Geloftefeeste wêreldwyd: Beroep op die diaspora

12/03/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Geloftefeeste wêreldwyd: Beroep op die diaspora

DitsemBlits as die samesteller van die Geloftefeeskalender stuur tans die volgende oproep uit aan almal wat die Gelofte van Bloedrivier gedenk om te help met die uitreik na Afrikanerdiaspora in die buiteland.

Soos bekend, word daar deur die jaarlikse Geloftefeeskalender gepoog om herdenking en uitlewing van die Gelofte van Bloedrivier deur ons Afrikaners te bevorder. In die 2025-uitgawe van die kalender is ’n totaal van 223 Geloftefeeste en -dienste in SA en in die buiteland gelys – sien by www.geloftefeeskalender.co.za.

Dit is algemene kennis hoeveel Suid-Afrikaners al die afgelope drie dekades na die buiteland geëmigreer het of in die buiteland werksaam is – na raming al bykans 2 miljoen mense. Ons dra kennis van ’n beperkte aantal van hulle wat, waar hulle hulle bevind, die Gelofte van Bloedrivier steeds op 16 Desember herdenk en daaroor juig ons. So is in die Geloftefeeskalender aangeteken van Geloftefeeste en -dienste in Namibië, Australië, Nieu-Zeeland en die VSA.

Ons wil egter graag in hierdie verband uitreik na meer Suid-Afrikaners in meer lande in die buiteland en uitvind of hulle nog op 16 Desember op een of ander wyse die Gelofte herdenk. Ons aanvaar dat van hulle ’n pad na ’n nuwe toekoms gekies het, maar telkens word gevind dat bloed dikker is as water en dat die hunkering na Suid-Afrika en ons mense steeds bestaan.

Die Gelofte van Bloedrivier en die Afrikaner is natuurlik ’n unieke saak in die wêreld in die sin dat God met ons Afrikanervoorvaders ’n verbond gesluit het wat uitdruklik ook van toepassing is op die nageslag. Derhalwe is die Gelofte heilig vir ons as Afrikaners – as ons dit eer en nakom, glo ons God sal vir ons as Afrikaners wonderbaarlik onderneem, ongeag hoe swaar die skaal teen ons voortbestaan gelaai mag wees.

Daarom, teen hierdie agtergrond, hiermee die oproep: Aangesien almal van ons kinders, kleinkinders, familie, vriende of kennisse in die buiteland het, kom ons kontak hulle en vra of hulle in die lande waar hulle woonagtig is, nog die Gelofte op 16 Desember herdenk. Indien dit nie die geval is nie, kom ons vra hulle om by ’n bereikbare Gelofteherdenking in te skakel of andersins een nuut te reël. Dit kan klein begin, selfs by ’n woning, of selfs indien afstand en fisiese omstandighede ’n probleem is, kan dit d.m.v. digitale kommunikasie bv. met Zoom, Teams, ens. geskied.

Waar herdenkings gereël word, by herhaling of nuut, kan die besonderhede in die volgende formaat voorsien word vir opname in die Geloftefeeskalender 2025, asb.:

  • Naam van die Geloftefees of -diens, indien enige (naam nie noodsaaklik nie)
  • Plek of terrein waar die fees/diens gehou word
  • Dorp of stad
  • Volgende basiese besonderhede: Presiese datum(s ) / program met tye – maks. 60 woorde / naam van feesspreker / naam van leraar wat Geloftediens lei
  • Naam van kontakpersoon met selnommer en e-posadres


Die inligting kan gestuur word aan Johann Dannhauser by gelofte@ditsem.net of +27 82 773 2150.

Vir uitreik na bekendes in die buiteland, kan hierdie oproep net so per e-pos of WhatsApp-groep aangestuur word.

Samewerking in hierdie uitreik sal opreg waardeer word.

Foto: Pexels

Deel op

Nuutste artikels