Kersfees in Nieu-Seeland: ’n Gesin se eie ritme, herinneringe en nuwe tradisies
Deur Sorina Lloyd
Kersfees oor grense bring altyd ’n mengsel van verlange en vreugde saam. Party tradisies hou mens vas, ander verander spontaan met tyd – veral wanneer kinders grootword, of wanneer ’n gesin ’n nuwe land én nuwe ritme leer ken. Vir Sorina Lloyd en haar gesin in Nieu-Seeland het Kersfees ’n rustige, meer intieme viering geword, vol klein gewoontes, simboliek en mooi herinneringe wat elke jaar saam reis.
Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies?
Ons kinders is nie meer klein nie, maar tot so twee jaar gelede het ons nog elke jaar Kersvaderspore met meel gemaak, van die voordeur tot by die boom. Die kinders het dit verskriklik geniet.
Nou, met net ons gesin hier in Nieu-Seeland, het ons ’n nuwe tradisie begin. Elke Kersoggend pak ons ’n piekniekmandjie en ry nog vóór sonsopkoms uit. Omdat dit hier in die somer so laat donker word, beteken dit ons staan BAIE vroeg op! Maar dit is die moeite werd – ons sit saam, kyk hoe die son oor die see of die heuwels opkom, en spandeer dan die res van die dag net rustig saam.
Ons het ook ’n “mascot” wat altyd saamgaan: ’n sagte speelgoeddonkie met die naam Doggie. Hy word oral ingesluit in ons fotosessies, dit het sommer ’n lekker gesinsding geword.
Geniet julle steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer julle nuwe disse?
Ons Kersdagkos is eenvoudig en gemaklik: ’n piekniek vol broodjies, frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir poeding maak ons altyd Ambrosia: ’n mengsel van styfgeklitste room, jogurt en klein malvalekkers. Ons kinders is mal daaroor. Mens kan ook sjokoladestukkies, neute of vrugte bysit vir ekstra geur.
Is daar mooi Kersliggies of ’n plaaslike Kersfeesgier?
Daar is jaarliks pragtig versierde huise in ons dorp. Die stadsraad stel selfs ’n lys saam van huise wat mense kan besoek om liggies te gaan kyk. Dit het amper self ’n tradisie geword.
Vier julle Kersfees steeds op die ou manier, of het julle nuwe maniere aangeneem?
Hier in Nieu-Seeland is daar nie Kersdag-kerkdienste soos waaraan ons gewoond was nie. Daarom neem ons tyd as gesin om saam te praat oor die betekenis van Kersfees.
Ons het ook ’n nuwe geskenktradisie. Daar is baie “op shops” – winkels waar mense klere, meubels en ander items skenk. Die winkels verkoop dit teen lae pryse en die geld gaan aan liefdadigheid. Elke gesinslid kry ’n klein bedrag geld om vir iemand anders ’n geskenkie te koop. Dit is wonderlik om te sien hoe die kinders met soveel liefde kies.
Hoe hou julle kontak met familie wat ver is?
Ons probeer altyd video-oproepe maak, veral op Kersdag, sodat ons kan gesels oor wat ons gedoen het en die geskenke wat die kinders ontvang het.
Vertel ’n paar staaltjies van vorige Kersfeeste
Een van ons kosbaarste tradisies is om ons tweede seun se verjaarsdag (3 Desember) te vier deur die Kersboom op te sit. Hy is baie jare gelede oorlede, en dit is ons spesiale manier om sy lewe te herdenk, ’n sagte, mooi ritueel wat ons elke jaar saam dra.
Ons was ook al oor Kersfees op ’n toer deur die Suid-Eiland, met min plek vir geskenke. Elke kind het net een klein pakkie oopgemaak, saam met ’n brief van Kersvader en ’n foto van hoe dit lyk onder die boom by die huis. Toe ons terugkom, was hulle só bly om weer Kersfees “regtig” te kan hou. Daardie herinnering bly ’n gunsteling.
Sorina en haar gesin se Kersfees wys hoe tradisies saam met jou groei, verander en nuwe vorm aanneem. Of dit nou ’n sonsopkomspiekniek is, ’n sagte speelgoeddonkie wat saam poseer, of die samesyn van video-oproepe met geliefdes in Suid-Afrika, Kersfees bly die tyd van jaar waar liefde, herinneringe en samehorigheid die helderste skyn.
Deel jou Kersfees oor grense!
Ons hoor graag jou verhaal. Het jy ’n unieke tradisie, ’n kosbare herinnering of ’n nuwe manier waarop jy Kersfees in jou nuwe land vier? Vertel ons daarvan!
Deel jou foto’s, stuur jou storie of deel net ’n kort ervaring.
Lees ook: Hallo Kersfees in Kanada























