Leemte in ons harte

27/02/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
327320786_701793338348895_9040591036674027394_n

Deur Nicola Phyfer

Ek en my man is beide van die pragtige Weskus, St. Helenabaai en Paternoster. Ons werkslewens het egter in Johannesburg afgeskop, ek as onderwyser en my man het sy klerkskap voltooi en het as geoktrooieerde rekenmeester kwalifiseer. Ook maar goed ons het ons Engels opgeskerp vir die oorsese lewe.

In 2016 het ons besluit om óf Kaap toe te trek óf ons moes die wêreld verken en oorsee gaan werk. My man het in April begin voelers uitsteek en ’n werksgeleentheid by ’n rekenkundige firma in Australië gekry. Augustus het ons ’n maand lank afgevat om tyd saam met ons familie deur te bring en op 1 September het ons met ons voete op die vreemde vasteland geland. Die groet van die familie was nie hartseer nie, want ons het uitgesien na die nuwe avontuur wat slegs twee jaar sou duur – dis net ‘n oogwink, dan sou ons weer terug wees in ons tuisland. So is dit nou al meer as ses jaar later, ons is gevestig in Sydney, het Australiese burgerskap en ’n pragtige, Aussie-gebore dogtertjie vir wie ek ’n tuisblymamma is.

Hier is baie werksgeleenthede en baie opsies vir deeltydse werk wat studies vergemaklik. Ek self het ’n diploma in vroeë kinderontwikkeling en sorg studeer terwyl ek voltyds by ’n voorskoolse dagsorg gewerk het. Hulle het die studiekostes gedek, ek het studietyd tydens werksure gehad en dus ook my prakties by hulle voltooi.

Australië is ’n pragtige, skoon en veilige land. Ja, elke land het sy areas waar jy steeds waaksaam moet wees, maar ek het saans sonder kommer, vrou alleen, huis toe gestap. Ons woon tans in ’n lieflike voorstad van Sydney. Ons het geen diefwering, alarms of hoë heinings nie en steeds voel ons veiliger as wat ons agter al die sekuriteit in Suid-Afrika gevoel het. Hier is baie parke, dis mooi groen en hier’s baie aktiwiteite om in die buitelug te geniet. Vir die eerste drie jaar het ons nie ‘n motor nodig gehad nie, want publieke vervoer werk goed en is maklik om te gebruik. In die ses jaar het ons geen kragonderbrekings of waterbeperkings gehad nie. Dienslewering is vinnig en effektief – dit voel of als werk – selfs die verkeersirkels word korrek gebruik! Medies is ook meestal verniet of ’n gedeelte word gedek. Jy kan privaat medies ook kry om ander kostes te dek. Lewenskoste is ongelukkig hoog, maar tog voel ek ons het ’n wonderlike leefstyl.

Ons het ná ons twee jaar lange avontuur besluit om aan te bly in Australië en het vir die Aussie-paspoort begin mik. Die verlange na familie, ons land en kultuur het egter meer geraak en dit het moeiliker geraak om te groet ná vakansies.

Covid-19 het uitgebreek en ons land was in een van die strengste inperkings gedompel. Ons is gelukkig dat my man tuis kon werk en my werkstye was net aangepas. Ons het wel die grootste seer beleef deur my pa te verloor. Ons hande was afgekap en ons kon nie saam met ons familie treur nie en ek kon nie ordentlik afskeid neem nie. Aan die einde van 2020 het ons aansoek gedoen vir toestemming sodat ons vir ons familie kon gaan kuier. Dit was toegestaan en ons harte het bietjie voller gevoel. Terug in Sydney het ons op die bus geklim wat ons na ons kwarantynhotel geneem het. Dis toe dat ek die boodskap van my ma gekry het dat sy pas met borskanker gediagnoseer is. Dit was weer soos ’n mes in my hart. Ons hande was wéér afgekap en ons kon nie by haar wees vir ondersteuning tydens haar behandelings nie. In Desember 2021 is ons dogtertjie gebore en dus kon ons ook nie my skoonsuster se troue twee weke voor die tyd bywoon nie.

Suid-Afrika leer vir ’n mens geduld, uithouvermoë, samehorigheid en empatie.

Ons ervaar ook altyd vriendelikheid en behulpsaamheid. Ek voel baie Australiërs aanvaar daaglikse behoeftes as vanselfsprekend en besef nie dat dit luukshede vir ander is nie. Ná ses jaar voel ons nog steeds nie patrioties teenoor Australië nie, maar as ons Suid-Afrikaanse sport kyk, bars ons van trots.

As iemand vir my sal vra of die gras regtig groener is aan die anderkant sal my kort antwoord wees, “ja”. Ons staan egter met een voet in Australië en die ander in Suid-Afrika en wonder of die leemtes in ons harte die moeite werd is om te bly. Die fisieke afwesigheid van familie is swaar en die verlange en skuldgevoelens vreet ons lewendig van binne op. Is ons dan wérklik gelukkig? Ons het goeie Suid-Afrikaanse vriende hier, maar ons hunker na die samesyn van ons families. Ons wil tog hê ons kind moet die bederf van haar oumas, oupa, tannies, ooms, niggies en neef ervaar, asook blootstelling kry aan die verskeie kleurvolle kulture wat Suid-Afrika bied.

Ons wil beskikbaar wees tydens lief en leed, vinnig oppak en vir die naweek by die familie gaan kuier. Dis tog wat ons lewens, ons harte vul – naweke se saam braai, koffie op die stoep, sinnelose gesprekke en oneindige lag …

Lees ook: Van Suid-Afrika na Swede en amper terug

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Ons nooi jou uit om jou blog en foto’s vir ons te stuur by wereldwyd@afriforum.co.za. Ons wil graag jou storie hoor.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels