Jonger mense sal jou gou vertel hoedat ouer mense se Public Displays of Affection hulle naar maak. Maar ai – vandag het ‘n ek sommer ekstra spesiaal gevoel…
Dit was eintlik ‘n vreemde naweek hierdie.
Vrydag mid-oggend val ek in die pad vir die vier ure se ry Yorkshire toe vir ‘n perdespring geleentheid. Vroeg Saterdagoggend word dit afgelas – die erge wind en sneeu maak dit net té onveilig vir beide ruiter en perd.
Laat ek maar erken: Ek was effens verlig om nie self Storm Arwen aan te durf nie! So trek ek toe maar laer in die hotel en dank die Vader vir elektrisiteit en hitte. Ek sou eers later uitvind dat meer as 200,000 mense vir meer as 24 uur sonder krag was.
Teen Sondagoggend 11h00 se kant is die ys darem so gesmelt dat ek dit terug huistoe waag. Na ‘n glibberige kotteljons in die parkeerarea voor die restaurant met ontbyt, is my nerwe op aandag vir hierdie rit.
Soos ‘n verantwoordelike eerste-keer-in-die-sneeu-ryer, gaan lees ek eers wat sê die kenners. Nie eers besef dit is ‘n reël nie, maar dit maak sin: Voordat jy wegtrek, moet jy duidelik deur al die motor se vensters kan sien. Gelukkig net hierdie week ‘n splinternuwe ysskraper in my kar gegooi, want Astra lyk meer wit as silwer vandag.
Hulle beveel ook aan dat jy die sneeu en ys van jou kar se dak af krap voor jy wegtrek, aangesien dit in die ry oor die kar se windskerm kan stort en so jou sig belemmer.
So gemaak en daar gaat ek.
Versigtig, met my kar se sneeuvlokkie knoppie ingedruk sodat dit in ‘n hoër rat kan wegtrek, bestyg ek die snelweg. My kleine Vauxhall (Opel) Astra ‘n puisie tussen die sneeuwyse 4×4 waens op die pad.
Ek het alles gedoen wat ek moes.
Ek het gelees en geleer hoe om hierdie situasie te hanteer.
Ek het gedoen wat die kenners beveel en aanbeveel.
Nou kon ek maar net die Here vertrou.
En die Here druk my die eerste keer.
Want die flitsborde langs die pad het ‘n nuwe boodskap: SALT DISTRIBUTION.
“Swart ys” noem hulle dit hier. Dit is bitter gevaarlik, want jy kan dit nie regtig op die paaie sien nie, maar as jy dit tref, is dit maklik om beheer te verloor.
Sout verlaag egter die vriestemperatuur van water en verhoed so dat ys op die pad vorm. Hoe meer sout, hoe kouer moet dit wees voordat die sneeu sal vries.
En daar haal ek sommer makliker asem.
Totdat so ‘n swart Audi Q4 met ‘n spoed met my verbykom, met sweerlikwaar ‘n blok sneeu-ys van ten minste 20cm wat sy hele dak bedek. En soos wat hy ry, val daar stuk-stuk van hierdie ys af, reg teen ander karre se kante, of voorruite.
Behalwe dat dit heel onverantwoordelik was, na my mening, het ek ook onmiddellik gedink hoe swaar dit nie vir daardie kar moes wees nie.
Hoeveel keer besef ons nie dat ons minder goeie keuses ‘n invloed op ander se lewens het nie.
Hoe swaar dra ons nie soms aan die goed wat nie hoort nie.
Net toe duik daar ‘n brug voor ons op en die Here druk my weer.
Want dis die heel eerste keer dat ek ‘n yslike sneeuskraper-sout-strooier vragmotor sien, van oos na wes oor die brug nes ons nader kom.
Die Here het my nie maar net op hierdie pad neergesit en nou staan Hy terug om te kyk wanneer ek crash nie.
Hy was klaar daar waar ek moes ry, Hy het reeds die struikel-ys weggestoot, die pad veiliger gemaak met Sy sout.
Hier, vir my en my Astra, maar ook elke dag, waar my voete my ookal heen vat.
Toe nóg ‘n flitsbord vertel van SALT DISTRIBUTION dink ek hoe die Here met my ook besig is hierdie jaar.
Sout om die goggas uit te wis en die wonde te was.
Gesondmaak dinge, al knyp dit soms.
En net so voor ons Oxfordshire binnegaan, kry ek nóg ‘n yslike sneeuskraper-sout-strooier vragmotor en terwyl ek hom verbyvat gooi ek my hazards om dankie te sê…
Want nou gaan ons in dieselfde rigting.
Ja, alles is wel.
Jesus min my, salig lot…
“Die Here is goed.
In tye van nood
is Hy ’n veilige vesting.
Hy beskerm elke mens
wat op Hom vertrou.”
Nahum 1:7 NLV
Jou inspirasie vir die week: Falling in love