat hy die liefde in God se oë kan sien wanneer hy hoor:

“Be strong and of a good courage; be not afraid, neither be thou dismayed:

for the LORD thy God is with thee whithersoever thou goest.”

Hy is die liefdevolle Vader.

Hy is die genadige Vader.

Maar ek vergeet soms Hy is die outoriteit in my lewe.

En soms (gereeld) het ek bietjie (baie) dissipline nodig.

Fokus, meisie, fokus!

Jou inspirasie vir die week: There’s nothing that our God can’t do.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels