Internasionale Moedertaaldag 2026 – Vier Afrikaans!

17/02/2026
| Deur Alana Bailey
Internasionale Moedertaaldag 2026 – Vier Afrikaans!

Deur Alana Bailey

Internasionale Moedertaaldag is in 1999 deur UNESCO, die agentskap van die Verenigde Nasies wat op internasionale samewerking deur middel van onderwys, wetenskap, kultuur en kommunikasie fokus, ingestel. Die doel van hierdie dag is om bewustheid oor die waarde van moedertaal te skep, asook taalkundige en kulturele diversiteit te bevorder en beskerm. Daar is op hierdie datum besluit om diegene te herdenk wat op 21 Februarie 1952 tydens demonstrasies hul lewens opgeoffer het in Bangladesj om onderrig in hul taal te vra.

In die vorige eeu is taalregte dikwels as ’n luukse beskou, maar deesdae is daar wêreldwyd erkenning vir die rol wat tale speel om ontwikkeling, interkulturele samewerking en gehalte-onderwys vir almal te bevorder. Onderwys en veral moedertaalonderrig is die sleutel tot sukses vir die lede van enige gemeenskap.

Dit is ’n mite dat moedertaalonderrig en die klem op moedertaal die sprekers tot eentaligheid vonnis. Een van die belangrikste doelstellings van Internasionale Moedertaaldag is om veeltaligheid aan te moedig. Omdat iemand wat moedertaalonderrig kry of gehad het, makliker meer tale vlot aanleer, maak dit sin om hierdie doelstelling by die fokus van die dag in te sluit. Iemand wat die voordeel van moedertaalonderrig ken, verstaan die waarde van ’n taal vir haar sprekers en sal daarom ook meer verdraagsaam teenoor lede van ander taalgemeenskappe wees. Een van die redes daarvoor is dat moedertaalonderrig ’n gevoel van aanvaarding en veiligheid by leerders skep – iets wat die desperaatheid van die studente in Bangladesj duidelik demonstreer. Die idee dat hulle nie in hul moedertaal kon studeer nie, het hulle só desperaat gemaak dat hulle bereid was om te sterf in die soeke daarna.

Omdat Afrikaans vir soveel dekades regeringsbeskerming geniet het, het die Afrikaanse gemeenskap ’n valse gevoel van sekuriteit ontwikkel. Dit word dikwels gehoor wanneer mense verklaar dat daar geen bedreiging vir die taal is nie, want hulle gaan mos altyd in Afrikaans dink, praat, sing, droom en bid. Wanneer hulle dan op een van die vele terreine beland waar Afrikaans se vastrapplek die afgelope dertig jaar uitgewis is, skrik hulle skielik wakker en besef dit is nie so maklik nie. Afrikaans is nie meer die taal van hofrekord nie, dit word nie eens in jou Suid-Afrikaanse paspoort gebruik nie en die kans dat enigeen ’n volledige graadkursus aan ’n openbare universiteit in die land in Afrikaans gaan voltooi, is feitlik nul.

Ons moet Internasionale Moedertaaldag dus met ’n gevoel van dringendheid vier, want nie alleen is ons taal onder die druk van politieke ideoloë nie, maar die oorweldigende aanbod van Engelse media en tegnologiese ontwikkelinge speel met ons koppe en laat ons Afrikaanse woordeskat en denkvermoë soms soos mis voor die son wegsmelt. Daar word nie verniet gespot dat Suid-Afrika eintlik net een amptelike taal, naamlik “Vrot Engels” het nie.

Internasionale Moedertaaldag het jaarliks ’n bepaalde tema en in 2026 is dit “Die gebruik van tegnologie vir veeltalige onderrig: uitdagings en geleenthede”. Tegnologie het die moontlikheid geskep om nuwe lewe in tale te blaas.

Wallies is ’n voorbeeld hiervan. Die jeug in Wallis het begin om dit vir sosiale mediaplasings te gebruik, moontlik omdat eentalige Engelssprekende maats dit nie kon verstaan nie. Dit het van die taal iets aanloklik en eksklusief gemaak wat hulle aangemoedig het om dit beter te gebruik.

Nog ’n voorbeeld is stromingsdienste soos Netflix wat veeltalige reekse en rolprente vervaardig. Engelse onderskrifte maak aanbiedings in kleiner tale (soos Afrikaans) vir ’n wyer gehoor toeganklik, maar die moedertaalsprekers kan ook hulle taal gekoppel aan gehalte produkte ervaar, trots wees daarop en die sprekers van ander tale se reaksie daarop waarneem. Dit slaan die mite dat ’n taal sterwend en onbruikbaar is, die nek in.

Helaas het 40% van leerders wêreldwyd steeds nie toegang tot moedertaalonderrig nie. Dit sluit veral migrante en die sprekers van minderheidstale in. Op 21 Februarie sal vieringe dus ook op billike toegang tot onderwys en lewenslange leergeleenthede vir alle mense fokus. Hierdie syfer herinner ons opnuut aan die voorreg wat ons geniet om toegang tot uitnemende onderrig in Afrikaans te hê.

Om ons moedertaal te beskerm en lewenskragtig uit te bou, hoef ons genadiglik nie ons lewens op die spel te plaas nie. Ons moet aan die een kant sterk standpunt inneem teen bedreiginge vir onderrig daarin, byvoorbeeld die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, beter bekend as die Bela-wet. Al is Afrikaans ook nie meer die taal van hofrekords nie, beteken dit nie ons hoef regsgeldige dokumente soos kontrakte, testamente of ouditverslae in Engels te aanvaar nie. Ons moet Afrikaanse diensverskaffers ondersteun en hierdie dokumente in Afrikaans opstel of vra.

Daar is selfs nóg makliker, maar ewe belangrike maniere om die toekoms van ons moedertaal te verseker. Ons koopkrag is een daarvan – deur ’n Afrikaanse boek of tydskrif te koop, bou jy aan die Afrikaanse skryf-, joernalistiek- en uitgewersbedryf. Aanlyn nuus- en stromingsdienste speel ’n ewe belangrike rol en vra ons ondersteuning, gebruik én waar moontlik, finansiële steun. Dit geld ook vir die kunste – van Afrikaanse teater tot swaar of ligte musiek in ons taal.

Ten slotte, ons moet nie net op Internasionale Moedertaaldag, of ons eie jaarlikse taaldae (8 Mei en 14 Augustus) skielik ons taal vier nie. Dit moet ’n natuurlike proses wees wat heeljaar plaasvind – die heerlike soeke na raaksê woorde in Afrikaans, of idiome wat tonekrullekker uitdruk hoe ons voel. Moedertaal en veeltaligheid kan alleen voortbestaan as ons respek vir ons eie taal en vir die van ander het. Dít is die ingesteldheid wat UNESCO met die instelling van die dag beoog het en waarvoor die studente in 1952 hul lewens opgeoffer het. Laat ons die fakkel by hulle oorneem en met trots die toekoms daarmee instap.

Deel op

Nuutste artikels