Deur Alana Bailey
Onder migrante doen vele gerugte die rondte oor hoe migrasie jou gesondheid raak, byvoorbeeld dat iemand wat van Afrika na Europa of andersom verhuis, in die tweede winterseisoen na die migrasie baie erge verkoue of griep gaan opdoen. Is dit ’n feit, of fiksie?
Omdat dit deesdae so maklik is om tussen lande te reis en soveel mense uit alle omgewings dit daagliks doen, het die gesondheidsrisikos vir mense wat migreer, toegeneem.
Dit is beslis ’n feit dat enige verhuisingsproses baie spanning veroorsaak – te meer so wanneer daar van een land na ’n ander verhuis word. Spanning eis sy tol van ’n mens se immuunstelsel en daarom is dit wys om jou immuniteit te versterk vóór en ná die migrasieproses. Dit kan gedoen word deur genoeg te slaap, ’n gesonde dieet te volg wat veral sorg dat jou liggaam genoeg aminosure inneem, voldoende oefening te kry, alkohol matig te gebruik, maar genoeg vloeistof in te neem, en eerder glad nie te rook nie.
Deel van die migrasieproses is natuurlik om seker te maak wat die gesondheidsvereistes van jou bestemmingsland is – moet jy spesifieke inentings kry, watter inligting word verlang oor bestaande gesondheidstoestande en watter mediese dienste of dekking sal vir jou toeganklik wees pas na aankoms in die ander land?
Dit is selfs goed om van endemiese siektes in die bestemmingsland te weet, byvoorbeeld spesifieke soorte malaria in tropiese lande, sodat ’n mens na aankoms op voorkomingsmaatreëls en simptome bedag kan wees.
Migrasie kan mense se kwesbaarheid vir siektes verhoog. Dit is veral van toepassing op diegene wat op soek is na lae-geskoolde werk of vlug weens rampe of konflik, maar dit kan ook geld vir meer welvarende migrante.
Afgesien van persoonlike faktore soos ouderdom, geslag, sosio-ekonomiese status, genetiese faktore en bestaande gesondheidstoestande, moet risiko’s in elke fase van die migrasieproses in ag geneem word. Vier fases word onderskei, naamlik:
- Die voormigrasiefase: Hier moet gekyk word na sake wat jou gesondheid en toegang tot dienste sal raak soos ’n vergelyking tussen die epidemiologiese profiel van jou land van herkoms en die bestemming, asook of jy taalkundig in die nuwe land oor die weg sal kom as jy oor ’n gesondheidsprobleem moet kommunikeer.
- Die bewegingsfase: Wat hier van belang is, is hoe lank jou reis sal duur, of jy van veilige vervoer sal gebruik maak, die beskikbaarheid van gesondheidsorg onderweg en of jy aan enige hoërisikogroep of ander gevare soos konflikgebiede blootgestel sal word tydens die reis.
- Aankoms en inskakeling: Taal, kultuur, die sosio-ekonomiese omgewing waarin jy tuiskom en die toeganklikheid van mediese sorg vir iemand met jou verblyfstatus speel alles ’n rol.
- Moontlike terugkeer na jou land van herkoms: Toestande wat sedert jou emigrasie verander het, die tydperk wat jy weg was, die sosio-ekonomiese omgewing waarin jy tuiskom en die toeganklikheid van mediese sorg vir iemand met jou verblyfstatus speel weer ’n rol.
Die spanning wat die migrasieproses inhou, raak nie alleen die liggaamlike welstand van mense nie, maar kan selfs hul geestelike gesondheid negatief raak. Migrante moet fyn na hul eie en geliefdes se gemoedstoestand en gedrag oplet om vroeë waarskuwingstekens in dié verband te identifiseer.
Of die tweede-winter-siekte-gerug waar is, kon nie vasgestel word nie. Mense wat self geëmigreer het, sal dit maar aan eie ervaring moet meet. Dit help egter om te weet dat migrasie wel jou gesondheid gaan raak en om alles moontlik te doen om die impak daarvan so gering as moontlik te hou.
Deel op
Nuutste artikels